Wat getuig die Hervormde Kerk teenoor ons medegelowiges, die mense van Suid-Afrika en die owerheid? Watter vorm moet ons Kerk se bediening aanneem te midde van al die uitdagings waarmee ons te doen het? Wat moet ons doen om genoeg predikante met die regte vaardighede te kry wat in ons gemeentes kan dien? Hoe kan ons op die beste moontlike manier barmhartigheidswerk doen en ons diakonale werk effektief koördineer? Moet ons voortgaan om kinders van die nagmaal te weerhou? Is die Kerk gereed om ’n standpunt te stel oor genadedood? Moet ons ’n nuwe heffingsmodel vir die finansiering van ons gedeelde sinodale aktiwiteite aanvaar?
Dit is ’n paar van die vrae waarop die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) eersdaags antwoorde moet gee.
Die plek en formaat van die AKV is in ’n paar opsigte nuut. Ons vergader in Midstream en maak gebruik van die fasiliteite van Doxa Deo en ons eie gemeente, Midstream Familiekerk. Die vergadering se opening vind Maandagmiddag 6 Oktober plaas sodat predikante van ver eers hul gemeentelike verantwoordelikhede kan afhandel voordat hulle vertrek. Slimfone gaan gebruik word vir kommunikasie (WhatsApp en ’n webblad) én vir die stemming! Afgevaardigdes moet die agenda vooraf elektronies aflaai op ’n rekenaar of tablet.
Daar gaan sonder twyfel indringend debat gevoer word. Daar is dalk net 52 beskrywingspunte, maar daar is ’n hele paar moeilike sake waaroor afgevaardigdes waarskynlik uiteenlopende standpunte gaan inneem.
Die AKV sal vroeg-vroeg moet besin oor ons getuienis teenoor die gemeenskap waarbinne ons vandag leef. In ’n tyd soos dié kan die Kerk immers nie swyg nie. Maar wat beteken dit vir ons, vir ons medegelowiges, vir die mense van Suid-Afrika en vir die owerheid as ons glo dat die koninkryk van God ’n werklikheid is? Die AKV sal hulle moet uitspreek oor die geloofsverklaring wat die Kommissie van die AKV vir hierdie doel opgestel het. Sê dit die regte dinge? Sê dit genoeg? Moet die Kerk haar duideliker uitspreek oor die wêreld waarin ons lidmate van dag tot dag leef?
Dan is daar talle vrae oor die manier waarop ons vandag as Kerk byeenkom en saamwerk om die goeie nuus wat Jesus Christus gebring het te vier, om die gemeenskap van die gelowiges effektief en volhoubaar uit te bou, om te getuig van die hoop wat in ons leef, en om só te dien dat ons ’n aanwysbare verskil maak. Watter implikasies hou ons kollektiewe verstaan van kerkwees in vir verskillende gemeentes se aanslag in hul bediening? Watter strukturele vorme kan ’n gemeente aanneem en hoe kan ’n gemeente hul bedieninge eietyds en missionaal inklee? Hoe moet ons nie-lewensvatbare gemeentes hanteer? Wat hou dit in vir die bates van ’n bepaalde gemeente wat nie los van die groter kerkverband tot stand gebring is nie wanneer dit blyk dat hierdie gemeente nie meer volhoubaar is nie?
Die kerklike ampte waardeur mense in die Kerk en gemeentes werk, kom al drie in beskrywingspunte aan die orde. Die Kuratorium vir teologiese opleiding het ’n beskrywingspunt geformuleer waarin hulle voorstel dat die akademiese opleiding van teologiestudente tot vier jaar verkort word terwyl hul praktiese indiensopleiding in gemeentes tot twee jaar verleng word. Die Kommissie van die AKV het ’n beskrywingspunt ingedien om te verseker dat predikante erns maak met voortgesette bedieningsopleiding (VBO), aangesien daar in gemeentes en in die gemeenskap voortdurend nuwe en hoër eise aan ’n bedienaar van die Woord gestel word.
