Hierdie teks is ’n verwerking van prof Ananda Geyser-Fouché se inwydingslesing by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en Religie in September vanjaar.

Die ontdekking van die Dooie See-rolle in 1947 het ’n fundamentele verskuiwing in die verstaan van Bybelse tekste teweeggebring – ’n beweging vanaf ’n model van tekstuele stabiliteit na een van dinamiese veelvormigheid. Voor hierdie ontdekking het Bybelgeleerdes met die aanname gewerk dat daar ’n enkele, relatief stabiele teks bestaan het – die Masoretiese Teks. Vroeë studies het gefokus op literêre kritiek wat gelei het tot bronkritiek en die bronnehipotese. Tradisiekritiek en die groepering van tekste in genres het raamwerke gebied vir die verstaan van die samestelling van die Bybel. Die Qumran-manuskripte het egter hierdie paradigma ingrypend verander deur konkrete bewyse van tekstuele pluriformiteit in die laat Tweede Tempel-tydperk (ongeveer 250 vC tot 70 nC) te lewer.

Hierdie manuskripte het tradisionele aannames oor kanongrense fundamenteel uitgedaag. Wat eens as ’n duidelike afbakening tussen “Bybelse” en “nie-Bybelse” tekste beskou is, het in dubbelsinnigheid verval. Lang gekoesterde sekerhede oor skriftuurlike gesag moet heroorweeg word. Joodse en Christelike gemeenskappe handhaaf afsonderlike kanons wat boeke skei tussen heilige en nie-heilige. Hierdie manuskripbewyse toon ’n ander beeld van die Judaïsme gedurende die Tweede Tempel-tydperk. In hierdie periode, wat geëindig het met die vernietiging van die tempel in Jerusalem in 70 nC, is daar geen aanduidings van sulke rigiede kategoriese onderskeidings nie. Dit dui op ’n veel meer vloeibare begrip van teksgesag as wat voorheen erken is.

Tekstuele diversiteit is aan die lig gebring, wat aannames oor uniforme Bybelse tekste weerspreek het. ’n Tydperk van merkwaardige skrywersinnovasie is ontbloot. Voordat standaardisering plaasgevind het, het die skrywers aktief hersien en bygevoeg aan tradisionele tekste. Israel se nasionale literatuur is omskep in die verskillende Bybelse vorme wat ons vandag herken, byvoorbeeld die ontwikkeling van die korter Griekse teks van Jeremia tot die meer omvattende Hebreeuse teks. Die Qumran-geskrifte het ook beter tekstuele lesings verskaf, wat alternatiewe weergawes wat in die Samaritaanse Pentateug en Griekse Septuagint gevind word, bekragtig het. Dit het bewys dat hierdie alternatiewe nie korrupsies was nie, maar oorspronklike Hebreeuse variante, wat nou verlore is. Dit het hulle tot gelyke akademiese status as die tradisionele Hebreeuse teks verhef.

Intertekstuele geheue

Die bestudering van hierdie tekste maak dit duidelik dat dié tekste geskep is deur innoverende skrywers wat swaar gesteun het op intertekstuele geheue. Ek stel die konsep van “intertekstuele geheue” bekend as ’n sleutel tot die verstaan van die werkswyses van die skrywers. Hulle het oor ’n omvattende geheuebank (verstandsbiblioteek) van die gesaghebbende tekste beskik, wat hulle in staat gestel het om verbindinge in te weef met aanhalings, sinspelings, verwysings en temas dwarsoor die korpus van die ontluikende geskrifte.

Beide die skrywers en hul gehore het ’n geheuebank van bestaande tekste (hetsy mondelings of skriftelik) gehad, wat hulle woord vir woord onthou het. Die intertekstuele geheue verbind frases, verse en selfs beeldspraak spontaan in nuwe situasies soos wat hulle tekste onthou. Tekste is gehoor en geïnterpreteer met ’n hele korpus van tekste as agtergrond in die geheue. Die skrywers van die Tweede Tempel het hierdie tekste aangehaal, daarna verwys, of dit uitgebrei. Hulle het staatgemaak op hul gehore se intertekstuele geheue om die intertekstuele verbande te trek, aangesien dit juis die metode was waarmee hulle hul boodskap oorgedra het. Soms was ’n boodskap verskuil in dit wat nie gesê is nie, of dit wat weggelaat of verander is.

