Verswelgde Vernon van Viljoenspos vra: Beste Oupa Stoep, ek probeer elke jaar my verdiep in die stille gewydheid van Lydenstyd, maar dit begin vir my voel of die heelal teen my saamspan om hierdie tyd van die jaar alles behalwe ’n rustige tyd te maak. Naas ’n mens se preekverpligtinge is dit mos die einde van die finansiële jaar met afsluitings wat gedoen moet word en boeke wat vir oudit reggemaak moet word. Hierby kom die swetterjoel verslae wat voltooi moet word met die oog op die komende ringsvergadering. Ek kom net nie voor nie. Kan Oupa asseblief help?
Beste Vernon, terwyl Oupa sit en kyk na die purperkers wat hy in Lydenstyd brand, kry Oupa jou diep uit sy hart bitter jammer. Een van die groot seëninge van emeritaat is dat jy nie die omsendskrywe oor ringsvergaderings eers hoef oop te maak nie!
Tog het Oupa iets gelees wat Oupa dink dalk vir jou nuttig kan wees. Onlangs vertel Albé Grobbelaar op Netwerk24 van ’n Britse skrywer, Cyril Northcote Parkinson, wat in 1958 ’n boekie uitgegee het, getiteld Parkinson’s Law. Parkinson se wet was een kort sinnetjie: Work expands to fill the time available for its completion.
Overgesetsynde sou dit beteken dat as jy vir iemand ’n bietjie werk gee met baie tyd om die werk in te doen, sal daardie persoon al daardie baie tyd nodig hê om die werk in te doen. Maar die omgekeerde is ook waar. As jy vir iemand baie werk gee met min tyd om die werk in te doen, sal daardie persoon steeds die werk klaar kry in die beperkte tyd tot sy of haar beskikking.
Of Parkinson geweet het hoe dinge in ’n pastorie werk, weet ’n mens ongelukkig nie. Hy beskryf egter klokhelder hoe dominees se werkswyse baie keer uitspeel. As jy min tyd tot jou beskikking het, is daar gewoonlik ’n berg goed waaraan jy aandag moet gee en wat jy moet afhandel. Met baie angssweet en gespartel, kry ’n mens dit meeste van die tyd tog reg – al is dit op die nippertjie. Een van Oupa se goeie vriende het ’n gesegde: Ons dominees land altyd op ons voete.
Die ander kant van Parkinson se wet geld egter ook vir dominees. As jy baie tyd op hande het en min dinge in jou inboks lê, vat jy soveel langer om aan hulle aandag te gee. Uiteindelik loop daardie lang tyd ook maar weer uit en skarrel jy teen die einde om dit wat jy moes afhandel, af te handel.
Oupa het beide kante van Parkinson se wet baie gereeld in sy lewe beleef en omdat Oupa nie goed onder stres funksioneer nie, het Oupa die Stoepsit-stelreël ontwikkel. Dit lui: Hoe gouer ek agter raak, hoe meer tyd het ek om in te haal. Probeer dit gerus, liewe Vernon, dit werk!
Parkinson het ook raad gehad vir al die komitees en kommissies wat so deel is van enige organisasie, ook van die kerk. Sy raad het hy as ’n rympie geformuleer:
Committees of twenty
Deliberate plenty
Committees of ten
Work now and then
But most jobs are done
By committees of one.