Ontstigte Ockie van Oorlogspoort vra: Beste Oupa Stoep, ek en my vrou is geseënd met vyf kindertjies, onder andere ’n drieling. Almal is nog op laerskool. Dit verg militêre maneuvers om almal aangetrek en reg te kry om op ’n Sondag kerk toe te gaan. Ons is altyd op die nippertjie betyds, maar ons sukkel dan om sitplek vir sewe siele te kry. Almal sit mos teen die paadjie en dan moet ons mooi meet en pas om te kyk of daar voldoende plek is voor ons oor die oompie en die antie langs die paadjie begin klouter. Weet Oupa dalk hoekom die mense so verbete aan hulle plek langs die paadjie vasklou?
Beste Ockie, daar is ’n paar groot misteries in die lewe, soos hoekom gou-gou totaal verskillende tydswaardes vir mans en vrouens het. Jou vraag oor die besetting van sitplekke in ’n kerkgebou is nog een van dié groot misteries. Oupa was bevoorreg om oor die Paasnaweek twee eredienste in ’n gemeente met ’n baie ruim kerkgebou by te woon. Beide kere was die kerk stampvol. Oupa het al vroeg gaan sit, mooi in die middel van ’n ry sodat niemand oor hom of tannie Oupa hoef te klim nie. Soos die mense ingekom het, het omtrent almal gemik vir oop sitplekke langs ’n paadjie. Moenie dink dat die sittendes sou opskuif vir inkommers wat plek soek nie. Dit het naderhand soos ritmiese gimnastiek gelyk soos die mense kontorsies moes doen om verbygeskuif te kom!
Oupa het die spulletjie gade geslaan en toe ’n briljante plan uitgedink. Ons moet maak soos die lugrederye as ’n vliegtuig kom land en net vyf rye op ’n slag toegelaat word om op te staan en uit te beweeg. In die kerk sal die proses egter omgekeer moet word: lidmate sal aangesê word om die banke van voor af vol te maak. Oupa se kop het oortyd gewerk en Oupa kon al sien hoe die plekaanwysers korporatiewe drag kon dra soos lugwaardinne en vlugkelners doen. Oupa is seker dat daar êrens ’n kunstige lidmaat is wat die kleure van die liturgiese jaar – pers, pienk, wit, rooi, groen, swart en goud – kon saambring in ’n materiaal waarvan daar uniforms vir ons kerkwaardinne en kerkkelners gemaak kon word. Daar sou selfs ’n reeks gestandaardiseerde handbewegings uitgewerk kon word om aan te dui waar die nooduitgange, die moederskamer en die toilette van die gebou is.
Oupa het ’n vermoede dat hierdie vlieër nie gaan vlieg nie. Oupa het wel gehoor van ’n ander, baie kreatiewe oplossing. ’n Argitek is gevra om ’n kerkgebou te ontwerp en het ingestem om dit te doen, op voorwaarde dat niemand die kerkgebou mag binnekom tot die dag van die inwyding nie.
Toe dié dag aanbreek, was daar baie opgewondenheid en ’n groot klomp lidmate het voor die deure saamgedrom. Groot was hulle verbasing egter toe hulle sien dat daar net een ry banke voor in die kerk is. Die mense storm om sitplek in die bank te kry en toe dié vol is, verrys daar ’n tweede bank uit die grond uit. So kom daar elke keer ’n bank te voorskyn sodra een vol is, wat beteken het dat die kerk pragtig van voor af vol gesit word.
Almal was verstom oor hierdie vindingryke uitleg van die kerkgebou. Die grootste wonder het eers later gebeur. Toe die dominee presies ’n half uur lank gepreek het, het die kansel onder die grond in weggesak…
So my liewe Ockie, al raad wat Oupa vir jou het, is om vir jou spannetjie te sê dat die eredienstyd verskuif is na half nege, al is dit steeds nog om nege uur. Dink net hoe gaan jy jou verkneukel as die immerkantsoekende lidmate nou oor julle sewestuks moet klouter!