Toe ek jare gelede in Sheffield gestudeer het, het die Walliese predikant van ons plaaslike gemeente vir ons die storie vertel van die Wallieser wat as die enigste oorlewende op ’n eiland uitgespoel het. Hy het hom uiteindelik op die eiland ingerig en vir 20 jaar daar gebly voordat ’n verbygaande skip rook van die eiland sien trek het en daar anker gegooi het.

Toe die skeepskaptein aan wal kom, was hy verstom oor alles wat die Wallieser daar tot stand gebring het. Net een ding het hom dronkgeslaan: Hoekom was daar twee kerkgeboue op die eiland? Waarop die Wallieser geantwoord het: This is the church I go to and that is the church I don’t go to!

’n Mens sou kon sê dit is die gees wat in die oorvloedjare ook onder Afrikaanse kerkmense geleef het. Lidmate van verskillende kerkgenootskappe het saam gekuier, saam skoolgegaan, saam in die skoolraad gedien, saam gewerk by die boerevereniging en gemeenskapsorganisasies, maar selde of nooit saam kerk toe gegaan nie. En selfs as die plaaslike gemeentes van die verskillende kerke een maal per jaar ’n ekumeniese erediens gehou het, het weinig meer as die predikant en skriba die erediens in die ander kerk gaan bywoon. Ons het veilig in ons kerklike kokonne gebly.

Op sinodale vlak het kerklike verhoudings en verbintenisse oor die afgelope twee dekades besonder positief ontwikkel. Die verhouding met ons naaste kerklike familie, die NG Kerk en Gereformeerde Kerke, het verbeter sodat ons by verskeie geleenthede in die Tussenkerklike Raad (TKR) kon vergader, saam verklarings oor openbare aangeleenthede kon uitreik, en bowenal die 500-jarige herdenking van die Kerkhervorming in 2017 met ’n konferensie en feestelike erediens saam kon vier.

Die nouer verhouding met die NG Kerk het in 2010 uitgeloop op die aanvaarding van ’n bilaterale ooreenkoms wat bevestig dat ons twee kerke een is omdat ons op dieselfde belydenisgrondslag staan. Daarom erken ons mekaar se lidmaatskap, mag ons kinders in mekaar se kerke laat doop, gebruik ons lidmate oor en weer Nagmaal, ruil ons kansels en kan ons predikante uit die ander Kerk beroep sonder om eers die betrokke predikant se leer onder die vergrootglas te plaas of buitengewone kerkordelike reëlings te tref.

Dit het reeds daartoe gelei dat ’n hele aantal predikante oor en weer beroep is. Predikante soos di Bouwer Serfontein (Vereeniging), Denise Schmidt (Jeffreysbaai/Port Elizabeth), Pieter Bester (Glencoe), Janine Truter (beroepafwagtend, vroeër Wapadrant) en dr Carel Botma (Bothaville) het almal in die NG Kerk gedien voordat hulle predikant van die Hervormde Kerk geword het. Omgekeerd is di Wouter van Wyk (jr) en Nelius van Niekerk in die onlangse verlede na gemeentes van die NG Kerk beroep.

Die Kommissie van die NHKA se Algemene Kerkvergadering en die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderatuur het oor die afgelope paar jaar by verskeie geleenthede vergader om mekaar beter te leer ken en oor sake van gemeenskaplike belang te gesels. Een saak wat albei kerke tans swaar op die hart lê, is teologiese opleiding. Sedert 2000 word die teologiestudente van die Hervormde Kerk en die NG Kerk se noordelike sinodes in één verenigde teologiefakulteit aan die Universiteit van Pretoria opgelei. Ook die kerkgerigte opleiding van hierdie studente is oor die afgelope twee dekades toenemend met mekaar gekombineer en geïntegreer sodat die Hervormde Teologiese Kollege en die NG Kerk se Kerkeie Opleiding nou baie nou hand aan hand saamwerk. Die praktiese gevolg hiervan is dat teologiestudente van die twee kerke wat aan die Universiteit van Pretoria afstudeer dieselfde opleiding aan die hand van dosente uit albei kerke ontvang het en ’n nabye verhouding met mekaar het. In die Vrystaat is die situasie net so interessant: Dr Johan Nel, Hervormde predikant van Gemeente Bloemfontein-Wes, is sedert 2017 die Bestuurder van die Seminarium vir Teologiese Opleiding van die Vrystaatse sinode van die NG Kerk!