’n Praktiese voorbeeld: Spreuke 31

Ek wil die konsep van intertekstuele geheue illustreer deur te verwys na Spreuke 31: 10-31 – die welbekende teks oor die “volmaakte vrou”.

Hierdie teks, saam met Spreuke 1-9, word beskou as later as die res van Spreuke en word gedateer in die tyd van die Tweede Tempel. Spreuke 1-9 fokus veral op die personifikasie van wysheid. Spreuke 1-9 en 31: 10-31 vorm ’n letterkundige insluiting (inclusio) wat die boek omarm. Die positiewe metafoor verwys na Vrou Wysheid, terwyl die negatiewe een, wat verwys na die egbrekende goddelose vrou, dwaasheid beskryf. Met enkele intertekstuele skakels, wil ek demonstreer dat die vrou in Spreuke 31 ook gepersonifieerde wysheid is – die teenoorgestelde van dwaasheid.

Die teks begin met die vraag na wie ’n knap of deugsame vrou kan vind en sê sy is veel meer werd as korale (juwele). Hierdie vraag roep spontaan in die intertekstuele geheue ander verwysings op na die waarde en onverkrygbaarheid van wysheid (Spr 2: 4-6; 3: 13-15; 8: 11; 16: 16; 20: 15).

Spreuke 31: 30 is die klimaks (hoogtepunt) van hierdie gedeelte waar die sleuteldeug van dié vrou genoem word – “die vrees (ontsag) vir die Here” – soos dit vroeër die beginpunt van wysheid is (1: 7, 9: 10) sowel as die toppunt (2: 5; 3: 7).

Sowel Vrou Wysheid (Spr 9: 1-6, 14: 1) as die deugsame vrou (Spr 31) is in beheer van aansienlike huishoudings (Spr 9: 1-6, 14: 1), en beskik oor morele integriteit (Spr 1: 33, 31: 11), terwyl Vrou Dwaasheid in kontras met hulle is (Spr 2: 16; 5: 3, 20; 6: 24, 25; 7: 5, 26; 9: 13-18, 14: 1).

Vir die antieke gehoor was hierdie skakels dadelik opmerklik. Die vrou in Spreuke 31 word ’n “sterk vrou” of “vrou van krag” genoem, eerder as “Wysheid”, tόg put hierdie gedig duidelik uit dieselfde metaforiese taal wat gewoonlik vir gepersonifieerde Wysheid gebruik word in Spreuke 1-9. Die intertekstuele verbindings suggereer dat Spreuke 31: 10-31 opsetlik geskep is as ’n samevattende portret, wat die boek se sentrale temas in ’n konkrete voorbeeld saamweef van wysheid in aksie.

Verbindings tussen oënskynlik uiteenlopende tekste

Ou Testamentiese wetenskap is bekend vir silo-studies. Die boeke van die Hebreeuse Bybel word gekategoriseer in die Torah, die Profete en die Geskrifte, en sό word dit ook bestudeer – een persoon is ’n Pentateug-geleerde, ’n ander bestudeer die profete, maar gewoonlik word dit nie oorweeg om die Torah saam met Wysheidsliteratuur te bestudeer nie.

Ironies genoeg is beide hierdie praktyke – die kanonproses en genre-onderskeiding – anachronistiese benaderings. Skrywers van hierdie tekste het nie bedoel dat dit vanuit so ’n hoek gelees of verstaan moet word nie. Die proses van kanonisering, selfs van die Hebreeuse Bybel, was ’n baie laat gebeurtenis. Die intertekstuele geheue van die Tweede Tempel-skrywers en hul gehoor was vloeibaar. Hulle het nie tekste volgens genre gekategoriseer nie. Hulle het uit hul geheue geput om hul boodskap oor te dra. Ek wil sê dat hulle die prototipe gevorm het van wat ons vandag as Kunsmatige Intelligensie ken, deur uit ’n web van kennis te onttrek wat hulle wou en kon gebruik in die skep van hierdie hersiende/herskryfde tekste.

