Die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die NHKA wat in Oktober 2025 in Midstream vergader het, het met Besluit 1 ’n dokument getiteld Geloofsverklaring 2025 sonder enige teëstem aanvaar. Die notule wys dat die Geloofsverklaring met algemene instemming vir gebruik in die Kerk goedgekeur is. Dit op sigself is merkwaardig, gesien hoe belangrik die kerklike belydenis in die lewe van reformatoriese kerke is. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Hervormde Kerk dat die AKV so ’n ingrypende en omvattende besluit geneem het.

Die AKV het die Geloofsverklaring aanvaar as riglyn vir:

  • die Kerk se getuienis in die wêreld;
  • die Kerk se getuienis teenoor die owerheid;
  • die Kerk se roeping en dienswerk;
  • die Kerk se besluite en kerkordelike reëlings; en
  • die Kerk se teologiese arbeid.

Om Besluit 1 van die 74ste AKV (2025) en die Geloofsverklaring beter te verstaan, is dit nodig om in gedagte te hou dat die gesprek oor die kerklike belydenis en belydenisskrifte al vir 30 jaar in die Hervormde Kerk aan die gang is. Die bedoeling van Beskrywingspunt 1 was enersyds om die heftige en somtyds kwetsende gesprek oor die kerklike belydenis en leer tot ’n sinvolle einde te bring, en andersyds om as aktuele belydenis in ons huidige konteks te dien.

Daar was verskeie momente in die resente geskiedenis van die Hervormde Kerk wat aanleiding gegee het tot die woordestryd oor die belydenis. Van hierdie momente word vervolgens kortliks bespreek.

Reeds gedurende die AKV in 1995 het die binding aan die belydenis ter sprake gekom, en was daar ’n duidelike verskil van mening. Ná die AKV, op 4 November 1995, het ’n groep predikante en lidmate van die Hervormde Kerk die sogenaamde Eietydse Getuienis op Hervormingsondag uitgereik. Dié Getuienis het die bedoeling gehad om ’n vurk in die pad aan te dui, te wete uiteenlopende teologiese rigtings en standpunte oor die belydenis van die Kerk. In die Eietydse Getuienis word die stelling gemaak dat die belydenisskrifte in die verlede die eenheid van die Hervormde Kerk bewaar het, maar dat dit nie meer so is nie, omdat diverse standpunte oor die kerklike belydenis in die Hervormde Kerk geduld word. Die gesprek oor die kerklike belydenis en leer het om verskeie redes in skerpheid toegeneem. Dit is op die spits gedryf deur navorsing van die Jesus Seminar oor die historiese Jesus, waaraan enkele Hervormde predikante deelgeneem het. Dit het sedert die 1990’s onrus in die Hervormde Kerk veroorsaak. Die navorsingsmetodologie en insigte van die Jesus Seminar is internasionaal, in Suid-Afrika en ook in die Hervormde Kerk bevraagteken. In die Hervormde Kerk het dit gelei tot ’n klag van dwaalleer wat nie gehandhaaf is nie. Dit het weer tot verdere beskuldigings gelei dat die Hervormde Kerk vrysinnige teologie en dwaalleer duld, en die kerklike belydenis verwater.

Die gesprek oor die Kerk se teologiese begronding van apartheid is op die spits gedryf toe vyf Hervormde dosente dit in die openbaar gekritiseer het. Die Kommissie het die saak op die agenda van die 69ste AKV (2010) geplaas. Met Besluit 54 (2010) het die AKV die teologiese regverdiging van apartheid afgewys. Dit het tot verdere beskuldigings van dwaalleer teen die Hervormde Kerk en die AKV gelei. Te midde van dié woordestryd is die Hervormde dosente daarvan beskuldig dat hulle nie meer Bybels-reformatoriese teologie beoefen nie, maar eerder ekumenistiese en bevrydingsteologie beoefen. Daarna het ’n groep lidmate en predikante, wat bekend geword het as die steedsHervormers, hulle van die Hervormde Kerk afgeskei, omdat hulle van mening was dat die Hervormde Kerk dwaalleer en liberale teologie in sy midde duld.

Sedert 2001 is ook gepoog om die Hervormde Kerk se lidmaatskap van World Alliance of Reformed Churches (WARC, tans WCRC/WGGK) te herstel wat in 1982 beëindig is nadat die WARC ’n status confessionis ten opsigte van die NG Kerk en die Hervormde Kerk verklaar het. Die status confessionis het gestel dat die NG Kerk en die Hervormde Kerk teologies fouteer (theological heresy) deur apartheid teologies te regverdig. Verskeie AKV’s het die status confessionis, asook die herstel van lidmaatskap van die WGGK, bespreek. Ná uitgebreide onderhandeling tussen die WGGK en die Hervormde Kerk is die lidmaatskap van die Hervormde Kerk weer herstel. Dit het opnuut beskuldigings van dwaalleer tot gevolg gehad.

