Baie lidmate se kennis van die Ou Testament is beperk tot die psalms en enkele verhale wat ons as kinders uit die Kinderbybel leer ken. Ons is geneig om groot dele van die Ou Testament af te skeep in ons persoonlike bestudering van die Bybel en selfs in ons prediking en Bybelstudies in gemeentes. Miskien is dit omdat sekere literatuur uit die Ou Testament moeilik, oorweldigend en ontoeganklik voorkom. Nuwer benaderings tot die wyse waarop Ou Testamentiese tekste bestudeer word, kan egter ’n geleentheid bied om die inhoud en boodskap van die Ou Testament meer toeganklik vir lidmate en gemeentes te maak. Boonop sal ons dan ook ontdek hoedat die ryk teologiese tradisie van die Ou Testament op relevante wyse kan spreek tot die uitdagings en omstandighede van ons wêreld vandag.      

Die eerste vraag op die weg na die toeganklike lees van die Ou Testament, is sekerlik die vraag na hoekom ons die Ou Testament lees? Onderliggend aan hierdie vraag is ons verstaan van die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament. In die verhouding Ou tot Nuwe Testament, kan die term Ou ons mislei. Ons verstaan soms verkeerdelik dat die Ou Testament ’n liniêre lees in die rigting van die Nuwe Testament veronderstel en dat die Nuwe Testament die Ou Testament vervang. Vanuit hierdie perspektief word die Ou Testament verouderd en irrelevant. Tog, wanneer ons erns maak met die lees van die Ou Testamentiese tekste, blyk dit dat die teenoorgestelde waar is. Die Ou in Ou Testament is eerder ’n konfessionele term wat die intieme konneksie tussen die twee dele van die Bybel beklemtoon. Die Ou Testament getuig van die nabye verhouding tussen die geloof van Israel en die geloof van die vroeë kerk. Volgens Christelike verstaan kan die Christelike geloof en die Christelike lees van die Nuwe Testament nie sonder die Ou Testament onderneem word nie. Die Ou Testament verskaf die geloofskategorieë en interpretasiebeginsels waarbinne die Nuwe Testament sinvol gelees en geïnterpreteer kan word.  

So ’n beskouing van die Ou Testament as die sleutel tot die interpretasie van die Nuwe Testament, beantwoord nie net die vraag na hoekom ons die Ou Testament lees nie, maar begin ook reeds om die tweede vraag wat hier ter sprake kom, te beantwoord. Dit is die vraag na hoe ons dan die Ou Testament lees? Daar is ’n magdom metodes om uit te kies wanneer Ou Testamentiese tekste bestudeer word. Elke metode lewer ’n unieke bydrae tot ’n veelvlakkige verstaan van die tekste van die Ou Testament. Die verskillende metodes kan nie hier bespreek word nie, maar wat egter van meer belang is vir die toeganklike lees van die Ou Testament in lidmate se lewens en op gemeentevlak is om die waarde en relevansie van die normatiewe geloofsaansprake wat die Ou Testament maak, raak te sien.

Vir die Ou Testamentiese teoloog Walter Brueggemann lê die waarde van die Ou Testament daarin dat die tekste steeds getuig van God se heilige teenwoordigheid in ’n wêreld wat toenemend profaan en sekulêr word. Die groot geloofsaansprake van die Ou Testament oor God en God se verhouding met die mens bied ’n alternatief tot die dominante narratief van ons tyd. Die teologie van die Ou Testament is ’n radikale geloofsbelydenis wat lynreg indruis teen die kultuur van ons tyd. Hier is maar enkele voorbeelde van teologiese aspekte uit die Ou Testament wat vir ons ’n ander geloofsperspektief kan gee op die tyd waarin ons leef:

  • Die belydenis dat God ’n Heilige God is wat teenwoordig is in en vir die lewe van die wêreld ondermyn die sekulêre oortuiging dat niks heilig is nie sowel as die profane gevolg van nihilisme, of betekenisloosheid.
  • Die belydenis dat God die Skepper is wat die wêreld in liefde onderhou en regeer, ondermyn ’n wêreld waarin alles meganies en geoutomatiseerd werk en waarin betekenis slegs gekoppel word aan dit wat die mens kan skep en bereik.
  • Die bevestiging van ’n verbondsverhouding met bepaalde verantwoordelikhede, pligte en die vereiste van toewyding en lojaliteit bied ’n alternatief tot ’n wêreld van outonomie waarin verhoudings gekenmerk word aan gemak en selfbevrediging ten koste van medemens en die omgewing.
  • Die oortuiging dat wysheid die mag is waarvolgens die wêreld met sy gawes, keuses en beperkinge georden is, bied ’n alternatiewe narratief teenoor die een van ’n wêreld wat gerig word deur menslike uitvindings en wat eindelik lei tot selfvernietiging.
  • Die beoefening van profesie wat rekening hou met oordeel én hoop ondermyn ’n wêreld wat profetiese stemme stilmaak.

Uit hierdie voorbeelde blyk dit dat die geloof van die Ou Testament nog baie te sê het vir die wêreld waarin ons leef. Die tyd waarin ons leef, word toenemend nuut en vreemd. Dit is so nuut dat dit destabiliserend is, dit is so vreemd dat dit nie inpas by ons konvensionele verwagtinge nie. Mag ons ten spyte hiervan aanhou om in hierdie  nuwe, vreemde wêreld ons geloofsverstaan te verdiep deur die lees van die Ou Testament.

(Vir meer oor hierdie onderwerp, lees gerus Walter Brueggemann se hoofstuk Old Testament Theology in die Oxford Handbook of Biblical Studies).

(Dr Marina Kok-Pretorius is dosent en predikant in Gemeente Potchefstroom)