Twee kansels troon oor die liturgiese ruimte in die SP Engelbrecht-museum. Benewens die kerkgeskiedenis daarvan, beskik ons oor die restoureerder, mnr AS du Plessis, se noukeurige verslag van 1998. Mnr Du Plessis (geb1941) was toe ’n afgetrede brigadier by Korrektiewe Dienste, ouderling en lid van die eiendomskommissie van die historiese Gereformeerde Kerk Pretoria.

Die Transvaalse volksmeubelkenner en kultuurhistorikus dr Elize Labuschagne-Hull het ook haar kennis met ons gedeel.

Kansel van Schoemansdal/Zeerust

Daar word vertel dat hierdie kansel oorsponklik afkomstig is uit die kerkie op Zoutpansbergdorp/Schoemansdal (16 km wes van Louis Trichardt/Makhado), waar ds NJ van Warmelo die prediker was tussen 1864 en 1867. Die mooi nuwe baksteenkerkie is teen 1858 voltooi. Die dorp met sy 1 800 inwoners is binne ’n naweek ontruim en op 15 Julie 1867 afgebrand deur strydlustige Vendas. Men hoorde overal mokeren en hamerslagen aan hout, want balken, deuren werden losgebroken om elders te gaan bouwen. Ossewaens is swaar gelaai met alle kosbare en bruikbare voorwerpe op hul suidwaartse vlugtog. Dis toe dat die kansel ook gered is. Sedert 1869 staan die kansel in die ou kerkgebou van Gemeente Marico (die gemeente heet later Zeerust) op Zeerust. Die gebou is in 1876 vergroot en dalk is die kansel toe opgeknap en versier. Ds JC de Vries (bedien Zeerust 1867-1884) was in die Kaapkolonie ’n skrynwerker en het sy stokperdjie tot voordeel van sy gemeentes aangewend – moontlik selfs aan hierdie kansel. Dit dien as kansel tot in 1952. In 1969 is die kansel afgetakel en uit die ou gebou verwyder, en later na die SP Engelbrecht-museum geneem.

Hierdie is ’n ware volksmeubelstuk – met trots vervaardig toe slegs handgereedskap nog gebruik is. Gemaak uit die hout van Transvaal wat veral in die noordelike bosveld voorgekom het: boekenhout en tambotie. Die struktuur is van tambotie gemaak; dis ’n besonder digte en swaar hout. Vir die preekstoel het die maker tambotie gekies vir die struktuurelemente, en boekenhout vir die goties gevormde panele. ’n Mens kry moeilik planke wat so wyd is soos dié wat in die preekstoel se panele gebruik is – en hulle is meesterlik in die lengte aanmekaar gevoeg en dan as kussingvormige panele afgewerk. Die kussingpanele kan veral aan die binnekant van die preekstoel mooi gesien word. Aan die buitekant is die panele netjies ingewerk met ’n aparte gevormde houtstrokie – die werk van ’n meester. Die twee versieringsmotiewe aan die kroonlys van die stuk, vertikale houtinvoeg aan die bokant van die panele en sigsag om die Bybelplatform, gee die preekstoel ’n pragtige afronding. Selfs die stewige trap is volledig van boekenhout gemaak – nog ’n verwysing na die stuk se soliede plek in die geskiedenis van ons volksmeubels.

Die restourasie van hierdie kansel was ’n groot uitdaging en het baie tyd in beslag geneem, van Maart tot Augustus 1998. Dit was erg verwaarloos. Geen foto of skets van hoe hierdie kansel gelyk het, was beskikbaar nie. Dit het die restourasie en rekonstruksie aansienlik bemoeilik, maar gelukkig was daar ooreenkomste van spyker- en skroefgate in die panele en raamwerk. Die “vloer” waarop die vier pote nou staan, is spesiaal so gemaak om die pote wat blykbaar in die kerk se plankvloer geheg was, te huisves. Daar is duidelike tekens dat daar wel ’n trapreling was, maar hoe dit gelyk het, is totaal onbekend en geen materiaal wat moontlik daarvoor gebruik kon word, het die kansel vergesel nie.

Kansel van Konsulentsgemeente Pretoria

Die gemeente bestaan sedert 1869, bekend as Witfontein, omdat die kerkie op Vaal Martiens Prinsloo se plaas Witfontein was. Die sinkkerkie is gebou in 1883 – dit is die moontlike datering van die kansel. Dis ’n belangrike preekstoel in die NHKA se geskiedenis, want dit is voor hierdie kansel dat die gemeentevergadering in 1886 besluit het om nié met die Transvaalse NG Kerk te verenig nie en Nederduitsch Hervormd te bly. Die kerkie, genoem Die Ark, is in 1905 na die kerkplein op die dorp (Erasmus, nou genoem Bronkhorstspruit) verskuif en was in gebruik tot April 1913 toe die nuwe klipkerk ingewy is. Die predikstoel was die kansel waar ds MJ Goddefroy in 1887 deur oudl CJJ Joubert as dominee bevestig is.

Mnr Du Plessis berig dat hierdie kansel met ontvangs liederlik gebreek was. Al die trappe was uitgeskeur en moes vervang en/of herstel word. Hoofsaaklik handgemaakte staalspykers, wat die vaardigheid van toentertyd se ystersmid vertoon, is by die oorspronklike konstruksie van die kansel gebruik. Die restoureerder is van mening dat vyf verskillende houtsoorte gebruik is, naamlik oregon, kiaat, boekenhout, meranti, en grotendeels tambotie. Dit was moontlik as gevolg van herstelwerk in latere jare of na gelang van die beskikbaarheid van hout.

Met behulp van ’n swart-en-wit foto uit 1925 se Almanak kon die preekstoel weer gerekonstrueer en gerestoureer word. Langs die predikstoel staan NM Prinsloo, ouderling van Bronkhorstspruit, in die konsistoriekamer van die 1912-kerkgebou. Hoekom die groen gordyntjie onder die preekstoel? Dis bloot ’n praktiese versiering om die leë ruimte wat vorm wanneer die pote die staanvlak verhoog, te verbloem. Rondom die boonste rand was groen fraiings – geen kanselkleed.

Die Witfontein-kansel se lyne is strak en reguit, sonder enige fieterjasies, maar baie noukeurig gemaak en afgewerk. Die panele is met besonder mooi driedimensionele kussingpanele versier. Meubelstukke met sulke panele (of “kaste” in die algemeen) was baie skaars in Transvaal, en hierdie preekstoel kan as een van die beste voorbeelde van ’n “kas” beskou word. Die elegante, ingetoë eenvoud van die stuk plaas die fokus totaal op die prediker. ’n Pragtige Transvaalse stuk met liefde gemaak en gebruik deur ons mense.

Hierdie is twee preekstoele wat in ’n paar geboue gestaan het, en waarvandaan verskillende predikante se stemme in Nederlands en Afrikaans die evangelie verkondig het. Geslagte kerkgangers, vele huweliksbevestigings, begrafnisse, doop- en nagmaalgeleenthede, belydenis van geloof, bevestiging van dienaars van die Woord, diakens en ouderlinge – soveel het gewentel om hierdie fokuspunte.

(Ds Carel Johann de Bruin is emerituspredikant en sekretaris van die Komitee vir die Argief, Museum en Biblioteek)

Schoemansdal en Zeerust se kansel

Witfontein se kansel met die groen “gordyntjie”
Die kanselfoto’s is geneem deur dr E Labuschagne-Hull

Schoemansdal-kerkie, skildery van Paul Mare, 1866

Zeerust se 1869-kerkgebou

Witfontein Die Ark 1883-1912