Die steedsHervormers wat in 2011 van die NHKA weggebreek het ’n Staat van Belydenis teen die NHKA verklaar, waarin beweer word dat die besluite van die NHKA oor apartheid die evangelie van Jesus Christus, die opgestane Here, verloën. Die stelling is ook gemaak dat die NHKA die gesag van die Heilige Skrif en die belydenisskrifte ondermyn.

Teen die agtergrond van ingrypende sosio-politieke verandering sedert 1994, ekonomiese uitdagings asook verandering op die kerklike en teologiese terrein, is dit te verstane dat die gesprek in die Hervormde Kerk dikwels met groot spanning gepaard gegaan het.

Om dié saak aan te spreek, het die AKV reeds in 2001 ’n beskrywingspunt aanvaar dat die moontlikheid van ’n eietydse belydenisskrif ondersoek moet word. Te midde van uitdagings wat die Hervormde Kerk en die Kommissie van die AKV die hoof moes bied, het die saak van ’n eietydse belydenis aanvanklik nie veel aandag geniet nie. Dit was eers tydens die 72ste AKV (2019) wat soos volg besluit is:

Die vergadering besluit, in lyn met ’n aanbeveling van die Dosentevergadering wat reeds in 2001 gemaak is, dat die wenslikheid van ’n eietydse kerkeie belydenisskrif verder ondersoek word om ons verstaan van die evangelie eietyds te verwoord.

By die 73ste AKV (2022) is oor die moontlikheid van ’n eietydse belydenis terugvoer gegee, en daar is verder besluit:

Die 73ste AKV gee opdrag dat die Barmen Verklaring wat in 1934 in Duitsland tot stand gekom het, in Afrikaans vertaal word vir verdere oorweging, gesien die traumatiese en verwoestende omstandighede in Suid-Afrika. Grootskaalse korrupsie, staatskaping, armoede en geweld roep die Kerk op om profetiese getuienis te lewer, en nie verder te swyg nie. ’n Aangepaste weergawe van die Barmen Verklaring kan hierin behulpsaam wees.

Die opdrag van die 73ste AKV ten opsigte van die Barmen Verklaring is uitgevoer. Die Kommissie van die AKV het opdrag gegee om die Barmen Verklaring te vertaal, en ’n eietydse geloofsverklaring op die voetspoor van die Barmen Verklaring op te stel. Die vertaling van die Barmen Verklaring en konsepgeloofsverklaring is aan predikante en gemeentes gestuur met die versoek dat kerkrade, predikante en teoloë teen 16 Mei 2025 kommentaar moes lewer. Die kommentaar wat ontvang is, is verwerk en het neerslag gevind in die dokument wat in die agenda van die 74ste AKV opgeneem is.

In die opstel van Geloofsverklaring 2025 is daar rekening gehou met die onderskeid tussen belydenis, belydenisskrifte, geloofsverklaring en getuienis:

  • Die term belydenis verwys na die ekumeniese belydenis soos dit deur die vroeë kerk verwoord is in die Twaalf Artikels, die Belydenis van Nicea en die Belydenis volgens Athanasius en opgeneem is in die Diensboek van die Ned. Hervormde Kerk van Afrika.
  • Die term belydenisskrifte verwys na die belydenisskrifte wat tydens die Kerkhervorming ontstaan het en die reformatoriese geloof verwoord. Van die talle belydenisskrifte wat in die 16de eeu ontstaan het, het die Kerk die Drie Formuliere van Enigheid (te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) as normatief aanvaar en in die Diensboek opgeneem.
  • Die term geloofsverklaring bevat elemente van belydenis, maar staan nie op dieselfde vlak as die Kerk se belydenis of belydenisskrifte nie. Dit dien as openbare verklaring en beginselstandpunt van die Kerk oor bepaalde sake in ’n tyd van kerklike, teologiese en sosio-politieke krisis.
  • Die term getuienis verwys na die Kerk se getuienis ten opsigte van ’n spesifieke saak, en word gewoonlik gebruik wanneer die Kerk teenoor die owerheid getuig. Dit moet onderskei word van die algemene gebruik van die term getuienis, waarmee bedoel word dat die Kerk in die wêreld getuig van die evangelie van Jesus Christus.

Met die opstel van Geloofsverklaring 2025 is daar gepoog om getrou te bly aan die reformatoriese beginsels soos ons dit vanuit die Kerkhervorming geërf het. Daar is ook gepoog om iets te verwoord van eietydse problematiek, asook die kerklike, teologiese en godsdienstige diversiteit waarmee die Kerk voortdurend gekonfronteer word.

In die volgende uitgawe van die Hervormer sal meer aandag gegee word aan die inhoud van Geloofsverklaring 2025 wat die 74ste AKV (2025) aanvaar het.