Ywerige Yvette van Yzerfontein vra: Beste Oupa Stoep, soos elke jaar is daar merkbaar meer mense in die eredienste, ook meer kinders wat die kategese bywoon. Wat kan ek doen om te keer dat hulle nie stelselmatig minder word soos die jaar verloop nie?

Beste Yvette, jy worstel met iets wat ’n probleem is sedert ds Johan van Arckel in 1665 as die eerste geordende predikant in die Kaap aangekom het. Sedertdien het baie predikante, feitlik almal slimmer as Oupa, hierdie neiging probeer hokslaan – wel met min of baie min sukses. Oupa het tot die gevolgtrekking gekom dat konvensionele metodes om lidmate se erediensbywoning nie te laat taan nie, nie werk nie. ’n Meer radikale aanslag is dalk nodig.

Oupa het tot hierdie insig gekom toe hy hoor van die gebeure rondom Skip en Skop. Dié twee was neefs en het albei in ’n groterige dorp gebly. Skip was die plaaslike predikant – ’n baie gewilde predikant met ’n gemeente wat sy leiding met oorgawe gevolg het. Skop was die president van die plaaslike rugbyklub, dus ook ’n gewilde man. Die rugbyondersteuners was baie lojaal aan hul klub en teenoor hul president.

Vir lank het Skip en Skop goed saamgewerk. Skip sou tydens die afkondigings die gemeentelede motiveer om die volgende Saterdag se rugbywedstryd te ondersteun. Skop sou op sy beurt ná afloop van elke wedstryd die mense op die pawiljoen oproep om die naweek op ’n gepaste wyse af te sluit deur die erediens die Sondagoggend by te woon. Skop se derde vrou was egter iemand wat nie die binnewerkinge van die dorp verstaan het nie. Sy het Skop oorreed dat ’n mens op Sondae eerder rustig moet wees en bietjie later moet slaap. ’n Hele klomp van die klub se ondersteuners het hul president se voorbeeld gevolg. Toe Skip vir Skop hieroor aanspreek, het Skop ’n hele lys redes gereed gehad om sy optrede te regverdig.

Daar was groot konsternasie toe Skip kort daarna skriftelik as kapelaan van die rugbyklub bedank. Dit was ’n posisie wat hy met groot waardigheid gevul het. Skip het die volgende redes vir sy bedanking gegee:

  • Al wat die rugbyklub doen, is om my geld te vat. Ek betaal maandeliks lidmaatskapsfooie en dan moet ek ook nog betaal as ek ’n wedstryd wil gaan kyk.
  • Die mense wat langs my op die pawiljoen sit, is nie altyd vriendelik nie. Die meeste van die tyd vroetel hul kindertjies so dat ek nie op die wedstryd kan konsentreer nie.
  • Die sitplekke op die pawiljoen is baie hard en ongemaklik.
  • Die afrigter kom besoek my nooit aan huis nie.
  • Die kaptein van die span neem besluite waarmee ek nie saamstem nie.
  • Baie van die mense in die skare is regte huigelaars. Hulle kom net om te skinder oor ander mense se kleredrag.
  • As daar beseringstyd is, kom ek baie laat by die huis.
  • Hulle speel liedjies oor die klankstelsel wat ek nie ken nie.
  • Die wedstryde is op die enigste dag waarop ek my inkopies kan doen.
  • My ouers het my gedwing om wedstryde by te woon toe ek baie jonk was.
  • Vandat ek ’n paar boeke oor rugby gelees het, weet ek in elk geval meer as die afrigters.
  • Ek gaan nie my kinders rugby toe vat nie, want ek wil hê hulle moet eendag self besluit watter sport hulle wil ondersteun.

Skip se brief en redes het Skop goed laat nadink en Skop het tot inkeer gekom. Daarna het die lidmate weer Saterdae bankvas op die pawiljoene gesit en Sondae was al die rugbymanne en -vroue op hul plek in die erediens.

Liewe Yvette, Oupa hoop dat die les wat daar in hierdie vertelling te leer is jou kan baat om jou erediensbywoning stabiel vir twaalf maande van die jaar te hou. Indien nie, begin ’n rugbyklub op die dorp…