Die samewerking tussen gemeentes op plaaslike vlak is egter meer beduidend, want dit is wat talle lidmate prakties ervaar. Reeds vir baie jare vind daar goeie samewerking tussen die Hervormde Kerk en die NG Kerk plaas met betrekking tot bediening van gemeentes in die buiteland. In Zambië bedien ’n NG predikant, ds Werner Nel (die seun van dr Johan Nel, Hervormde predikant van Bloemfontein-Wes), die Afrikaanse gemeente in Lusaka, terwyl ds Peet Swanepoel van die Hervormde Kerk al die Afrikaanse lidmate in die noorde van die land vanuit Nkana bedien. In Zimbabwe was daar vroeër ’n afspraak dat die NG Kerk sal toesien dat daar ’n predikant in Harare is wat albei kerke se lidmate in daardie omgewing bedien, terwyl die Hervormde Kerk sou omsien na lidmate in die omgewing van Bulawayo. Met die uitdagings wat die bediening in Zimbabwe in die gesig staar, funksioneer die gemeente in Harare sedert 2019 as een gemeente en nooi hulle predikante uit enige van die twee kerke om aansoek te doen vir die beroep wat tans geadverteer word (sien bladsy 6).

Ook binne Suid-Afrika is daar voorbeelde van kosbare samewerking tussen gemeentes van die Afrikaanse kerke. In die Wes-Kaap is die Hervormde Kerk byvoorbeeld maar klein, en dit is nie prakties haalbaar om selfstandige gemeentes in elke dorpie of selfs elke derde dorpie te vestig nie. Gevolglik het Gemeente Strand reeds vir jare ’n tweede preekpunt in Hermanus gevestig sentraal tot die Overstrand se wyke. Die gemeente huur die Gereformeerde Kerk Sandbaai se kerklike perseel teen ’n fraksie van wat dit sou kos om ’n eie gebou op te rig en te onderhou. Ds Gerrit-Daan van der Merwe erken dat hierdie werkwyse sy eie uitdagings meebring, maar getuig dat die samewerking met ons susterskerk meer geleenthede inhou as probleme skep.

In Midrand is daar ’n voorbeeld van twee gemeentes van die Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk wat op dieselfde wyse vir jare lank ’n kerkgebou gedeel het totdat hulle uiteindelik besluit het om ook hul eredienste en gemeentelike aktiwiteite te kombineer. Selfs die feit dat die Hervormde gemeente in daardie stadium ’n vrouepredikant, ds Paula Eksteen, gehad het, het nie in die weg van die noue samewerking gestaan nie. Nadat ds Eksteen egter van die gemeente losgemaak is, het die twee gemeentes in ooreenstemming met Ordinansie 2.7.1 van die Kerkorde ’n formele samewerkingsooreenkoms gesluit wat voorsiening maak vir alle aspekte van die bediening. Daar bestaan steeds afsonderlike lidmaatregisters en die deurkollekte gaan al om die ander week na die ander kerk. Elke gemeente het steeds sy eie kerkraad, maar daar is ook ’n gesamentlike kerkraad waar besluite oor sake van algemene belang geneem word. Ds Peet van den Berg van die Gereformeerde Kerk bedien die lidmate van albei gemeentes, buiten vir gevalle waar lidmate van die Hervormde Kerk spesiale versoeke rig om deur ’n Hervormde predikant ondersteun te word. Eredienste word om die beurt deur ds Van den Berg of ’n Hervormde predikant gelei.

