Dit was tydens ’n Desembervakansie toe my man, Jimmy, en my seun, Thomas, besluit het dat hulle hierdie keer ’n Rubik se kubus gaan bemeester. Met groot ywer het hulle YouTube-video’s gekyk, die geheime bewegings bestudeer en eindeloos geoefen totdat elke kant se kleur perfek in lyn was. Maar wat my opgeval het, was hoe maklik dit gebeur het dat net wanneer een kant reg is ’n ander kant weer deurmekaar geraak het.
Die gesprek oor vroue in kerkleierskap voel dikwels vir my presies so. Sonder ’n eenvoudige handleiding draai ons en draai ons – en net wanneer dit lyk of ons ’n deurbraak gemaak het, ontdek ons dat ’n ander kant van die gesprek weer deurmekaar geskommel is.
En tog kan ons nie ontken dat ons alreeds ver gevorder het nie, maar ons het steeds nog baie ver om te gaan. Navorsing wys dat dit nog ongeveer 95 jaar sal neem voordat vroue wêreldwyd gelyke verteenwoordiging in leiersposisies sal hê.
Die spore van vroue in die NHKA
Die spore wat vroue in die Kerk getrap het, lê diep. Dit begin nie eers in 1979 met die legitimering van prof Yolanda Dreyer as die eerste vroulike predikant nie, maar lank voor dit. Vroue het nog altyd gedien, gelei, gevorm en versorg. Selfs toe vroue formeel van die ampte uitgesluit is, het hulle trots die leuse van die NHSV uitgeleef: Wees ’n seën. Sonder vroue sou die kerklike landskap vaal wees. Ons vroue bring kleur, diepte en dimensie.
Maar dié gesprek is lank nie klaar nie. Ons het dalk een kant van die kubus reg gedraai, maar ander kante bly hardnekkig deurmekaar.
Die WGGK se Gender Audit
Soos met ’n Rubik se kubus vra hierdie proses geduld, volgehoue aandag en ’n bewuste strategie. Die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK/WCRC) se Gender Audit Report (2024) herinner ons dat hierdie kompleksiteit nie uniek aan Suid-Afrika of die NHKA is nie. Wêreldwyd worstel kerke met dieselfde spanning: vooruitgang aan die een kant, maar steeds patriargale strukture, stereotipes en beperkte toegang tot besluitneming aan die ander kant.
Die verslag, Reimagining Church Leadership: Gender Justice and the Imago Dei, gebruik die Imago Dei as hermeneutiese sleutel. As alle mense na God se beeld geskape is, kan uitsluiting op grond van geslag nie bloot as ’n kulturele probleem afgemaak word nie – dit is ’n teologiese probleem. Die liggaam van Christus kan nie gesond funksioneer as sommige liggame sistemies minder ruimte, minder vertroue of minder stem kry nie.
Lesse uit die wêreld van leierskap
Hier sluit die bevindinge van die boek Women and Leadership: Real Lives, Real Lessons naatloos aan. Julie Gillard en Ngozi Okonjo-Iweala se navorsing wys dat vroulike leiers wêreldwyd dikwels uiters bekwaam, uitstekend opgelei en deeglik voorbereid is – dikwels méér as hul manlike eweknieë. En tog word hulle strenger beoordeel, vinniger gekritiseer en minder vergewe vir foute.
Die probleem lê dus nie by vaardigheid nie, maar by strukture en persepsies.
Vroue word vasgevang in ’n onmoontlike spanningsveld: daar word van hulle verwag om empaties, sorgsaam en toeganklik te wees, maar leierskap word terselfdertyd gemeet aan fermheid, beslistheid en outoriteit. Lei ’n vrou sag, is sy swak; lei sy ferm, is sy hard of onvroulik. Mans word selde in hierdie dubbele standaard vasgevang – hul gedrag word as leierskapstyl gesien, vroue s’n as persoonlikheid.
Nog ’n hardnekkige kant van die kubus is die vraag na moederskap en sorgrolle. Hoe balanseer jy alles? Wie kyk na jou kinders? Hierdie vrae word selde aan mans gestel, maar funksioneer dikwels as ’n stil toets van legitimiteit vir vroue.
