The best way to predict the future is to invent it. Met hierdie passie-uitroep het Alan Kay dit duidelik gemaak dat die toekoms nie net iets is wat met jou gebeur nie, dit raak ook menslike agentskap. Ons kan deelhê en help om idees, denke en gehoorsaamheid te vorm. Vir my sê dit iets oor die deelname van elke lidmaat van die Kerk – ons is nie net toeskouers van môre nie, maar medewerkers aan dit wat kan wees.
En tog leer die Bybel ons om dié agentskap reg te balanseer. Jakob was op vlug, onseker en sonder planne toe hy by Bet-El aan die slaap raak en droom. Hy kry nie ’n netjiese roetekaart nie, maar ’n belofte: Ek is met jou. Wanneer hy opstaan, is sy omstandighede nie skielik maklik nie, maar sy rigting is nuut. Hy rig ’n teken op, maak ’n gelofte en stap verder as iemand wat deur God se teenwoordigheid gedra word. Dis vir my die kern: ons beplan en bou, maar binne God se belofte en leiding.
Dié gebeure sê vir my iets van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) se funksie en doel. Die HTK is nie net ’n plek waar predikante opgelei word nie, dit is ’n plek wat die Kerk se toekoms help vorm – ’n ruimte waar roeping, akademie en gemeente mekaar ontmoet.
Die HTK bestaan al sedert 2000 en dis ’n plek waar teologie nie net gedink word nie, maar geleef word – waar roeping gestalte kry. Wanneer ek vandag as nuwe hoof van die HTK na die jaar wat voorlê kyk, is daar twee dinge in my hart: dankbaarheid vir die pad wat al geloop is, en ’n stil maar standvastige hoop vir die pad wat nou begin.
Ek dink terug aan prof Theuns Dreyer se jare as hoof van die HTK en hoe hy met groot erns waarde geheg het aan die akademiese posisie van die HTK én aan die veilige ruimte vir studente. Ek onthou hoe studente destyds soms die skokgolwe rondom verandering gevoel het – nie omdat alles al duidelik was nie, maar omdat ons nog nie die volle landskap van die Kerk kon sien nie.
En nou jare later herhaal sommige van daardie vrae hulself. Verandering bly deel van die speelveld, en die Kerk voel die uitdagings aan haar lyf: verhoudings, vennote en die roetes vorentoe. Die eerlike antwoord is dat tyd dit gaan aanwys. Maar ons weet ook dat verandering dikwels die ruimte is waar nuwe gehoorsaamheid en nuwe verhoudings gebore word.
’n Paar jaar terug het ek in Arnold van Gennep en Victor Turner ’n lens gekry om na kerk en opleiding in ’n veranderende tyd te kyk. Van Gennep herinner ons dat oorgange sinvol begelei moet word – nie net deur los besluite nie, maar deur ’n geheel wat mense dra. Turner beskryf liminaliteit as ’n drempeltyd, betwixt and between – nie meer heeltemal tuis in die ou rol nie, maar ook nog nie gevestig in die nuwe een nie. En juis daar kan communitas ontstaan – ’n eenvoudige, brose maar ware saamhoort, waar status en ou etikette vir ’n oomblik terugstaan, en ’n gedeelde roeping na vore kom.
Indien ’n mens dit Kerk toe bring, help hierdie lens my om verandering nie net as krisis of administratiewe skuif te sien nie, maar as ’n rite of passage wat doelbewus begelei moet word. Die tussentyd is nie verlore tyd nie – dit is vormingstyd wat ons óf kan mors óf kan heilig.
Hier raak dit direk aan die HTK. Teologiese opleiding is op die kruispad van kerk en wêreld, roeping en praktyk, akademie en bediening. Die HTK kan en móét ’n plek wees waar die liminale fase nie net oorleef word nie, maar verantwoordelik gefasiliteer word – leergemeenskappe waar studente en dosente saam leer; mentorskap waar ’n student, ’n dosent en ’n gemeentementor ’n driehoek vorm; en spanprojekte waar uiteenlopende mense ’n gedeelde bedieningsvraag aanpak. Die doel is nie net beter planne nie, maar ’n beleefde werklikheid van saamwees wat uiteindelik gestalte kry in volhoubare praktyke.
Wat lê prakties vir die HTK in hierdie nuwe jaar voor? Vir die volgende drie jaar wil ons fokus op verskillende maniere waarop die Kerk blymoedig kerk kan wees. Ons wil gemeentes en lidmate nooi om deel te wees van Verdere Teologiese Toerusting (VTT) in hul eie geloofsgemeenskappe – ’n plek waar kollegialiteit en saamleer reeds sigbaar groei.
Op die vlak van opleiding ondersoek die Kuratorium op grond van die laaste AKV se opdrag hoe die opleiding vorentoe kan lyk. Intussen bly dit belangrik om eerlik te sê dat vir die komende tyd lyk dit of die kurrikulum grootliks dieselfde gaan bly, terwyl die beplanning voortgaan.
En tog is die aantal studente miskien die grootste uitdaging. Teologiese opleiding leef nie van dokumente nie, maar van mense en verhoudings – gelowiges wat die roepstem van God hoor en waag om te antwoord. Daarom wil ons elke gemeente uitnooi om doelbewus moontlike studente en toekomstige predikante te identifiseer, te begelei en te ondersteun. Ons sien uit na elke geleentheid saam met studente om roeping te help onderskei.
Ons droom ook nie alleen nie. Daar is ’n rykdom aan kundigheid in die breër kerk en akademie en ons sien met verwagting uit na samewerking wat eerlik, diensbaar en volhoubaar is.
My gebed vir hierdie jaar is dat ons, soos Jakob, sal opstaan met ’n belofte in ons ore en ’n pad onder ons voete. Dat die Here ons oë helder sal maak vir sy toekoms, en ons hande sterk sal maak vir sy werk. Dat ons drome nie ’n ontsnapping uit die hede sal wees nie, maar ’n geloofsantwoord binne die hede – ’n manier waarop ons saam met Hom die toekoms begin bedink én begin leef tot diens van sy kerk.