Ek het nie Hervormd groot geword nie. Al wat ek van die drie susterskerke geweet het, is dat my oupa ’n diaken in die NG Kerk was – nie dat ek geweet het wat ’n diaken is of doen nie. Ek het as jongmeisie ook nie gereeld kerk toe gegaan nie. Die meeste geestelike begeleiding wat ek op daardie stadium ontvang het, was in my oupa en ouma se sitkamer. Dit was eers in my tienerjare dat ek myself in die charismatiese kringe bevind het en waar ek vir ’n hele klompie jaar gebly het.

My eerste formele ontmoeting met die Hervormde Kerk was in 2022 ná ek en my man Rustenburg verhuis het. Ek het na werk by ’n kerk gesoek, omdat ek destyds besig was om my teologiestudie by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) te voltooi. Ek het op die een of ander manier in kontak gekom met die predikante van Gemeente Rustenburg-Tuine: di Johnny Young (een van ons huidige predikante) en Janine Bevolo-Manders (’n vorige predikant). In my eerste gesprek met ds Janine het sy herhaaldelik beklemtoon dat die Hervormde Kerk nie soos die charismatiese kerk is nie. Daar is nie rookmasjiene nie, daar is ook nie harde musiek nie. Dit is meer kontemplatief en tradisioneel. In my naïwiteit het ek gedink ek verstaan wat sy bedoel.

My heel eerste erediens wat ek by Gemeente Rustenburg-Tuine bygewoon het, was op 1 Januarie 2023. Ek het nie geweet wat om met my hande te doen, wanneer om op te staan, wanneer om te sing en wanneer om stil te bly nie. Ds Janine was reg. Ek was glad nie daaraan gewoond nie. Dit was eers toe die prediking begin dat ek besef het ek is op die regte plek. Die prediking en die teologie het soos huis gevoel en het ek Sondag vir Sondag na die erediens teruggekeer. Ek het lief geraak vir die liturgie en daarmee saam het ’n groter waardering en ontsag vir hierdie tipe aanbidding in my ontwikkel. Nou, ongeveer drie jaar later, is ek ’n finale jaar teologiestudent van die NHKA en ek wil niks anders as ’n Hervormde dominee wees nie.

Boonop het ek nog nie op een plek soveel vriendelike en liefdevolle mense teëgekom nie. Ek is as buitestaander en vreemdeling met ope arms in die gemeente verwelkom. My gemeente het elke idee en elke passie wat ek het, omarm en my gehelp om dit te ontwikkel. Waar ek in baie ruimtes gevoel het dat ek eers iets moet bewys, het Gemeente Rustenburg-Tuine my eenvoudig as mens aanvaar. Wanneer ek myself in ’n krisis bevind, is die gemeentelede die eerste mense waaraan ek dink. Ek het mentors gevind wat my teologies begelei en help om die kompleksiteit van bediening te navigeer. Die gemeentelede het mý mense geword. Ek het tuisgekom – nie net teologies nie, maar ek het tuisgekom by mense.

Ek sluit af met hierdie gedagte: God het na my toe gekom in die vorm van my lewe. As ek nie my oë en ore gespits het nie het ek dit dalk gemis, want dit het anders gelyk as wat ek verwag het. Hierdie charismatiese meisie het by Gemeente Rustenburg-Tuine, en dan nog verder ook by die Hervormde Kerk, tuisgekom. Ek sien my pad vorentoe as ’n voortbouing op hierdie tuiskomgeskenk wat ek ontvang het.

Hooffoto: Rolandi Mc Geer saam haar mentorpredikante di Johnny Young (links) en Erika Ferreira (regs)