Wie is reg? Israel sê: Die aggressie kom al die jare van die Palestyne se kant. Ons reaksie is bloot defensief. Ons beskerm die grondgebied wat deur God aan ons gegee is. Die Palestyne sê: Ons grondgebied is van ons af weggeneem en aan Israel gegee. En dele wat nog aan ons behoort, staan onder Israel se militêre beheer. Ons wil ons grondgebied terughê.
Ja, elke saak het twee kante. Om hierdie oorlog egter te probeer verstaan, vra dat ons raaksien dat dit nie ’n nuwe oorlog is nie. Dit is deel van konflik wat al vir meer as 75 jaar duur. Sonder om in diepte daarop in te gaan, kan ons die verloop soos volg saamvat:
1947: Die Verenigde Nasies (VN) verdeel die gebied tussen die Jordaanrivier en die Middellandse See in ’n Joodse en ’n Arabiese staat.
14 Mei 1948: Die staat Israel word gevestig, met ongeveer 750 000 Palestyne wat uit hul dorpe verdryf is. Die vlugtelinge het in die Gasastrook (onder Egiptiese beheer), die Wesbank (onder Jordanië se beheer), en sekere Arabiese buurlande beland.
1967: Die Sesdaagse Oorlog breek uit en Israel verower die Wesbank en die Gasastrook en plaas dit onder militêre beheer.
In 1973: Egipte, Sirië en hul Arabiese bondgenote val Israel aan op Jom Kippur, die Joodse vakansiedag. Ná die beëindiging van die Jom Kippur-oorlog, kom beter betrekkinge tussen Israel en Egipte tot stand.
PLO: Die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO) onder Jasser Arafat begin met aanvalle op Israel – eers vanuit Jordanië en later uit Libanon. In 1982 val Israel Libanon binne om die PLO te verdryf. Uiteindelik erken die PLO Israel se bestaansreg.
1987-1993: Dié tydperk staan bekend as die Eerste Intifada (“om af te skud”) weens die talle pogings om Israel se houvas op die streke af te skud. Hamas, ’n militante Islamitiese groep, word in 1987 gestig.
2000: Die begin van die Tweede Intifada, en Hamas lei talle opstande en later dodelike terreuraanvalle op Israel. Israel reageer met vergeldingsaanvalle.
2005: Israel onttrek uit die Gasastrook, maar beheer die grense van die streek.
2007: Hamas kom, ná ’n parlementêre verkiesing, aan bewind in die Gasastrook. Israel blokkeer alle toegang tot die streek.
2008-2009, 2012 en 2014: Oorloë in die gebied.
2017: Die VSA erken Jerusalem amptelik as Israel se hoofstad. Die Palestyne reageer met nuwe geweld, omdat hulle Oos-Jerusalem as die hoofstad van ’n toekomstige Palestynse staat wou hê.
2021: Hamas se militêre vleuel begin om die aanval op Israel te beplan.
7 Oktober 2023: Hamas loods ’n verrassingsaanval op Israel, die begin van die huidige oorlog tussen Israel en Hamas. 1 195 Israeli’s word in die aanvalle gedood, insluitend 815 burgerlikes. 251 mense is as gyselaars ontvoer.
Israel antwoord met bomaanvalle en val die Gasastrook in met die doel om Hamas uit te wis en die krygsgevangenes te bevry. Die oorlog woed steeds voort met vele leiers van Hamas en meer as 60 000 Palestyne wat al in die oorlog dood is.
Die wêreld raak al meer betrokke weens die humanitêre krisis wat die oorlog in Gasa tot gevolg het. Groot dele van die stede in Gasa is vernietig, insluitend hospitale en begraafplase. Mense het nie kos nie en moet hul huise agterlaat. Beskuldigings word oor en weer geslinger oor wie vir die humanitêre krisis verantwoordelik is. Benjamin Netanyahu, premier van Israel, verklaar dat hulle sal voortgaan tot Hamas vernietig is of die wapen neerlê, anders sal die aanvalle net voortduur.
Oorlog is altyd tragies, en daar is altyd onskuldiges wat ly. Daarom kan ons as Christene geen oorlog goedkeur nie. Soms kan ’n defensiewe oorlog dalk geregverdig wees, maar oormatige geweld en onnodige lyding en ontbering kan nooit goedgekeur word nie.
Indien ons vra waar ons as Christene teenoor hierdie oorlog staan, is daar tog ’n paar sake wat onthou moet word. Moet ons as Christene Israel steun, omdat Israel die volk van God is? Of omdat ons wortels in die Ou Testament lê? Of omdat die oorlog deur profesieë van die Ou Testament voorspel is en dus God se wil is? Dit is van die vrae wat gevra word.
Natuurlik sal die meeste Christene simpatie met Israel hê weens die historiese bande met Israel van die Ou Testament. Maar ons moenie die fout maak om die staat Israel van vandag sonder meer gelyk te stel aan Israel (of Juda) van die Ou Testament nie.
Net so moet ons profesieë van die Ou Testament nie sien as voorspellings van gebeure in die verre toekoms nie. ’n Profeet se uitsprake was altyd gekoppel aan die historiese situasie, meestal ’n krisis, wat die volk beleef het.
Boonop is daar talle uitsprake in die Nuwe Testament wat daarop dui dat die Judeërs nie meer “volk van God” is in die nuwe bedeling nie. Hoewel daar gedeeltes is wat steeds positief oor “Israel” as eerste volk van God praat, is dit ook duidelik dat ons nie oor die begrip “volk van God” kan praat los van Jesus Christus nie. Sonder om direkte lyne te trek, sou ons kon sê dat die kerk van die Here vandag as die “volk van God” gesien kan word. Dit sluit Jode sowel as nie-Jode in, met geloof in Jesus Christus as die bepalende faktor.
Dus, elkeen is sekerlik geregtig op ’n eie opinie oor hierdie oorlog, maar ons kan nie in die Naam van God of van ons geloof kant wil kies nie. In Christus ken ons God immers as die God van reg en geregtigheid, en van liefde en ontferming. Kom ons bid eerder vir vrede, veral omdat die lyding van onskuldiges nooit goedgepraat kan word nie.
(Dr Chris le Roux is ’n emerituspredikant en dien in Gemeente Stellenbosch)