Elke Sondag neem lidmate getrou hul sitplekke op kerkbanke in. Party banke is splinternuut, bekleed met sagte materiaal vir daardie ekstra bietjie gemak. Ander banke kraak en wankel ná dekades se gebruik, gevorm deur die gewig van geslagte se aanbidding.

Banke het een ding gemeen – hulle is gemaak om op te sit. Die roeping van die kerk is egter nie om mense net te laat sit nie, maar om hulle in beweging te bring. Die Nuwe Testamentiese kerk was nie ’n gehoor nie – dit was ’n liggaam in aksie, elke ledemaat met ’n funksie, elke lid met ’n roeping.

Wat begin by die kerkbanke, moet uiteindelik lei tot die kerk as baken. ’n Baken is sigbaar, prakties en doelgerig – dit wys rigting aan, gee hoop en waarsku teen gevaar. In ’n wêreld van politieke en ekonomiese onsekerheid, internasionale konflikte en geestelike verwarring, het mense sulke bakens dringend nodig.

Die redes waarom baie mense nie meer aanklank by georganiseerde godsdiens vind nie, is welbekend en sluit in:

  • Te lank was die kerk ’n toeskouersport – die professioneles speel, die res kyk toe.
  • Die kerk se stem was dikwels te stil oor sake van geregtigheid en waarheid.
  • Geloofwaardigheid is ingeboet weens interne konflik.
  • Gelowiges hou dikwels ’n veilige afstand van pyn, onreg en nood in ons strate.

Die gevolg? ’n Wêreld wat van mening is dat die kerk óf afwesig óf irrelevant is. En selfs al is daar goeie gronde om dit te ontken, is die persepsie self ’n aanklag. Ons hoor gereeld: Waar is die stemme van die hedendaagse profete? Waar is die kerk?

Op ’n wyse wat sterk herinner aan die geskiedenis van die NHKA, beskryf James Kennedy in Stad op een berg die oorgang van staatskerk (naby aan mag en beskerm deur strukture) na straatkerk – vreesloos, onafhanklik en profeties. ’n Straatkerk praat oor reg en onreg, bid vir die owerheid (of vir ’n nuwe een), en dien saam waar dit kan, maar is altyd eerste verantwoordbaar aan God.

’n Straatkerk wag nie vir amptelike verklarings, opdragte of mandate om op te tree nie. Elke lidmaat is ’n verteenwoordiger van Christus se kerk. Die vraag is dus: Watter verskil maak ons van erediens tot erediens op die terreine waar God ons geplaas het?

In hierdie uitgawe lig dr Wouter van Wyk die sluier oor sommige van die sake waaraan die 74ste Algemene Kerkvergadering aandag gaan gee. Daar gaan opnuut besin word oor die Kerk se roeping in ’n onseker tyd. Die invloed van die Kerk word immers gemeet aan die invloed van haar lidmate op elke terrein van die samelewing. Daar is skaars ’n plek waar ’n volgeling van Christus nie ’n verskil kan maak nie – mits ons bereid is om die gemaksones te verlaat.

Ons moet eerlik vra:

  • Hoe laat ons ’n Bybelse stem hoor oor armoede, misdaad, onreg, korrupsie, geweld (veral teen vroue en kinders) en sosiale verval?
  • Hoe rus ons lidmate toe om bakens te wees in klaskamers, besighede, fabrieke, raadsale en huise?
  • Hoe bou ons gemeentes wat meer is as bloot vergaderplekke?

Die Kerk se missie lei ons hierin – viering, gemeenskap, diens en getuienis. Bemagtigde gelowiges huiwer nie, hulle doen wat hul hand vind om te doen. Hulle is die ligte van ’n stad op ’n berg (vgl Matt 5: 14) – en hoe meer ligte brand, hoe minder plek bly daar oor vir die duisternis. Hulle sien kerklike strukture as vennote, nie as orakels nie. Roeping sonder struktuur is immers soos wind sonder seile; maar ewe-eens is struktuur sonder roeping soos seile sonder wind.

Die kerk se primêre taak is nie om die teologie suiwer te hou nie, maar om die suiwer teologie te laat grondvat waar dit saak maak.

Gesonde, groeiende kerke en gemeentes slaag daarin om lidmate te bemagtig om die evangelie in hul gemeenskappe te leef. Jou roeping begin by die kerkbank, maar dit eindig nie daar nie. Dit gaan noodwendig oor in aksie – om vreesloos te getuig en aktief teen ongeregtigheid te protesteer; om uit te reik na gebrokenes; om vrede te bring in ’n gespanne werkvergadering; om kos te gee waar ’n yskas leeg is; om dáár te wees by die sterfbed van iemand wie se naam vir 20 jaar nie meer iewers op die boeke van ’n kerk verskyn nie; om tasbaar hoop te bring in ’n stowwerige motorhuis wat in ’n woonplek vir agt omskep is; en om op te staan teen die aftakeling van iemand se menswaardigheid – en teen elke ander vorm van magsmisbruik en onbillikheid.

’n Kerk sonder ’n openbare gesig en stem, sonder bemagtigde lidmate, sonder diens en getuienis, het niks om te vier nie – en is gedoem tot irrelevansie.

Ons is geroep om sout en lig te wees – ’n stad op ’n berg wat nie weggesteek kan word nie, ’n baken in ’n stormagtige see. Só volg ons in die voetspore van Jesus Christus wat nie gehuiwer het om in die stof te gaan sit by uitgeworpenes nie. Hy het gewaarsku dat enige oordeel wat jy vel terwyl jou eie gewete nie skoon is nie, tot niks goeds kan lei nie. Hy het geleer dat meegevoel altyd moet oorgaan tot aksie wanneer jy ’n gewonde langs die pad teëkom. Hy het uitgereik, omgegee, gedeel, gehelp en liefgehad sonder oordeel of vooroordeel – en sonder aansien des persoons. Dít is suiwer teologie. Dít maak elke keer die verskil.