Die NHKA se pad
Binne die NHKA is daar baie om voor dankbaar te wees. Sedert 1979 is daar volgehoue vordering gemaak. Vroue het gelyke toegang tot teologiese opleiding, mentorskap en leierskapsontwikkeling. Ons is dankbaar vir vroue wat as predikante, jeugwerkers, ouderlinge, diakens en akademici leiding neem. Die gees tussen manlike en vroulike kollegas is oor die algemeen goed, en die bydrae van vroue verryk ons Kerk onmiskenbaar.
Maar eerlikheid vra dat ons erken: daar is steeds praktiese en kulturele hindernisse. Patriargie leef dikwels nie in oop weerstand nie, maar in subtiele vorme – irritasie met gendergesprekke, advertensies vir geslagspesifieke poste, uitsluitende taalgebruik en die normalisering van meestal manlike leierskap.
Wat kan meer gedoen word?
Om hierdie kant van die kubus reg te draai, vra meer as net beleid. Dit vra kultuurverandering.
- Taal: Ons moet bewus wees van hoe taal geslag uitsluit of stereotipes versterk.
- Diversiteit: Vroue se stemme moet werklik gehoor word, nie net simbolies verteenwoordig wees nie.
- Bekwaamheid: Vroue moet erken word vir hul kundigheid, nie bloot om ’n kwota te vul nie.
- Rolmodelle: Vroue moet die vryheid hê om hul unieke self te wees, sonder die druk om perfekte projeksies te word.
Die WGGK se Gender Audit roep kerke op tot konkrete aksie: openbare bewusmaking, eerlike interne dialoog, verandering van narratiewe en groter sensitiwiteit rondom gender en taal. Hierdie werk kan nie net deur vroue gedoen word nie. Mans en vroue moet saamwerk om strukture en kultuur te transformeer.
’n Beeld van skuifspelde
Die beeld wat my hiermee help, is dié van skuifspelde: bereid om gebuig en gevorm te word sodat ons mense bymekaar kan hou. Dit vra waagmoed, integriteit en geloof dat God reeds besig is – en dat ons genooi word om aan te sluit.
Meer vroue in leierskap gaan nie oor vroue teen mans nie. Dit gaan oor meer perspektiewe, meer menslikheid en meer wysheid aan besluitnemingstafels. Dit gaan daaroor dat die hele kubus – elke kant – uiteindelik in harmonie voltooi kan wees.
Ten slotte
Wanneer ek terugdink aan daardie vakansie met die Rubik se kubus, besef ek dat die geheim nie daarin lê om een kant perfek reg te kry nie, maar om volhardend te bly draai totdat die hele kubus voltooid in harmonie kom. So is dit ook met die gesprek oor vroue in kerkleierskap. Ons het al groot vordering gemaak – sekere kante van die kubus is helder en reg – maar ander bly deurmekaar en vra nog aandag.
Mag ons die moed hê om aan te hou draai, te leer, te luister en te verander. Nie totdat een kant netjies lyk nie, maar totdat die beeld van God helder sigbaar word in die hele liggaam van Christus.
* Erkenning aan: Melanie Thirion. Ek het die beeld van die skuifspeld by haar raak gelees.
Interessanthede
Die navorsing en gevallestudies wat Gillard en Okonjo‑Iweala gedoen het, wys dat manlike bondgenote dikwels ’n deurslaggewende rol speel om strukturele hindernisse vir vroue te verwyder, nie omdat vroue se stemme minder belangrik is nie, maar omdat mans se invloed in bestaande magstrukture verandering kan versnel.
Volgens Gillard en Okonjo‑Iweala kan die steun van mans in mag soms meer effektief wees om vroue se leierskap te bevorder as vroue wat alleenlik vir hulself pleit.
Dit ondermyn nie vroue se agentskap nie, maar beklemtoon die noodsaaklikheid van strategiese bondgenootskap.
Julia Eileen Gillard is ’n voormalige eerste minister van Australië (2010–2013) en ’n internasionale openbare figuur. Ngozi Okonjo‑Iweala is ’n Nigeries‑Amerikaanse ekonoom en voormalige minister van finansies van Nigerië en is sedert 2021 direkteur‑generaal van die Wêreldhandelsorganisasie.
Vinnige statistiek
Die gemiddelde ouderdom van predikante wat in gemeentes beroep is: 54 jaar
53 (26%) van hierdie predikante is vroulik, dws een kwart.
44 (22%) van predikante wat in gemeentes beroep is, is emeriti.
6 (3%) van predikante wat in gemeentes beroep is, is ouer as 80 jaar.
16 (8%) van predikante wat in gemeentes beroep is, is ouer as 70 jaar.