Ons hoor baie die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Dit is inderdaad so. Ek het onlangs van die storie van Kim Town gelees wat met hul seuntjie vanaf Gordonsbaai na die VSA verhuis het. Hul visums is eindelik goedgekeur om by haar Amerikaanse man te gaan woon. Daar is sy vermoor – en dit deur haar eie man. Hul seuntjie was ten tye van haar moord ook in die huis.

Ons almal het ’n verhaal om te vertel. Party van ons kan ’n dik boek met baie hoofstukke skryf, ander nie. My boek het ’n paar ingrypende hoofstukke. Die huidige hoofstuk speel tans in Nederland af. Die gras was vir my groener aan die ander kant, maar dit kon net sowel anders gewees het. Daarom skryf ek uit dankbaarheid, want maak nie saak waar jy jouself bevind nie, al dan in ’n land met die beste geleenthede, infrastruktuur en ekonomiese stabiliteit is en bly jy nie self die skrywer van jou eie lewe nie. Jy kan wel probeer saamskryf deur die beste te maak van geleenthede wat na jou kant toe kom en hard daaraan te werk om geleenthede te skep, maar die uiteinde daarvan is eindelik in God se hande.

Dit moet ons almal onthou, want maak nie saak waar jy jouself bevind nie, jy kan nie vergeet in wie se hande jou lewe is nie en ook nie waar jy vandaan kom nie. Ek kan dus nie anders as om ook terug te kyk na die groener kant wat ek agtergelaat het en nie weer sal kan opbou in ’n ander land nie: ’n gemeenskap van gelowiges wat my (en my familie) deur dik en dun gedra het. Gemeente Sasolburg wat ons gesin ondersteun het toe my stiefpa oorlede is – ek was toe tien jaar oud, my broer twaalf en my sus sewe. Ek dink terug aan die tydperk wat ek die voorreg gehad het om predikant van Gemeente Midrand (nou saamgesmelt met Gemeente Rooihuiskraal) te wees. Die ondersteuning in goeie, maar ook in baie moeilike tye van kollegas, lidmate, kerkraad van Gemeente Midrand, diakens van die Algemene Diakensvergadering, Rata se direksie en Kommissielede.

Hier in Nederland is ek gelukkig dat my beste vriendin uit Suid-Afrika ook hier woon. My broer-hulle woon in Denemarke, gelukkig ietwat nader as Suid-Afrika en gelukkig kan my suster hierdie jaar uit Suid-Afrika kom kuier. Deur die jare kon ek ’n klein vriendekring opbou, maar ek kan nie sonder kontak met vriende en familie in Suid-Afrika oor die weg kom nie. Dit is ook lyk my juis daardie behoefte aan konneksie wat maak dat kunsmatige intelligensie nie alle menslike funksies kan vervang nie en dus ook nie net alleen nuwe groener weivelde is nie.

Ek is innig dankbaar vir die groener gras, maar daar is dele wat alles behalwe groen is. Wat dit oortref en sorg dat dit tog leefbaar is, is die wete dat God is waar ek is, dat Hy is waar ek nie is nie, dat Hy orals is waar die gras groen is, dood is, of afwesig is. Dit is alleen sy teenwoordigheid wat eensaamheid verdring. Ek is dankbaar: groen gras, dooie gras, geen gras.

7Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?….16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is (Ps 139: 7 en 16, AFR83).