Gedurige besigwees is soos aanhoudende geraas – dit maak jou doof. Jy hoor naderhand nie meer nie. Geloof gebeur net waar jy kan hoor en kom van dit waarna jy luister.
Mense wat moeilik hoor, besef dit aanvanklik nie. Hulle word al hoe dower, maar glo dat hulle heeltemal goed kan hoor. Hulle glo dat hulle al die klanke wat om hulle gemaak word, hoor. Hulle vervies hulle oor ander mense so mompel dat ‘n mens nie ‘n woord kan uitmaak van wat hulle sê nie. Of hulle begin vermoed daar word om hulle gefluister juis sodat hulle nie kan hoor nie. Suutjies praat is duiwelsraad, daarom raak hulle agterdogtig en voel hulle bedreigd. Wanneer mense wat sukkel om te hoor dan ‘n effektiewe gehoortoestel kry, kan hulle die skielike geraas nie hanteer nie. Hulle sal besluit dat die gedempte dog gebrekkige gehoor veel verkiesliker is en besluit om nie die toestel te dra nie – al het dit ‘n fortuin gekos. Stilte is inderdaad goud werd.
Ek dink nie ek word al doof nie. Dog, ek besef dit is in my gene. En met dié het ek baie ondervinding van familielede wat hardhorend raak. Ek hoef ook nie self doof te wees om te verstaan dat mense selektief raak met waaraan hulle hul ore uitleen nie. Ek weet, want ék hou my nou weer blind. Ek het hierdie afgelope week vir die eerste keer in ‘n lang tyd na ‘n nuusbulletin gekyk. Ek luister gewoonlik net na nuusuitsendings en het dadelik besef nuus is nou nog nie nuut nie – nuus is nog altyd net sleg. Ek het nou weer oorgenoeg ontstellende beelde in my geheue ingeprent om my nog ‘n jaar te kan hou voor ek weer nuus hoef te kyk.
Die meeste van ons het nie dié probleem met gehoor nie; ons hoor heeltemal goed genoeg. Ons hou net nie waarvan ons hoor nie. Ons steur ons ook nie meer aan wat ons hoor nie. Ons hou vir ons horende doof. Met opset! Dit verstaan ek ook. ‘n Mens kan nie meer jou ore uitleen aan al die leuens en die uitlokking van die advertensiewese nie. My kinders sê ek moet alles wat ek hoor, eers navors. Maar waar en by wie kry ek betroubare waarheid? En dit ontstel my dat ek geen mens meer op sy woord kan neem nie. My kinders (hulle is baie slim) sê dit kom uit my jong dae toe daar net een nuusbron was, staatsbeheerde SAUK en ‘n napraterpers soos die Citizen. Almal het geweet JR Ewing is geskiet, en almal het geweet Jimmy Kruger kry koud. Ons het toe nog gehoor, maar was afgestomp.
Die mediawêreld het verwarrend besig geraak. En ons is so gejaagd met gans te veel hooi op die vurk dat ons nie gaan vis vir die waarheid onder al die foppery nie.
Die Bybel sê dat om te luister is om tot rus te kom. Dit kan jy net van die evangelie sê, want niks anders wat ek hoor stel my gerus nie. Daarom moet jy mooi kyk na wie jy luister. Want dit wat by jou ore in kom, gaan aan jou hart vat. Dit gaan jou skoei. En hervorm dit jou, gaan dit jou toekoms bepaal.
Sit stil. Maak jou ore oop. Luister. Die evangelie wat jy hoor gaan jou nie sus nie. Amos 8: 4 en 5: Luister hierna, julle wat die behoeftiges vertrap, en daarop uit is om weerlose in die land uit te wis deur te sê, …
Kom ons skaaf aan die gewigte op ons skale sodat almal duurder betaal vir minder. Die Here weet van julle skelmstreek en sal dit nie ongesiens laat verbygaan nie: Die ganse mark gaan intuimel as julle daarmee aanhou.
In Lukas 10 gaan sit Maria aan Jesus se voete om na Hom te luister terwyl die gasvrou, Martha, Maria se suster, skarrel om Hom te bedien. Martha kla by Jesus. Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie” (vers 41 en 42).
Kom sit tog ‘n slag stil. Kom luister weer. Anders as hoe jy dink, skerp wat jy hoor jou in. Jou geskarrel is wat jou afstomp. Romeine 10: 17: Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.
Hoor tog: Jou dolle gejaag maak jou nie gelowig nie, geloof kom by jou ore in.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)