Die kreatiewe gebruik van intertekstuele geheue: 4QMMT

4QMMT is ontdek in grot 4 van Qumran, bekend as die Wettiese Brief – Halakhic Letter. Ek gebruik dit as gevallestudie om twee aspekte uit te lig. Eerstens dat skrywers nie tussen genres onderskei het nie – wysheid en wetlike perspektiewe is gekombineer om herskryfde tekste te skep. Tweedens is 4QMMT nie net herskryfde wettiese materiaal uit die Pentateug nie, maar die skrywers het swaar op die intertekstuele geheue van die gehoor gesteun om tussen die lyne te lees. Hulle het hul boodskap beklemtoon deur na bestaande tekste te verwys.

Die paraenetiese gedeelte (4QMMT C) bevat nie net oorvloedige wysheidsterminologie en woordeskat nie, maar sluit ook verskeie gevalle in waar wysheidsuitdrukkings subtiel verander is. Die mees opvallende veranderings kom voor in gedeeltes waar JHWH of God vervang word met “Torah” (wet).

Die eerste voorbeeld is die moontlike toespeling op die “vrees vir die Torah” (C23-24), waar die konvensionele wysheidsfrase “vrees vir JHWH” (Spr 1: 7, 29; 8: 13; 10: 27; 14: 2, 26, 27; 15: 33; 16: 6; 19: 23; 22: 4; 23: 17), vervang is met “vrees vir die Torah”. Die daaropvolgende reël stel “soek die Torah” wat herinner aan Spreuke 28: 5: “hulle wat JHWH soek”. Die derde voorbeeld is die stelling: “Want ons het by julle gesien, insig en kennis van die Torah”. Dit herinner aan Spreuke 2: 5: “sal jy insig hê in die vrees van die Here en kennis van God vind”. Die vierde voorbeeld is in C27-28: “neem dit ter harte, en jy sal na Hom terugkeer met jou hele hart en met jou hele siel”. Die idee om iets ter harte te neem, word primêr erken as ’n wysheidselement (Spr 3: 3, 5; 7: 3), terwyl die res van die stelling verbind met die Sjema (Deut 6: 4-6).

In al drie gevalle word die Torah beklemtoon. Halakah was so betekenisvol vir die skrywers dat hulle die vrees of ontsag vir die Torah bo die vrees vir JHWH verhef het, wat hul polemiese standpunt weerspieël.

Alhoewel die wysigings subtiel was, sou die geheue van die Tweede Tempel-gehoor dit nie gemis het nie. Dit kan vergelyk word met die hoor van ’n bekende gesegde waarvan een woord verander is – dit word dadelik opgemerk en verstaan as doelbewus en betekenisvol. Net so het die antieke gehore die subtiele veranderings en verwysings onmiddellik raakgesien. Dit sou ’n reeks verbindings in hul gedagtes aan die gang sit.

Dit is duidelik dat hulle nie beoog het om die bestaande of vroeëre tekste oor te skryf (te vervang) nie. Hulle wou dit herinterpreteer in ’n nuwe konteks en nuwe beklemtonings byvoeg. Hulle het ook geweet dat die intertekstuele geheue van die gehoor die verskil in nuanse sou oplet en die beklemtoonde ideologie sou opmerk. Wysheidsfrases is verander om die belangrikheid van die Halakah te beklemtoon.

Slotopmerking

Ek stel voor dat Bybelse wetenskap moet wegbeweeg van anachronistiese kategoriese raamwerke. In plaas daarvan om tekste in kunsmatige isolasie te bestudeer, is ’n meer holistiese benadering nodig, wat die denkwyse van die skrywers van die Tweede Tempel weerspieël. Skrywers en hul gehore het hierdie tekste as ’n onderling verbonde geheel ervaar, waar intertekstuele geheue kreatiewe herskrywing moontlik gemaak het.

Ek wil voorstel dat ons moet ophou om na die “oorspronklike teks” te soek en soveel tekste moontlik langs mekaar moet lees. Tekstuele veelvormigheid moet omhels word, terwyl ons soek na intertekstuele skakels of doelbewuste afwykings. Sensitiwiteit vir intertekstuele verbindings is noodsaaklik, aangesien die skrywers op die gehoor se intertekstuele geheue staatgemaak het om verbindings te maak of doelbewuste veranderings op te merk, want met subtiele tekstuele veranderings het hulle hul ideologie beklemtoon.

(Prof Ananda Geyser-Fouché is professor in Ou Testamentiese en Hebreeuse Studies aan die Universiteit van Pretoria en leraar in Gemeente Philadelphia)