Sulke geleenthede vir samewerking met gemeentes van die NG Kerk bestaan ook. In Kempton Park het Gemeente Makarios hul groot kerkgebou verkoop en met die NG Mooifontein begin saamwerk. Prof Lourens Steenkamp vertel dat elkeen steeds sy eie karakter handhaaf, maar gemeenskaplike doelwitte in die geloof saam kan aanpak. Die twee gemeentes verspil nie meer onnodige materiële bronne op fasiliteite nie, maar streef daarna om saam gestuurdes na die wêreld te wees. Aangesien die gemeentes self nou geen kommer oor kontantvloei het nie, kan hulle nou die nood om hulle aanpak en hul gemeenskaplike opdrag as getuies uitvoer.

Ds Willem Pelser van die NG Gemeente Roedtan is die enigste predikant wat op die dorp woon (die ander kerke se predikante kom van buite af in om te kom preek). Daarom het dit begin gebeur dat hy vir die NHKA predikant instaan. Later is ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan op grond van die bilaterale ooreenkoms tussen die susterskerke. Sommige Sondae woon die NHKA-gemeente die erediens saam met die NG lidmate by, ander Sondae preek ds Pelser om 09:00 by die NG Kerk en om 11:00 by die NHKA (dieselfde preek, net met ’n ander liturgie – en toga, natuurlik). Die NHKA se lidmaatgetalle is te klein om ’n eie basaar te hou, daarom hou hulle saam met die NG Kerk basaar.

Die berigte elders in hierdie uitgawe getuig van soortgelyke geleenthede vir samewerking. Ds Annalize Rossouw-Lombard bedien nou sowel die Hervormde gemeente Dora Theo Kimberley as die NG Gemeente Warrenton. Ds Nelius van Niekerk is nou predikant van die NG Gemeente Ses Brugge buite Upington, terwyl sy vrou, ds Marsulizé van Niekerk, steeds Hervormde predikant is. En ds Nastasia Vosloo-Steyn, wat met ’n NG predikant getroud is, preek gereeld in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) se Gemeente Victoria-Wes. Hoewel al drie hierdie gevalle van samewerking in die Noord-Kaap is waar die Hervormde Kerk min lidmate en gemeentes het, is daar talle geleenthede vir sulke samewerking ook in ander provinsies – dalk veral in die Oos-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal. Met die ontvolking van die platteland word dit stellig op talle plekke in Limpopo, Mpumalanga en Noordwes ook die beste manier om die bediening van die evangelie effektief en daadkragtig voort te sit.

Terwyl daar dus werklik groot opgewondenheid oor groeiende samewerking oor kerkgrense heen kan wees, moet tog gewaak word teen oorhaastige en ondeurdagte pogings om bloot gemeentes se basiese aktiwiteite (bowenal eredienste) ten alle koste te laat voortgaan. Daar was ongelukkig in die onlangse verlede ook voorbeelde waar kerkrade bereidwillige predikers uit ander kerklike agtergronde genader het om eredienste te lei, naderhand selfs op ’n gereelde basis. Waar sulke predikers egter nie op dieselfde belydenisgrondslag as die Hervormde Kerk gestaan het nie of vreemd was aan ons kerklike tradisie, het dit noodwendig met verloop van tyd tot vervreemding en konflik gelei. Dit sou eweneens teenproduktief wees indien ’n gemeente ’n vreemde predikant kry om eredienste te lei eerder as dat nabygeleë gemeentes van die Hervormde Kerk kragte saamsnoer en ’n samewerkingsooreenkoms aangaan.

Tog is daar oorvloedige rede tot dankbaarheid dat die kunsmatige en ongesonde grense wat ons in die verlede verhinder het om oor kerkgrense saam te werk, tans verkrummel. Of ons bloot hartlik met die gemeentes van ander kerke in ons omgewing saamwerk en of ons formele samewerkingsooreenkomste sluit om meer omvattende samewerking kerkordelik te reël, dit is ons roeping om ons eenheid in die geloof in die openbaar te demonstreer. So getuig ons daadwerklik dat ons geloof in Jesus Christus hoop bied vir die wêreld!

(Dr Wouter van Wyk is Sekretaris van die Kommissie van die AKV)