’n Goeie vriendin het eenmaal vir my gesê om nooit by ’n wit veer wat voor jou lê verby te stap nie. Jy moet dit optel en weet dat daar engele om jou is. Die afgelope paar maande het ek agtergekom dat die engele om my wel ook in die gedaante van mense is. As elkeen vir my ’n veer gegee het, sou ek nou al ’n hele blompot vol vere gehad het.

Sedert ek in Junie 2025 met borskanker gediagnoseer is, het my lewe interessante draaie geloop en ek het baie nuwe mense ontmoet. Onmiddellik nadat ek die knop in my bors gevoel het, het ek met die vrees geworstel dat dit moontlik borskanker kan wees. Teen die tyd wat ek vir die mammogram gegaan het, was ek rustig. Ek het reeds met God gesels en ek het geweet dat Hy elke tree saam met my is op die pad wat ek moes loop. Ek was dus kalm toe die radioloog ’n sonar wou doen.

God het hierdie radioloog as ’n engel op my pad geplaas. Aanvanklik het hy nie die gewas gesien nie. Dié het baie mooi weggekruip. Hy was besorg oor kalsifikasie van ’n paar melkbuise, wat toe geen probleem ingehou het nie. Terwyl ek en die radioloog gesels, noem ek terloops die knop wat ek gevoel het. Die radioloog het onmiddellik die knop begin soek en ’n 1 cm gewas gevind en besluit om ’n biopsie te doen. Was dit nie vir hierdie engel nie, sou ek eers heelwat later bevestiging van my diagnose gekry het en dalk ’n erger prognose in die gesig gestaar het.

Soos die ondersoeke by dokters en toetse gevorder het, het ek met meer en meer engele te doen gekry. My onkoloog het my gerusgestel deur alles, die positiewe en negatiewe, duidelik en verstaanbaar aan my te verduidelik. My chirurg het die proses wat voorgelê het, goed verduidelik. Ons het besluit om ’n lumpektomie uit te voer. Ek het nie kans gesien vir ’n mastektomie vir só ’n klein knoppie nie. Tydens my verblyf in die hospitaal het ek nog engele ontmoet – wonderlike personeel wat sagkens met jou werk en jou gerusstel dat alles ten goede sal uitwerk.

Ongelukkig het my spesialis tydens die operasie besef die knoppie is klein, maar sy tentakels strek ver. ’n Week of so na my operasie moes my chirurg my inlig dat verdere chirurgie nodig is. Weereens was daar ’n engel op my pad. Hierdie man wat gewoonlik die minimum sê, het rustig met my gepraat en al die opsies verduidelik. Hy het my volgende engel op my pad geplaas – my plastiese chirurg. Hierdie engel het my voorberei op die komende mastektomie en my hand vasgehou tot ek rustig aan die slaap geraak het van die narkose.

Soos my pad verder aangestap het, het ek steeds meer engele op my pad gevind: vriende en familie wat my vergesel na doktersbesoeke, vriende wat sorg dat my wasgoed gewas en gestryk word, ander wat ’n bediende reël om te die huis te kom skoonmaak terwyl ek herstel, verpleegpersoneel wat vir my bid en nog vele meer.

Aanvanklik was ek bang om tydens my besoeke aan die onkoloog in die rigting van die behandelingskamer te kyk. My oningeligte gedagtes het vir my vertel dis ’n plek met baie mense wat besig is om dood te gaan. Hoe verkeerd was ek nie! Dit is ’n plek vol engele! Ek kry met soveel verskillende mense te doen, maar almal het een ding in gemeen: ’n positiewe uitkyk. Almal ondersteun mekaar en praat mekaar moed in. Ek het daar geleer dat pasiënte wat fase 4-kanker het, die positiefste van almal is. Hulle leef elke dag voluit en is ’n inspirasie vir ander!

Kanker mag my borste van my geneem het en tydelik my hare ook, maar ek het soveel gegroei as mens. Ek leer daagliks om op God te vertrou en sy hand te neem en die pad wat Hy vir my beplan het, saam met Hom te stap.

Ja, daar is dae wat ek opstandig raak, maar dan raak ek weer rustig. Ek weet God het ’n plan. Hy sal my nie los om alleen aan te sukkel nie – Hy stuur sy engele om saam met my te wees en my vinnig weer op te help.

Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind (Ps 91: 4, AFR2020).

Kyk uit vir jul wit vere en tel hulle op! Koester hulle en weet jou engel is naby.