Die Iroquois is ’n groep inheemse Amerikaners wat vir ongeveer 4 000 jaar reeds in die omgewing van New York en Ontario woon. Hulle het vroeër ’n interessante remedie gebruik om depressie of neerslagtigheid te behandel. Hulle was van mening dat depressie ontstaan omdat wense onvervuld bly. Wanneer dít wat jy van harte begeer realiseer, sou jou depressie iets van die verlede wees. Aangesien baie mense nie noodwendig geweet het wat hulle regtig nodig gehad het nie, het drome ’n prominente rol in die herstelproses gespeel. Dit was die gebruik onder hierdie groep om elke droom wat hulle kon onthou met ander te deel. Die warboel van gedagtes uit die drome is in begeertes en behoeftes omskep. Dit was vervolgens jou medemens se taak om jou drome of begeertes te laat waar word. Die onbewuste of onderbewuste behoeftes of begeertes van elke individu is dus aangespreek en jou depressie sou iets van die verlede wees, of dit sou ten minste na so ’n vlak daal dat jy sinvol in jou leefwêreld kon funksioneer.

Dit is natuurlik ’n uiters eenvoudige manier om komplekse toestande met diverse manifestasies en behandeling aan te spreek. Elkeen wat deur die jare navorsing oor depressie gedoen het of daarmee te make gehad het, sal weet dat dit ’n wye en ingewikkelde studieveld is.

Baie van ons het egter steeds die neiging om vroeg in ’n nuwe jaar ook eenvoudig oor ons eie geestelike welsyn te dink. Ons droom drome en koester ideale rakende die volgende klompie maande en hierdie drome of ideale is soms, realisties gesproke, buite ons bereik. Ons glo nietemin dat die realisering van hierdie drome, ideale of voornemens al dan nie ons welstand sal bepaal. Ons sal soms selfs die uitspraak maak: Hierdie gaan ’n goeie jaar wees, asof ons geen teenspoed of uitdagings binne die volgende 12 maande te wagte kan wees nie. Die werklikheid is dat die tydsgees tans eise aan ons stel wat, so voel dit, bo ons vermoë is. Die wêreld roep ons immers op om meer en beter te wees as waartoe ons dikwels in staat is. Die gevolg van drome of voornemens wat bo ons vermoë en buite ons bereik is en daarom nie realiseer nie, is soms teleurstelling.

Teleurstelling leef natuurlik op verskillende vlakke. Teleurstelling oor ’n sportspan wat nie presteer nie is van verbygaande aard. Teleurstelling oor iemand in jou binnekring wat jou te na gekom het, hou dalk langer. Teleurstelling oor ’n lewe wat totaal en al in ’n verkeerde rigting beweeg het of wat nie die eise van die dag kon haal nie, is egter heelwat erger. Vanuit teleurstelling groei soms selfbeeldprobleme en heelwat ander seer. Nuwejaarsvoornemens en die realisering daarvan al dan nie, sal dus nie noodwendig my geestelike welstand bepaal nie.

Ideaal gesproke behoort ons eerder realisties en gelykmatig oor die toekoms na te dink. Die Griekse woord sophroneo het verskillende betekenismoontlikhede in Afrikaans. Die een moontlikheid wat vir my persoonlik uitstaan, is: om in beheer van jou denke te wees. Om dus gelykmatig en realisties oor jouself en die wêreld om jou te dink. Hou, in meer eietydse terme, jou voornemens en toekomsdrome binne die perke van jou vermoëns.

Die gebruik van die woord sophroneo in Romeine 12: 3 (AFR83) het my in die besonder opgeval: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Bestuur dus jou selfevaluering, en wyer gesproke die drome wat jy droom en die ideale wat jy koester, met verantwoordelikheid. Probeer om ’n realistiese beeld te vorm wanneer jy by wyse van spreke in die spieël kyk. Dit geld uiteraard ook vir ons voornemens en drome vir die nuwe jaar. Leef binne jou perke, ontwikkel en groei, maar wees realisties. Richard Rohr skryf in sy boek, Immortal Diamond, dat die egte jy daardie deel van jou is wat presies weet wie jy is en belangriker nog, Wie s’n jy is. Sophroneo vra dat ons rustig en kongruent sal wees. Hoe nader ons leef aan wie ons werklik is, hoe meer gelykmatig behoort ons verwagtinge, emosie en optrede te wees. Dit is moontlik een manier om seker te maak dat jou teleurstellings nie te groot sal wees nie.

Die huidige jaar gaan uiteraard nie sonder ’n mate van seer en mislukkings verloop nie. Dit weet ons al teen hierdie tyd. Die jaar behoort genadiglik ook ’n mate van vreugde en hoop op te lewer. Gelykmatige sophroneo-denke beteken dat ons beide vreugde én uitdagings te wagte kan wees en vrede daarmee kan maak.

Ons vra voorts in hierdie tye wêreldwyd van owerheid en onderdaan om gelykmatige denke en gepaste aksies na te streef. Soms voel dit immers asof die grense van gelykmatigheid wyd oorskry word. Gelowiges het die roeping om ’n profetiese woord in die wêreld te spreek oor onreg wat gepleeg word, vreemde besluite en onbillike optrede. Ons ware bydrae lê egter in die voorbeeld wat ons vanuit die Here se Woord na die wêreld terugkaats. 

Indien ons weet aan Wie ons behoort en indien ons weet dat ons nie ’n enkele tree sonder Hom kan gee nie, sal die realisering van voornemens, drome en ideale al dan nie minder belangrik wees. Dit sal keer op keer genoeg wees om te weet dat Hy God by ons en God met ons is, ongeag.