Aan die ander kant van die spektrum word voorgestel dat die bestaande aftreeouderdom van predikante op 65 jaar gehou word, maar dat predikante ná emeritaat steeds in ’n gemeente kan werk mits hulle ’n sertifikaat van gesondheid (fisies, emosioneel, intellektueel) kan voorlê en aan die vereistes van VBO voldoen. Daar is ook ’n beskrywingspunt van die ring van Losberg wat vra vir ’n ondersoek na die gefokusde toerusting vir predikante wat ná emeritaat voortgaan om in gemeentes te werk. Voorts mag emeriti in die toekoms dalk ook lid van die pensioenfonds kan bly indien hulle self ’n werknemersbydrae van 7,5% of meer betaal en dit geen verpligting vir ’n werkgewersbydrae op die Kerk plaas nie.
Ouderlinge moet – in die lig van die tekort aan predikante – ’n al groter rol in gemeentes speel. Daarom vra ’n beskrywingspunt vir gevorderde opleiding om die nodige bedieningsvaardighede by ouderlinge te ontwikkel sodat hulle effektief kan leiding neem in gemeentes, veral in vakante werkruimtes.
Die 73ste AKV het reeds in beginsel besluit dat die Kerk se diakonaat herstruktureer moet word. Die Algemene Diakensvergadering (ADV) het oor die afgelope termyn in oorleg met die Kommissie van die AKV deeglik aandag gegee aan hierdie opdrag. In beskrywingspunte wat voor die 74ste AKV dien, word nou gevra dat die struktuur van die ADV ontbind en dat die koördinering van die Kerk se barmhartigheidswerk binne die ruimte van die AKV self sal plaasvind. Dit hou onder meer in dat die Kommissie van die AKV self voortaan só saamgestel word dat daar – benewens ses predikante en sewe ouderlinge – twee diakens tot die Kommissie verkies word, en dat ’n Komitee vir Diakonaat tot stand gebring word wat barmhartigheidswerk kan koördineer. Hierdie voorstel hou uiteraard heelwat wysigings aan die Kerkorde in, wat insluit dat die 74ste AKV reeds vóór die verkiesing van ’n nuwe Kommissie van die AKV sal moet uitsluitsel gee oor aanvaarding van die betrokke beskrywingspunt.
Die kwessie van kinders se deelname aan die nagmaal is weer op die tafel. Die ring van Magalies en die ring van Pretoria versoek die AKV om opnuut te besin oor die uitsluiting van kinders van die nagmaal. Daar is geen nuwe studiestukke ingedien nie, maar hulle argumenteer dat vorige AKV’s en die studiestukke wat daar gedien het, uitgewys het dat daar geen Bybelse gronde of beginselbesware is om kinders van die nagmaal te weerhou nie.
Ten slotte die skerp klippie in baie mense se skoen: sinodale offergawes of heffings. Vir baie jare reeds word gedebatteer oor die huidige heffingsmodel wat op die getal belydende lidmate in elke gemeente gebaseer is. Daar word aangevoer dat hierdie uitgangspunt onbillik is teenoor gemeentes wat in armer gebiede werk, en dat dit dikwels ook daartoe lei dat gemeentes nie alle lidmate op hul boeke toon nie en ook geen ywer het om nuwe lidmate tot die gemeente toe te voeg nie.
Na heelwat diepgaande besinning stel die Raad van Finansies nou voor dat gemeentes se sinodale offergawes voortaan eerder op hul inkomste gebaseer moet word. Dit is ’n heel gesofistikeerde model met ’n aantal aansporings van kortings vir gemeentes wie se geouditeerde state op datum is en wat inkoop in die gedeelde dienste wat die Kerk vir effektiewe finansiële en administratiewe bestuur beskikbaar stel (Sage One, ekstranet, oornagbankfasiliteite, beleggings by die Raad van Finansies). Aan die ander kant stel die model ook penaliserings by die sinodale offergawe voor vir gemeentes wat nie goeie bestuursbeginsels handhaaf nie en wie se bestuursinligting verouderd is.
Oudergewoonte sal daar dus weer intense debatte gevoer word tydens die komende AKV. Tog is die AKV ook ’n besonder kosbare geleentheid waar predikante en kerkraadslede (ouderlinge én diakens) van al die gemeentes van die Kerk bymekaarkom om ons kollektiewe saamwees te beleef – een liggaam, een in ons roeping, een in geloof in die een Here, een in aanbidding van die een God en Vader van almal, onder leiding van die een Gees.
Dit is ons bede dat die Here self hierdie 74ste AKV sal seën.
(Dr Wouter van Wyk is sekretaris van die Kommissie van die AKV)