Die 10de Algemene Diakensvergadering (ADV) en die Ubi Caritas-simposium het van 20 tot 22 Maart by Gemeente Noordwestelike Pretoria plaasgevind. Eie aan die diakens is die geleentheid Donderdagaand op ’n unieke manier met ’n toneelstuk geopen wat die gehoor van toeka se dae tot vandag geneem het. Baie dinge het verander – die kleredrag, die formaat van die erediens en dit wat ons gesing het, maar die verkondiging van God se verlossingsboodskap het konstant gebly. So ook ons opdrag soos ons dit in Matteus 28: 19-20 vind: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.
Vrydag is die simposiumgangers in twee groepe verdeel wat onderskeidelik die opdrag by vier stasies prakties uitgebeeld het. Deurentyd het ons saam gedink oor hoe ons hierdie opdrag op die diakonaat en die pad vorentoe van toepassing kan maak.
Tydens Saterdag se vergadering is tyd afgestaan aan die uitgebreide voorstel oor die funksionering van die diakonaat wat aan die 74ste Algemene Kerkvergadering voorgelê gaan word as uitvoering van Besluit 33 van die 73ste AKV.
Baie dankie aan veral die skrywer van die toneelstuk, die akteurs, die gasheergemeente se leraar, orrelis, klankoperateur en NHSV-lede, die groepleiers en natuurlik elkeen wat moeite gedoen het en onkostes aangegaan het om hierdie besonderse geleentheid by te woon. Met vasberadenheid gaan die barmhartigheidsdiens van die Kerk doelgerig voort en die diensbaarheid van almal betrokke om van hierdie geleentheid ’n sukses te maak, getuig daarvan.
(Diak Wilna Gates is die voorsitter van die Kommissie van die ADV)







