In die vorige twee aflewerings is gefokus op hoe en hoekom ons die Ou Testament lees, sowel as op die wyse waarop die Ou Testament in die liturgie aangewend kan word. Hierdie laaste aflewering van die reeks Die Ou Testament vir vandag handel oor die wyse waarop die Ou Testament sinvol in die prediking aangewend kan word.
In navorsing oor tendense in prediking het die Pew Research Center in 2019 bevind dat homilete of predikers oor alle Christelike tradisies heen in hul preke meer geredelik na boeke van die Nuwe Testament verwys as na boeke van die Ou Testament. Hoewel hierdie navorsing net geskoei was op verwysings na Bybelboeke in preke, vermoed ek dat dit ook die geval is met tekskeuse vir prediking. Baie predikante voel hulself gemakliker om uit Nuwe Testamentiese tekste te preek, eerder as uit die Ou Testament. Dit is egter nie ’n nuwe tendens nie. Sou ’n mens vra waarom dit die geval is, kan verskeie redes aangevoer word.
Eerstens sou aangevoer kon word dat die aard van Ou Testamentiese tekste predikante (en lidmate) intimideer, en tweedens dat die Nuwe Testament, deur Christus, die Ou Testament in vervulling laat gaan het, derhalwe is sekere tekste in die Ou Testament nie meer noodwendig van toepassing op ons lewens nie.
Hierdie manier van dink verskraal egter die diepte en rykdom van die Ou Testamentiese literatuur. Dit is gebou op wanpersepsies wat groei uit ’n gebrekkige bewussyn van die geskiedkundige agtergrond en literatuur van die Ou Testament. Miskien sal die uitweg wees om vas te stel wat die teologiese raamwerk van die Ou Testament is. Dit sal verhoed dat ons in geykte denke oor die Ou Testament verval.
Daar is al veel geskryf oor die teologie van die Ou Testament. Aanvanklik het denke rondom die teologie van die Ou Testament neergekom op ’n godsdiensgeskiedenis van Israel, wat strek vanaf die voor-Israelitiese godsdienstige strominge in Palestina tot en met die latere na-ballingskapse tyd. Maar om bloot alle tekste in die Ou Testament binne die godsdiensgeskiedenis van Israel te wil inpas, sê nog nie veel oor die teologiese denke van die Ou Testament of watter betekenis dit vir ons vandag het nie. ’n Verdere poging tot die verstaan van die Ou Testament was om die teologie van die Ou Testament te bepaal deur ’n sentrale tema te identifiseer. So is die verbond of die seën-belofte-skema byvoorbeeld gebruik as die bril waardeur alle tekste in die Ou Testament beoordeel is. Maar ook hierdie benadering het tekort geskiet. Hoewel dit meer teologies van aard is, kon al die uiteenlopende literatuursoorte en tekste van die Ou Testament nie binne hierdie skema pas nie.
Ten einde hierdie slaggate te vermy, is dit nodig dat die tekste van die Ou Testament verstaan word teen die historiese, kulturele en sosiale agtergrond van Israel en die ou Nabye Ooste. Wanneer hierdie agtergrond nie in ag geneem word nie, behandel predikers die Ou Testament dikwels in hul preke as ’n voorwaardelike oorsaak-gevolg-antwoordboek vir lewensvrae. Hierdeur word die komplekse aard van die Ou Testamentiese literatuur ontken. Die teologiese relevansie van die Ou Testament kan slegs in die prediking tot sy reg kom wanneer die literêre karakter van die Ou Testament toegelaat word om vir sigself te spreek. Dit behels dat predikers in hul prediking ook ’n sensitiwiteit kweek vir die unieke aard van die literatuursoorte in die Ou Testament. Die wysheidsliteratuur dra ’n bepaalde boodskap op ’n bepaalde wyse oor. Boeke soos Spreuke, Prediker en Job verteenwoordig elk apart én gesamentlik byvoorbeeld ’n groei en ontwikkeling in wysheidsdenke en -perspektiewe. Net so ook met die profetiese literatuur en vele van die ander literatuursoorte in die Ou Testament.
Die sleutel tot weldeurdagte prediking uit die Ou Testament is geleë in die beginsels van ’n literêre en historiese bewussyn. Dit veronderstel dat daar nie vanuit ’n enkele, universele interpretasiereël met Ou Testamentiese teologie omgegaan kan word nie, maar dat ’n breë teologiese raamwerk eerder geïdentifiseer kan word. So ’n raamwerk sal die verhouding van literêre eenhede en hul historiese agtergronde in verband bring met die verskillende motiewe, temas en teologiese konsepte in die tekste van die Ou Testament. Hierdie proses sal duidelik wys dat ons nie te make het met ’n enkele “teologie” van die Ou Testament nie, maar eerder met ’n veelstemmige verskeidenheid teologieë. Tog is hierdie teologiese stemme nie totaal van mekaar vervreem nie, maar verenig hulle eindelik om saam ’n koor te vorm wat regdeur die tekste van die Ou Testament sing van God se liefdevolle betrokkenheid by mense, by die skepping en in die wêreldgeskiedenis. Elke keer wanneer ons uit die Ou Testament preek, voeg ons ons stem by die stemme van die Ou Testament en getuig ons verder van God se veelkantige betrokkenheid in die wêreld.
[Vir ’n meer volledige uiteensetting van die inhoud in hierdie artikel, raadpleeg gerus die volgende bron: Prinsloo, GTM, 1994, “Die rol van Ou Testament Teologie in die prediking”, in Skrif en Kerk, 15(2), pp 358-376.]
(Dr Marina Kok-Pretorius is dosent en predikant in Gemeente Potchefstroom)