Die eerste woord in die Griekse teks van Openbaring is apokalypsis – ’n term wat óf as apokalips óf as openbaring vertaal kan word. In moderne gebruik roep apokalips gewoonlik beelde op van katastrofiese vernietiging, die einde van die wêreld, of kosmiese chaos. Daarom word Openbaring dikwels beskou as ’n onverstaanbare en geheimsinnige boek vol vreemde simbole en onheilspellende voorspellings. Maar dit is nie hoe dit oorspronklik ontvang is nie.

Aanvanklik was Openbaring gerig aan sewe Christen-gemeenskappe in die Romeinse provinsie Asië (Op 1: 4 en 11). Hierdie was werklike gemeenskappe in werklike stede, en hulle saam met Johannes van Patmos, die outeur van Openbaring (Op 1: 4), was deurweek met die norme en waardes van hul kulturele en sosiale wêreld. Johannes het nie nodig gehad om die waardes of sosiale kodes waarna hy verwys het, of wat agter die teks van Openbaring lê, te verduidelik nie. Dit sou algemene kennis vir hierdie gemeentes gewees het. Hulle kon tussen die reëls lees en het dadelik verstaan wat Johannes beoog het deur die boodskap van Openbaring. Dit wil sê vir hulle sou die teks nie geheimsinnig of onverstaanbaar gewees het nie? Hulle sou dit kon begryp het.

Vir ons vandag voel Openbaring egter dikwels vreemd. Dit praat vanuit ’n wêreld wat in baie opsigte onbekend is. Ons gebruik dalk soortgelyke woorde – openbaring, apokalips, eer, skaamte, laster – maar daardie woorde dra nie altyd dieselfde gewig of betekenis as wat dit in die antieke wêreld gehad het nie.

In die Romeinse Ryk van die eerste eeu was eer en skaamte sentraal tot ’n persoon se identiteit en sosiale status. Eer was nie net ’n private deug nie – dit was ’n openbare beoordeling. Jou waarde is gemeet aan die reputasie wat jy in die oë van jou groep of gemeenskap gehad het. Jy kon eenvoudig nie jouself eerbaar verklaar nie; die groep moes dit bevestig. As die groep jou aanspraak tot eer verwerp het, was jy nie eerbaar nie – jy is verneder, en dalk selfs as ’n dwaas bestempel (Spr 3: 35; 10: 1; 13: 16; Pred 10: 3).

Eer het gefunksioneer soos ’n beperkte hulpbron. Soos materiële rykdom vandag was daar net ’n sekere hoeveelheid eer om te verkry. In hierdie nul-somsisteem, moes ‘n persoon eer verloor indien ‘n ander persoon of ‘n groep dit verkry het. Hierdie dinamiek het gelei tot voortdurende uitdagings – pogings om eer te verkry of te verdedig. Ons sien dit dikwels in die evangelies waar Jesus se teenstanders Hom strikvrae vra om sy openbare reputasie aan te tas (byvoorbeeld Matt 21-22). Jesus is reeds bekend as iemand met eer (Mark 8: 27-28), selfs deur sy naaste volgelinge as die Messias erken (Mark 8: 29). Die uitdagings is bedoel om te toets of sy eer eg is.

Om so ’n uitdaging te verloor, het werklike gevolge gehad. Sonder eer is ’n persoon gesien as ’n buitestander – uitgesluit van die groep en in sommige opsigte van deelname aan die samelewing, insluitend ekonomiese strukture. In hierdie konteks het armoede nie net op ’n gebrek aan geld gedui nie, maar ook op ’n verlies aan eer.

Dit is presies die situasie waarin die Christengemeenskap in Smirna hulself bevind het (Op 2: 8-11). Hulle ly onder verdrukking en word as arm beskryf en gelaster deur ’n groep wat Johannes noem dié wat van hulself sê dat hulle Judeërs is, maar dit nie is nie (Op 2: 9). Die Griekse woord blasphēmia (hier vertaal as laster) dui op meer as net beledigings – dit is ’n openbare uitdaging aan die gemeenskap se eer en legitimiteit. Hul reputasie in Smirna is geskaad; hulle word gesien as mense sonder status, oneerbaar, as arm.

Maar dit is hier waar die alternatiewe interpretasie van die werklikheid en die norme en waardes so belangrik is. Deur Johannes se openbaring bied Jesus ’n radikaal ander perspektief. Jesus sê vir die gemeenskap: Julle is ryk (Op 2: 9). Hulle mag dalk in die oë van die samelewing verneder wees, maar in God se oë is hulle geëer. Hulle word die kroon van die lewe belowe – ’n term wat in die Romeinse kultuur verwys het na ’n krans of kroon wat toegeken is aan mense wat deur hul stede of groep geëer is. Dit was ’n simbool van openbare aansien.

Met ander woorde, Openbaring is nie net ’n teks wat geïnterpreteer moet word nie – dit interpreteer self. Dit herdefinieer die werklikheid vir die gehoor. Waar die samelewing oneer sien, sien Christus eer. Waar die samelewing armoede raaksien (oneer), sien God rykdom (eer). Openbaring bied ’n teenverhaal – een wat die waardigheid en status bevestig van gemeenskappe wat deur heersende kulturele waardes gemarginaliseer was.

(Dr Robert van Niekerk is lektor in die Departement Nuwe Testament en Verwante Literatuur aan die Universiteit van Pretoria)