Op 23 Julie 2025 het prof Natie van Wyk sy nuwe publikasie, Die uitgebreide liturgiese kalender: ’n Kategismus, asook historiese en teologiese toeligting, aan dr André Ungerer, hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), tydens die finalejaar teologiestudente se kontakweek by die Sinodale Dienssentrum oorhandig.
Ná die bekendstelling was die houer wat volgepak was met dié boeke dolleeg. Die studente het byna elkeen een, sommige meer, geneem en gevra dat prof Van Wyk dit vir hulle teken. Dit was nie verrassend nie, want die inhoud van die boek is ’n skatkis vir enigiemand wat belangstel in die evangelie van Jesus Christus. Volgens prof Van Wyk is die handleiding ’n hulpmiddel vir leraars om hul gemeentepraktyk in te rig, met vrae en antwoorde oor die Christelike geloof. Dit is nie net nog ’n boek wat stof moet opgaar op die boekrak nie, maar ’n Bybels-teologiese handboek wat lesers toerus met historiese en teologiese inligting wat hulle na die tekste van die Bybel sal lei.
Belangstellendes, teologiestudente en selfs predikante wat al jare in die bediening is, sal baat by die inhoud van hierdie publikasie – daarom beskryf prof Van Wyk dit as ’n ontdekkingstog. Die doel van dié projek lê hom na aan die hart en verteenwoordig sy hoop vir die toekoms van die kerk: Mense moet die evangelie van Jesus Christus verstaan. Die liturgiese kalender met sy 27 ekskursies rus die leser toe oor die evangelie van Jesus Christus.
Daar is maar altyd dié vraag wanneer ’n teologiese boek gepubliseer word: Wat kan dit beteken vir iemand wat nie elke Sondag op die kansel staan nie? Die wêreld, is prof Van Wyk se aangrypende antwoord. Die uitnodiging is: Kom besoek dié wêreld en verryk die wêreld om jou!
(Ds Iwana Hartmann is die NHKA-joernalis en leraar in Gemeente Pretoria-Oos)