Die erediens is die hartklop van elke gemeente. Dit is waar die gemeente byeenkom om die Here te loof en prys, na die Woord van God te luister, skuld te bely en as geloofsgemeenskap onderling vir mekaar te sorg en te dra. Vanuit die erediens word lidmate toegerus om te beweeg na die erediens van die lewe.

Die erediens is vir die NHKA ’n ontmoetingsgebeure tussen God en gemeente. Dit is ’n gesprek waarin God met sy gemeente praat en waarin die gemeente God antwoord. Die hoofdoel van alles wat in die erediens plaasvind, is om God te eer. Vanweë hierdie bepaalde verstaan van wat ’n erediens is, word die eredienste in die NHKA op ’n sekere wyse ingerig. Die liturgiese elemente wat deel vorm van ons eredienste weerspieël tot ’n groot mate ons teologiese begronding as reformatoriese kerk. Maar die wyse waarop ons dink oor die betekenis en inrigting van die erediens is bo-al geanker in ons verstaan van die Skrif en Bybelse riglyne.

Hoewel die Bybel nêrens presiese aanwysings vir die inrigting van ’n erediens gee nie, noem die Bybel ’n aantal elemente wat deel vorm van eredienste. Die Ou Testament het reeds ’n ryk liturgiese tradisie wat in die Nuwe Testament rondom die Christusgebeure uitgebou word. In hierdie insetsel word gepoog om enkele elemente van die Ou Testamentiese liturgie te ontgin ten einde die sinvolle aanwending daarvan in hedendaagse Hervormde liturgieë te belig. 

Die Ou Testamentiese erediens het ’n vaster vorm begin aanneem met die vestiging van die Jerusalemtempel. Dit was egter veral tydens die ná-ballingskapse periode dat die organisering rondom liturgie meer doelbewus plaasgevind het. Die vernaamste elemente van die Ou Testamentiese erediens was onder andere die offerritueel, sang, gebed, voorlesing en onderrig uit die Torah. Offers het bestaan uit diere of graan wat op ’n altaar geoffer is om hulde aan God te bring of versoening te bewerk vir die volk se sonde. Saam met die offerritueel was daar gewoonlik ’n gebed en liedere wat gesing is. Sang en musiek is van die liturgiese elemente wat regdeur Israel se geskiedenis teenwoordig is. Wanneer die Israeliete God vir sy verlossingswerk geëer het, het hulle dit deur middel van sang gedoen. Die Here is deur middel van musiek en sang verheerlik. Die Psalmboek was die spreekwoordelike liedboek of gebedeboek van die Tweede Tempel-periode met tempelsangers wat nou daarby betrokke was. Die psalms bevat nie net liedere nie, maar ook liturgiese gebede, doksologieë en pelgrimsliedere. Deur gebed het die mense van Israel direk met God gepraat en deur voorlesings uit die Torah is daar geluister na God se wet en wil vir sy volk.

Daar is verskeie voorbeelde van liturgieë of liturgiese gebruike in die Ou Testament. Nehemia 9: 3-5 is ’n voorbeeld van ’n skuldbelydenisliturgie, terwyl 2 Kronieke 5-6 vir ons ’n blik gee op die liturgiese omstandighede tydens die inwyding van die tempel.

Die liturgiese elemente wat teenwoordig is in die Ou Testament dien as basis vir die elemente wat ons vandag steeds in ons eredienste aantref. Dit kan ook dien as bron van inspirasie vir die inkleding van ons liturgieë. Hier volg byvoorbeeld enkele voorstelle van (kreatiewe) wyses waarop Ou Testamentiese tekste in die liturgie aangewend kan word:

  • VONKK 508 (na aanleiding van Miga 6: 6-8) – Toetrede en Aanroeping/Skuldbelydenis en Genade/Offerhandeling en Toewyding

Wat sal ek aan U kan bied wanneer ek U nou hier ontmoet?
Sal ek aan U offers bring of eers vir al my sonde boet?
Nee, Heer, U eis van my net liefdestrou,
om my gehoorsaam aan u Woord te hou.

Waarmee sal ek voor U buig en hoe sou ek voor U moet leef?
U is die verhewe God, dis U alleen wat my vergeef.
Ja, Heer, U eis van my net liefdestrou,
om my gehoorsaam aan u Woord te hou.

  • ’n Belydenis vir Paassondag (na aanleiding van Esegiël 37)

Ná die ontnugtering aan die voet van die kruis,
waar die trauma, verlies en wrede werklikheid indruis,
ná die doodse stilte van ’n Godverlate dag
staan ons, saam met die vroue, dissipels, verleë en wag.

Ons bestaan, vervat in ’n hopie bene, lê verdroog.
Vanuit die dooie laagte eggo ’n Stem omhoog:
“Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
“Nee, dit weet net U, Here my God.”
Ons lê die dooie, droë bene, geestelik verweer
by die leë graf van ons Heer.

Vanuit die laagte eggo ’n Stem omhoog:
“Hoor die woord van die Here, droë bene!
“Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.”
Geestelik vernuwe, plaas ons die dooie, droë bene neer,
by die leë graf van ons Heer.

Uiteindelik hou die Kerk in haar erediensinrigting rekening met drie trajekte: Die Bybelse riglyn, die kerkhistoriese erfenis en die hedendaagse aktualiteit. Die Kerk het die voorreg om in haar liturgiese inkleding die vryheid en kreatiwiteit te hê om vanuit die ryke skatkis van Bybelse, kerkhistoriese en hedendaagse bronne te put. Met hierdie liturgiese vryheid kom daar egter ook die verantwoordelikheid om dit wat ons gebruik, teologies verantwoordbaar aan te wend. Tydens my studies het my Liturgie-professor, wat aan die NG Kerk verbonde is, met waardering gepraat van die NHKA se hoër liturgiese tradisie. Dit is na my mening ’n tradisie wat die teologie en liturgie van die NHKA onderskei en gemeentes toelaat om met diepgang om te gaan met die Skrif, die erediens en hul geloof.

(Dr Marina Kok-Pretorius is dosent en predikant in Gemeente Potchefstroom)