In een van my teologieklasse het ’n professor ons uitgedaag op ’n manier wat ek nooit sal vergeet nie. Ek onthou hoe hy ons gevra het om hom van ons geloof te oortuig sonder om enigsins na die Bybel te verwys.

As ek reg onthou was dit in ons derde of vierde jaar. Nou vir ons as klomp teologiestudente het ons hele wêreld om die Bybel gedraai: lees, bestudeer, aanhaal, verdedig. En nou moes ons dit vir ’n oomblik opsy skuif. Skielik het almal stilgebly. Geen maklike vers om te gryp nie. Net stilte. En toe begin die klas een vir een pogings waag. Maar hoe meer studente dit gewaag het, hoe groter was die bewuswording van ons onbevoegdheid om in hierdie taak te slaag en die professor het dit natuurlik baie geniet. Uiteindelik het ons net vir onsself en vir mekaar gelag – maar die ongemaklike tipe lag as jy besef jy is uit jou diepte.

Ek sal verewig daardie dag onthou toe ek besef dat die Bybel nie die middelpunt van ons geloof is nie. Dit is ’n boek. En jou geloof/oortuiging kan nie alleenlik afhang van ’n boek nie – veral nie ’n boek wat jy nog nooit volledig deurgelees het of heeltemal verstaan nie. Die boek is nie die Lig nie, dis nie die boek wat die antieke wêreld omgekeer, beïnvloed en verander het tot die samelewing wat ons vandag ken nie. Dis wat in die boek is, dis waaroor dit praat, dis oor wie dit gaan. Jesus is die Lig. Die Bybel is die venster waardeur ons Hom sien, maar as jy die venster toemaak, is die Lig nogsteeds daar.

Dink byvoorbeeld aan Paulus se konfrontasie met Jesus. Daar was nog nie ’n Nuwe Testament nie. Die Nuwe Testament was besig om plaas te vind, en tog het hy ’n ontmoeting met die Lig gehad, ’n ontmoeting wat daartoe sou lei dat Paulus vir ons ’n groot gedeelte van ons boek skryf.

As gelowiges is ons mal daaroor om na die Bybel te verwys vir antwoorde – veral oor morele kwessies. En dis reg. Die Bybel is ons riglyn, maar die Bybel is nie net veronderstel om aangehaal en gelees te word nie. Dit moet geleef word in ’n verhouding met die Een waaroor dit gaan.

Ek wonder dikwels as predikant hoe vinnig ek mense kan help met: die Bybel sê… wanneer daar vrae of morele kwessies opduik. Maar sien mense Christus in my lewe? In hoe ek reageer wanneer ek kwaad is? In hoe ek liefhet, vergewe en hoop?

Die Fariseërs en skrifgeleerdes (die kerkmense in Jesus se tyd) was ook lief vir die woorde: daar staan geskrywe in die wet, en maar die wet sê. In vandag se terme: maar die Bybel sê. In Johannes 5: 39-40 (AFR83) antwoord Jesus die skrifkenners: Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

Voor die Nuwe Testament neergeskryf is, was die vroeë gelowiges reeds besig om die wêreld te verander. Paulus, Petrus, Maria, Stefanus – hulle het nie gewag vir ’n boek om aan te haal nie. Hulle het die evangelie geleef. En dít het mense aangeraak en nou, eeue later, lees ons hoe hulle hul geloof uitgeleef het.

Dis dalk wat Paulus in gedagte gehad het met sy woorde: Julle is duidelik ’n brief van Christus wat deur ons diens opgestel is, geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. (2 Kor 3: 3, AFR2020)

Dis goed om die Skrif te lees en te kan aanhaal, maar dit is beter as mense Jesus in jou raak lees nog vóór jy ’n enkele vers noem. Die wêreld het gelowiges nodig wie se lewens iets sê, iets van Christus wys – selfs al sê hulle niks.

Kom ons wees ook lewende briewe. Ons is dalk die enigste Bybel wat baie mense gaan lees.