Vandeesmaand, 15 Junie 190 jaar gelede, is Adriaan Jacob Begemann in 1831 te Dongen, Noord-Brabant, Nederland, gebore, waar sy vader predikant was. Hy heet na sy oupa aan moederskant.
Hulle was ’n kroos van 12 van ds Jan Begemann (1800-1878) en Anna Johanna gebore Van Alphen (1805-1898). Hy het uit ’n “priester-familie” gestam, soos hy dit meermale uitgedruk het – predikantwees was in hul bloed! Nie alleen was sy vader predikant in die Hervormde Kerk van Nederland nie, maar ook sy een broer, verskillende neefs en kleinneefs, vyf ooms, sy grootvader en verskeie neefs van sy vader, en nog meer familielede. Hy het gedurende 1849-1855 teologie studeer aan die Universiteit van Utrecht en was as proponent hulpprediker by Gemeente Lichtenvoorde, Gelre-Oos, Gelderland.
Nadat hy die beroep na die Transvaal aangeneem het, is hy op 7 Maart 1860 in die Grote Kerk van die Hervormde Gemeente Den Haag as predikant van Transvaal georden deur die “Commissie voor de zaken der Protestantsche Kerken in Nederlands Oost en West Indië”. Op 24 April het hy uit Nederland met die seilskip Johanna Maria vertrek, en op 21 Junie het hy in Tafelbaai aangekom. Op Sondag 24 Junie het hy in die Groote Kerk in Kaapstad die diens vir dr SP Heyns waargeneem en oor Matteus 18: 32 – al die schuld heb ik u kwijtgescholden – gepreek. Op 30 Junie is hy by die aktuarius van die sinode, ds A Fauré, gelegitimeer, en nog dieselfde dag het hy sy reis per skip na Natal voortgesit waar hy met ossewaens afgehaal is. Langs die pad het hy op verskillende plekke gepreek, onder andere te Utrecht.

Op 8 Desember het hy in Potchefstroom aangekom waar hy by ds Van der Hoff tuisgegaan het. Hy het die dienste op die 9de en 16de waargeneem. Hy was toe die tweede predikant in Transvaal.
Op 20 Januarie 1861 het hy saam met ds Van der Hoff die Nagmaal op Rustenburg bedien, waarop hulle saam na Pretoria is waarheen ds Begemann intussen beroep is. Op Sondag 27 Januarie is hy deur ds Van der Hoff bevestig in die vyf jaar oue gemeente in die klein kerkie op Kerkplein. Die opkoms van die gemeente was baie groot. In sy bevestigingsrede het ds Van der Hoff in herinnering gebring dat die land ’n beskaafde land genoem kon word in vergelyking met toe hy sewe jaar tevore hier aangekom het. Ds Begemann het die middag sy intreepreek gehou. Maandagmôre was daar volgens die gewoonte van daardie dae ook nog weer kerk gehou en het ds Begemann ’n paar nuwe belydende lidmate bevestig en ongeveer 40 kinders gedoop.
Hy was van 1861 tot 1863 voorsitter van die Algemene Kerkvergadering toe die eerste kerkwet saamgestel is, en skriba van 1863 tot 1866. Gemeente Pretoria het distrikte Waterberg, Heidelberg en die Witwatersrand omvat. In die eerste jare van die bestaan van Pretoria was die Hervormde gemeente die enigste gemeente, en ds Begemann was die enigste en eerste inwonende predikant in die hoofstad.
Die pastorie was op Kerkplein, op die noordwestelike hoek van Kerk- en Markstraat (Paul Krugerstraat). Dit was ’n eenvoudige geboutjie met ’n grasdak en grondvloere, sonder plafon, en gebou deur Skinner (die latere Landdros) en Devereux, op die plek waar die Paleis van Justisie vandag staan. In dieselfde jaar waarin ds Begemann sy intrek daar geneem het, is ’n veranda aan die voorkant aangebring en op die pastorie-erf ’n stal gebou, want die huisbesoek moes te perd geskied. Later is twee gewels as versiering aangebou. Daar was groot tuine waar Ds en Mev groente en vrugte vir die mark verbou het. So kon hulle hul inkomste aanvul, want geld was skaars en ds Begemann moes soms maande wag vir sy traktement aangesien die staatskas leeg was.
Ds Begemann was met sy aankoms in Pretoria nog ongetroud, en is eers op 14 Mei 1862 te Potchefstroom deur ds Van der Hoff in die huwelik bevestig met mej Johanna Hermina Goetz (12 Augustus 1840 – 21 Augustus 1916), dogter van Marthinus Andreas Goetz (1815-1872) en Susanne Christina Rossouw (1814-1842).
Ds Begemann was presies en nougeset, streng in sy optrede, en hy kon geen verkeerdhede verdra nie. Veral teen dronkenskap, iets wat in daardie dae glad nie seldsaam was nie, het hy baie skerp gehandel. Hy was ’n goeie prediker en het sy pastorale werk met toewyding verrig; daarom was die opkomste na die kerk goed in die eerste jare van sy bediening en het die aanbou van ’n vleuel aan die kerkgebou nodig geword. Dit het deur die oorspronklike bouers Skinner en Devereux in 1865 geskied, terwyl die mooi trapgeweltjies toe ook aangebring is. In 1876 het Skinner en Devereux die banke vir die kerk gemaak, want voorheen moes elke kerkganger sy eie stoel saambring.
Ds Begemann, baie reguit en streng, was ook skerp in sy opmerkings, en daarby ongelukkig nie taktvol nie, sodat hy meermale met sy gemeentelede gebots het. In 1864 was die geestestoestand in die gemeente nie baie hoog nie en verskillende persone het met mekaar op gespanne voet gestaan. Op 5 Januarie van daardie jaar het die burgeroorlog wat reeds geruime tyd geheers het, in die distrik Pretoria uitgeloop op ’n gewapende botsing waar ’n paar persone gesneuwel het. Dit het onder bepaalde vooraanstaande families verbittering teenoor mekaar veroorsaak.
Maar toe het ds Begemann ’n onverstandige ding gedoen. Met die Nagmaalviering op 2 en 3 Julie het hy sonder raadpleging van die kerkraad op Saterdagmiddag met die voorbereidingsdiens afgekondig dat hy die volgende dag geen Nagmaal of Doop sou bedien nie, en daarmee sou wag tot die gemeente in woord en daad sou toon dat daar ware godsdienstige belangstelling bestaan. Hierdie ontaktvolle en onkerkregtelike handelswyse, waardeur hy die hele gemeente sommer op eie gesag onder sensuur geplaas het, het ’n opskudding veroorsaak. Verskeie lidmate het by die kerkraad aangedring dat ds Begemann beweeg moes word om van sy besluit af te sien, en vyf weke later het hy dan ook inderdaad bekend gemaak dat hy weer die sakramente sou bedien. Die skadelike gevolge het egter nie uitgebly nie. (Lees verder in die volgende uitgawe.)
(Ds C Johann de Bruin is Kurator van die SP Engelbrecht-museum)