Lees Job 11
Kan jy begryp wie God werklik is? So vra Sofar, een van Job se drie vriende, vir Job in Job 11: 7.
Tog ’n baie interessante verhaal wat ons in die boek Job hoor. Die storie van die vroom ryk man wat alles in sy lewe reg doen, maar dan alles verloor, sy besittings, sy kinders, en selfs sy gesondheid. Hy sit in ellende op die ashoop. Daar probeer sy drie vriende hom help om te verstaan waarom God toegelaat het dat dit met hom gebeur.
Hulle dink, soos ons ook baie kere wanneer vreeslike goed met ons gebeur, dat dit God se straf is vir iets wat hulle gedoen het!
Dan, uiteindelik, leer Job en sy vriende, en ook ons, dat dit nie so werk nie. My teëspoed, my siekte, my ellende is nie God se straf vir iets wat ek gedoen het nie! Hoekom dinge gebeur, soos met Job, weet ons nie en verstaan ons nie.
Maar kom ons dink ’n bietjie oor Sofar se vraag: Kan jy begryp wie God werklik is?
Ons maak partykeer ’n beeld van God in ons gedagtes. Onthou toe ons nog kinders was, is daar vir ons vertel: Daar bo sit Iemand wat alles wat jy verkeerd doen en sê, in ’n groot boek skryf. Eendag gaan jy daarvoor gestraf word. Die kwaai God wat jou dophou, wat jou gaan straf vir elke verkeerde ding wat jy gedoen of gesê het. So word ons kinders banggepraat, word hulle selfs bang vir God!
God maak Hom aan ons bekend in die Bybel. Ons leer Hom ken as die Skepper van alles wat bestaan. Die aarde met alles daarop, die heelal met alles daarin. ’n Heelal so groot dat ons nie naastenby die omvang daarvan kan begryp nie.
Maar God skep ook die mens. Hy gee aan jou en my lewe! Ten spyte daarvan dat Hy weet die mens, ek en jy, gaan teen Hom kies, teen Hom sondig.
Die Bybel leer ons dat Hy die Ewige Onbegryplike Wese is. Met ons verstand, al word ons hoe slim, sal ons Hom nooit kan begryp nie! Maar ons is sy skepsels. Meer as dit: Hy het ons sy kinders gemaak. So belangrik is ons vir Hom, dat Hy ons sonde van gister, vandag en môre op sy Seun Jesus Christus gelaai het en Hom daarvoor gestraf het.
Ons is sy kinders, Hy ken ons elkeen by die naam. Hy weet selfs wat ons dink. Ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Ons kan nie vir Hom wegkruip nie. En ten spyte daarvan, het Hy ons lief al is ons soos ons is!
Maar Hy is ook die Almagtige God – iets wat ons partykeer vergeet. Hy het alle mag in sy hand. Dit is nie die toeval of die noodlot wat ons lewe beheer nie. Hy het ons egter ook die mag gegee om ons eie besluite te neem. En soos die verlore seun in die gelykenis wat Jesus vertel het, neem ons meestal die verkeerde besluite, maak ons die mense wat ons liefhet seer, kies ons teen God. En onbegryplik: Hy het ons steeds lief.
Ons glo Hy is die Alomteenwoordige God. Ons verstand kan dit nie begryp nie, maar Hy is elke oomblik van elke dag by elkeen van sy kinders. Ons is nooit alleen nie.
Ons sal God nooit kan begryp of in woorde kan vasvang nie. Wat ons wel van Hom weet, is dat Hy ons liefhet. Hoekom? Ons weet nie. Maar ons is baie, baie dankbaar daarvoor.
Ons loop ons lewenspad nie alleen nie. In ons voorspoed, maar ook in ons teëspoed en hartseer, is Hy by ons. Hy is ons Vader!