Lees Daniël 3: 24-30
Al die volke, nasies en taalgroepe is opdrag gegee om koning Nebukadnesar van Babel se goue beeld te aanbid. Drie Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, steur hulle nie aan die bevel nie, en hulle word summier in ’n brandende vuuroond gegooi.
Tot die koning se ontsteltenis sien hy egter dat die drie vriende vry en ongedeerd in die vuur rondbeweeg – en om dinge erger te maak, sien hy meteens nie drie nie, maar vier manne in die vuur! Wie is Hy? Wie is die Vierde Man?
Die Vierde Man is die Groot Ek is; die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Vierde Man is die Almagtige Here, Skepper van Hemel en Aarde; die Sterkte en Heerlikheid. Hy is Noag se Reënboog; Abraham se Offerlam; Dawid se Slingervel; die Alomteenwoordige; die Heilige. Hy is die Hoëpriester; die Uitkoms; die Ewige; die Hersteller van Gebroke Lewens; die Regverdige Regter; die Voorsiener; die Hoeksteen; die Oorwinnaar; die Beskermer; die Rots en Veilige Vesting; die Groot Geneser. Hy is die Affodil van Saron; die Lelie van die Laagtes; die Blink Môrester. Hy word ook genoem: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Hy is die Woord wat Mens geword het; die Leeu uit die Stam van Juda; die Koning van die Konings; die Wonderdoener; die Middelaar; die Redder uit die Nood; die Verlosser; die Bruidegom van die Kerk. Hy is die Brood wat Lewe gee; die Lig vir die Wêreld; die Ingang vir die Skape; die Goeie Herder; die Opstanding en die Lewe; die Ware Wingerdstok; die Weg, die Waarheid en die Lewe. Hy is die Sondelose Lam; die Trooster; die Fontein van Lewende Water; die Vaste Hoop; die Onbeweeglike Lewensanker; die Alfa en die Omega; die Eerste en die Laaste; die Begin en Voleinder van die Geloof. Hy is Immanuel, God by ons. Hý is die Vierde Man in die vuuroond.
Toe Nebukadnesar Hom sien, kon hy nie anders nie as om te bely: Daar is geen ander god wat in staat is om so te red nie. Aan Hom die eer en aanbidding!
Dit is die Vierde Man wat ons beskerm en vir ons vaste rigting en ’n hoopvolle toekoms gee. Die Vierde Man daag altyd betyds op – binne-in die vuuroond, die leeukuil, die stryd, die ramp, die bankrotskap, die siekte, die teleurstelling, die konflik, die hartseer, die gebrokenheid, die moedeloosheid. Ongeag waarmee jy gekonfronteer word of hoe sleg dinge lyk, die Vierde Man sal ook in jóú lewe die verskil maak. Hy sal uitkoms, beskerming, krag, hoop, redding en seën bring.