Lees: 2 Konings 14: 8

Einde Februarie 2026 het Amerika besluit om saam met Israel oorlog teen Iran te voer. Dit het gelyk asof die res van die wêreld gedink het dat dit een van pres Trump se kortstondige bevliegings was. Helaas! Toe nie. Die oorlog wat beloof is om sommer in ’n oogwink verby te gaan, lyk asof dit geen einde sal hê nie. Die wêreldekonomie ly daaronder, en brandstofpryse het die hoogte ingeskiet. Ons sal waarskynlik nog maande rondval tussen skietstilstande en dreigemente van oorlog en uitwissing.

Intussen het dit gesorg vir heelwat verdeeldheid tussen ondersteuners van pres Trump se kwasi-godsdienstigheid en dié wat hom as die wortel van alle kwaad sien. Pogings om die spanning tussen die Weste en Islam te verhoog, het grootliks geslaag deurdat baie Christene inkoop in pres Trump se siening van die Moslem-gevaar en boonop dink dat die Christendom ’n spesiale band met Israel behoort te hê. Wêreldmoondhede het ook standpunt ingeneem en daar bestaan oral verdeeldheid oor hierdie oorlog.

’n Baie interessante gedeelte in die Bybel is 2 Konings 14 en spesifiek vers 8. Ongeveer 800 vC het koning Amasia van Juda ’n boodskap vir koning Joahas van Israel gestuur. Die boodskap was: Kom ons veg teen mekaar. Sonder enige rede dat hulle vir mekaar moet kwaad wees, stuur die koning van Juda vir die koning van Israel ’n boodskap dat hulle teen mekaar moet veg. Dit wil amper voorkom asof die twee verveeld was en toe die tyd wou omkry deur so ’n bietjie oorlog te maak.

Uit die reaksie van Joahas kan ’n mens aflei dat Juda die behoefte gehad het om te wys hoe groot en belangrik hulle is. Afgesien daarvan dat oorlog eintlik net tussen leiers besluit word en dit die burgers van die lande is wat hul lewens verloor in die bloedige stryd wat volg, was hierdie ook ’n oorlog tussen mense met dieselfde geloofsoortuiging.

Rusland en Oekraïne is sedert 2014 in ’n oorlog betrokke wat in Oktober 2022 weer opgevlam het. Daar het reeds ongeveer 100 000 soldate en burgerlikes gesterf. Tog het beide die lande se leiers ’n noue verbintenis met hul godsdienstige agtergronde. Putin van Rusland kom uit ’n Christelik-Ortodokse agtergrond en Zelensky van Oekraïne uit ’n Joodse agtergrond. Boonop is meer as 70% van die inwoners van Rusland en Oekraïne Christene. Gierigheid, politieke en godsdienstige mag en grootheidswaan is die dryfveer agter hierdie oorlog, wat ’n tragiese invloed op beide lande se inwoners het.

Die leier van die Grieks-Ortodokse Kerk in Turkye, vader Bartholemeus I, het dit as ’n tragedie beskryf waar irrasionele denke heers oor redelikheid en waar liefde oorskadu word deur haat, en donkerte heers oor lig en die dood oor lewe heers. Dit is ongelukkig wat ons ook in die geskiedenis van die kerk sien. Dieselfde gebeur in gemeentes, families en ook vriendekringe. In plaas daarvan dat God se liefde mense se lewens bepaal, is dit verskuilde agendas, selfsug en meerderwaardigheid wat onmin en twis veroorsaak. Paulus skryf in Galasiërs 5: 14-15 (AFR83): Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

Dit maak eintlik nie saak wat die motivering vir oorlog of die onmin en stryd wat dikwels in ons lewens heers, is nie, dit kan nooit vanuit Jesus se gebod van liefde geregverdig word nie. Gebruik vandag om vrede te maak, omdat dit God se liefde in jou hart en lewe sal laat seëvier. Moet ook nie toelaat dat ’n ander se oorlog, onmin en stryd jou verhinder om in God se liefde te leef nie.