Desperate diaken Dirkie van Dassiefontein vra: Beste Oupa Stoep, ek is gekies as diaken in my gemeente en toe sommer ook as voorsitter van die diakensvergadering. By die eerste nagmaal ná my verkiesing, kyk almal met groot oë na my toe daar nie brood of wyn vir die nagmaal gekoop is nie. Ons moes die nagmaal toe met ’n week uitstel, maar kan Oupa my asseblief help met wie verantwoordelik is vir die voorsiening van brood en wyn vir die bediening van die nagmaal?

Beste diaken Dirkie, Oupa hou nog altyd vas aan een van sy wyse proffies se raad dat die Kerkorde nie ’n stok is om mee te slaan nie, maar eerder ’n staf is om mee te wandel. Oupa het dus nie die gewoonte om mense met die Kerkorde te karnuffel nie. Dit gesê, wil Oupa tog vir jou uit die Kerkorde aanhaal: Ordinansie 3.5.8: (Die diakens) doen diens by die nagmaaltafel en erediens.

Hoewel dit hier nie pertinent so uitgespel word nie, was dit in al die gemeentes waar Oupa was die praktyk dat die diensdoen by die nagmaaltafel behels het dat die diakens die nagmaaltafels opstel en dek, bystaan tydens die bediening van die nagmaal om te sorg dat alles vlot en ordelik verloop en weer die tafels afdek na afloop van die erediens. Ongelukkig vir jou, diaken Dirkie, het die diakens ook gesorg vir die brood en die wyn. Die verantwoordelikheid om toe te sien dat alles in plek is, val vierkantig op die skouers van die voorsitter van die diakensvergadering. Elke gemeente het natuurlik sy eie reëlings, maar dis hoe Oupa dit leer ken het in al die gemeentes waar hy was.

Maar soms, net soms, lol dinge. So het dit een keer gebeur dat die voorsitter van die diakensvergadering met verlof gegaan het, maar niemand ingelig het dat hy nie, soos gebruiklik, sou sorg vir die wyn vir die nagmaal nie. Dié probleem kom ons eers agter toe almal in die konsistorie staan knap voor die nagmaalsdiens sou begin. Oupa was geseënd met ’n paar vindingryke manne op die kerkraad. ’n Ouderling wat naby aan die kerkgebou gebly het, het gesê hy sal gou ’n paar bottels wyn by sy huis gaan haal. Al wyn wat hy egter beskikbaar het, is droë rooiwyn.

’n Paar diakens sê toe dat dit nie heeltemal sal deug nie en dat hulle gou na die naaste sjebiens sou ry om soetwyn te koop. Oupa moet maar die diens begin, sê hulle, maar net so ‘n paar ekstra versies van die liedere laat sing om tyd te wen.

Toe dit tyd is vir die nagmaal, kom ’n diaken met twee bekers boordens toe vol met wyn en oorhandig hulle aan Oupa. Daar was daardie dae nog nie kelkies op die tafel nie, so Oupa kon die bekers omstuur en nagmaal het verder sonder probleme verloop. Verskeie lidmate het kom sê dat dit die lekkerste nagmaalwyn was wat hulle nog ooit geproe het.

Ná die diens sou Oupa verneem dat die inhoud van die bekers ’n mengsel van majestueuse merlot, stroopsoete hanepoot en tradisionele ou-bruin-sjerrie was. Laasgenoemde twee was die aankope wat deur die diakens gemaak is.

Wat egter vir Oupa tot vandag toe pla, is dit: Hoe op deeske aarde het Oupa se voorbeeldige diakens geweet waar daar sjebiens is wat op ’n Sondag sou oop wees?