In die Maart 2012-uitgawe van Die Hervormer het ds Dries Beukes, destyds visevoorsitter van die Kommissie van die AKV en lid van die Tussenkerklike Raad, geskryf oor die bilaterale ooreenkoms tussen die NHKA en die NG Kerk. Hierdie teks was deel van sy artikel.
Die drie susterskerke – die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika – het vir meer as 50 jaar met mekaar gesprek gevoer oor kerkeenheid. Die gesprek het lank vasgeval oor wat die kerke uitmekaar hou en of die bestaan van drie afsonderlike kerke nie dui op ’n sondige verskeurdheid nie. Die gesprek het plaasgevind in die TKK (Tussenkerklike Komitee), later die TKR (Tussenkerklike Raad), en ook bilateraal tussen die onderskeie kerke. Uiteindelik is besluit dat die kerke bilateraal met mekaar ooreenkomste sal aangaan.
Die Hervormde Kerk en die NG Kerk het tot die slotsom gekom dat eenwording tussen die twee kerke nie in die afsienbare toekoms ’n realiteit is nie, maar dat eenheid tog in terme van samewerking reeds bestaan en verder uitgebou kan word. Daarom is ’n ooreenkoms tussen die twee kerke aangegaan waarin die volgende bevestig is:
- Hulle is een in Jesus Christus.
- Hulle het dieselfde geloofsbelydenisse.
- Hulle deel dieselfde oorwegend teologiese herkoms.
- Hulle deel groot gedeeltes van die Suid-Afrikaanse volks- en kerkgeskiedenis.
- Hulle het ’n lang geskiedenis van samewerking, byvoorbeeld ten opsigte van Bybelvertaling, Psalm- en Gesangboek- en Liedboekberyming, teologiese opleiding en buitelandse bediening.
- Daar het oor die jare baie lidmate in die huwelik getree met lidmate van die ander kerk, en sodoende het hulle bande met die onderskeie kerke.
- Hulle wil albei broederlike en ekumeniese betrekkinge met kerke van Reformatoriese tradisie handhaaf.
Kerkeenheid
Die twee kerke het ooreengekom dat daar ’n verskil is tussen die begrippe kerkeenheid en eenwording. Kerkeenheid lê nie noodwendig opgesluit in strukturele eenwording nie, dit het in elk geval nie te doen met die wese van die kerk nie, alleen maar met die vorm. Kerkeenheid lê eintlik reeds agter ons omdat dit in die Waarheid gesetel is. Dit is die Waarheid dat gelowiges deel is van die liggaam van Jesus Christus. Ons is een omdat ons dieselfde Bybel en belydenisskrifte aanvaar waarop ons geloof gebou word. Daar is dus nie sprake van ’n sondige geskeidenheid en/of verskeurdheid tussen die twee kerke nie.
Die kerke het ooreengekom dat daar wel reeds kerkeenheid sigbaar is waar die twee kerke mekaar se lidmaatskap erken, belydende lidmate onderling in albei kerke Nagmaal mag gebruik, kinders onderling in albei kerke gedoop mag word, gesamentlike teologiese opleiding plaasvind, kanselruil voorkom, en predikante volgens die onderskeie kerke se kerkordelike reëlings na mekaar se gemeentes beroep mag word.
Eenwording
Die kerke stem met mekaar saam dat eenwording nie iets is wat van bo af afgedwing kan word nie. Dit is iets wat spontaan moet groei deur samewerking op grond van die eenheid wat reeds bestaan. Die kerke kom ook ooreen dat die eieaardigheid van teologiese nuanses, kerklike etos en spiritualiteitstipes in ’n eenheidstruktuur gerespekteer moet word.
Terreine van samewerking
Daar is ooreengekom om –
- mekaar op gemeentelike vlak te ondersteun. Veral in plattelandse gemeenskappe waar die ontvolking en agteruitgang albei kerke nadelig beïnvloed, is daar reeds talle voorbeelde van spontane samewerking wat tot voordeel van al die lidmate strek.
- gesamentlike getuienis te lewer teenoor owerheid en gemeenskap.
- waar moontlik gesamentlik lidmate in die buiteland te bedien.
- gesamentlik deel te neem aan Bybelvertaling soos deur die Bybelgenootskap geïnisieer, asook hervertaling van die belydenisskrifte.
- ondersoek te doen na die moontlike daarstel van ’n eietydse belydenisvorming in die idioom van vandag.
- gesprek te voer oor liturgie in die twee kerke.
- saam te werk met die hersiening en ontginning van nuwe liedere vir die twee Kerke.
- gesamentlike studie oor etiese kwessies te doen en betrokke te wees by onderwyskwessies.
- waar enigsins moontlik gesamentlike barmhartigheidswerk te doen.
- saam te werk by die Parlementêre lessenaar ten einde wetgewing sinvol vir die kerke te probeer beïnvloed.
- die eenheid van die kerk van Jesus Christus ook op ander maniere sigbaar te leef.
- wedersyds twee lede na mekaar se algemene sinodale vergaderings af te vaardig.
Met hierdie ooreenkoms wil die kerke eintlik iets wat reeds bestaan net formeel bevestig en met enkele sake uitbrei, soos onder andere die oor en weer beroep van predikante. Hiermee wil ons ook ons gesamentlike roeping om die evangelie van Jesus Christus uit te dra, bevestig.