Kerkwees in Namibië het ’n besondere karakter. In die gemeentes van die Ring van Dorsland word dit sigbaar in lidmate wat, ondanks groot afstande en ekonomiese druk, steeds hul plek inneem; in ampsdraers wat met toewyding dien; en in mense wat verantwoordelikheid aanvaar sodat die evangelie verkondig en geloofsgemeenskappe opgebou kan word.

Elke gemeente in die Ring het haar eie geskiedenis, karakter en omstandighede. Tog word baie van dieselfde vrae gedeel: Hoe word mense oor groot afstande bedien? Hoe word kleiner gemeentes ondersteun? Hoe word die stygende koste en die afname in beskikbare predikante hanteer? En hoe bly die kerk getrou aan haar roeping binne ’n samelewing wat voortdurend verander?

Die gemeentes van die Ring van Dorsland is ’n integrale deel van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA). Die verbondenheid in geloof, belydenis, geskiedenis en kerklike lewe is kosbaar. Terselfdertyd funksioneer hierdie gemeentes in ’n onafhanklike land met ’n eie grondwet, wetgewing, administratiewe stelsels en ekonomiese werklikhede. Kerkwees in Namibië bring daarom eiesoortige verantwoordelikhede mee.

Arbeidsverhoudinge, immigrasie, belasting, pensioenvoorsiening, bankwese en die regsposisie van kerklike instellings word deur Namibiese wetgewing bepaal. Die Kerk moet daarom kerkordelik handel én aan die vereistes van die land waarin sy dien, voldoen. Goeie bestuur staan nie teenoor die geestelike bediening nie. Dit is deel van die Kerk se getuienis en skep juis ruimte waarbinne die bediening verantwoordelik kan plaasvind.

Wat in die geskiedenis van die NHKA in Namibië opval, is haar besondere vermoë om by veranderende omstandighede aan te pas. Groot afstande, verspreide gemeenskappe, beperkte hulpbronne en ’n tekort aan predikante is nie nuwe verskynsels nie. Vorige geslagte het deur samewerking en verskillende bedieningsvorme telkens ’n weg gevind om getrou aan die Kerk se roeping te bly. Aanpassing het nie noodwendig tot verlies aan identiteit gelei nie, dit het trouens juis die voortgang van die bediening moontlik gemaak.

Afstand vertel egter nie die volle verhaal van Dorsland nie. Hoewel die predikante soms honderde kilometers van mekaar af woon en werk, bestaan daar ’n besondere onderlinge verbondenheid. Predikante is sterk by mekaar se bediening en persoonlike welstand betrokke en deel die vreugdes, spanning en eise van die bediening binne die Namibiese konteks.

Hierdie verbondenheid word doelbewus gekoester. Geleenthede word geskep waar predikante én hul gesinne saam kan verkeer, leer en geestelik versterk word. Daar is ’n groeiende besef dat ’n predikant se bediening nie van die welstand van sy of haar gesin losgemaak kan word nie. Daarom word predikante en hul eggenotes byvoorbeeld saam, en sonder onderskeid, by voortgesette teologiese toerusting (VTT) betrek.

Dieselfde ingesteldheid word weerspieël in die Ringskomitee vir Predikante, waar een van die predikante se eggenote as ondervoorsitter dien. Daarmee word erken dat die vreugdes en uitdagings van die bediening dikwels deur die hele predikantsgesin gedeel word en dat die versorging van predikante daarom ook hierdie breër perspektief moet insluit.

Die NHKA in Namibië wil ook nie kerklik in afsondering leef nie. Op uitnodiging het die Kerk by die Council of Churches in Namibia (CCN) ingeskakel en neem tans met waarnemerstatus aan die werksaamhede daarvan deel. Die bestaande grondwet van die CCN bepaal dat ’n kerk meer as 5 000 lidmate moet hê om volle lidmaatskap te verkry. Omdat die NHKA in Namibië kleiner is, is volle lidmaatskap tans nie moontlik nie.

Dit is daarom betekenisvol dat die CCN besig is om sy grondwet te hersien met die oog daarop om ook kleiner kerke, waaronder die NHKA tel, die geleentheid te gee om volledig in te skakel. Hierin word ’n belangrike wedersydse gesindheid sigbaar: die NHKA in Namibië toon haar bereidheid om ekumenies saam te werk, terwyl die CCN bereid is om die NHKA te akkommodeer en ’n geleentheid te skep sodat haar stem ook binne die Namibiese kerklike en openbare landskap gehoor kan word.

Strategiese nadenke in die Ring gaan egter nie net oor strukture en administrasie nie. Dit moet uiteindelik in mense en verhoudings gestalte kry. Twee besluite van die Ringsvergadering illustreer hierdie benadering besonder goed.

Eerstens wil die Ring die onderlinge akkoord tussen lidmate en gemeentes versterk. Daarom word ’n Ringsgesinskamp gereël wat DV van 30 Oktober tot 2 November 2026 sal plaasvind. Die bedoeling is meer as bloot ’n gesellige saamtrek. Dit wil ’n omgewing skep waar lidmate oor gemeentegrense heen mekaar beter leer ken, saam aanbid, saam gesprek voer en opnuut ontdek dat die gemeentes deel vorm van ’n groter geloofsgemeenskap.

Tweedens word daar, in aansluiting by ’n komende VTT-geleentheid, spesifiek ruimte geskep vir jonger lidmate om aan ’n gesprek oor kerkwees deel te neem. Jong lidmate word uitgenooi om saam te dink oor wat dit beteken om kerk te wees in hierdie opwindende en vinnig veranderende tyd waarin ons leef. Die afgevaardigdes wat die Ring namens die Hervormde Teologiese Kollege besoek en die VTT aanbied, sal ook aan hierdie gesprek deelneem.

Hierdie gesprek is belangrik omdat die Kerk nie net oor jonger lidmate en die toekoms van die Kerk behoort te praat nie. Daar moet ook saam met hulle geluister en gedink word. Hulle ervaring, vrae, verwagtings en geloofsperspektiewe behoort deel te vorm van die wyse waarop die Ring oor toekomstige bediening nadink.

Dit bring ’n belangrike perspektief op strategiese beplanning na vore. Strategiese beplanning in die Kerk kan nie slegs ’n oefening in bestuur, strukture of kostebesparing wees nie. Dit is uiteindelik ’n proses van geloofsonderskeiding: Waar is die Here reeds aan die werk? Watter mense en gawes het Hy aan sy kerk toevertrou? En hoe kan hierdie gawes verantwoordelik gebruik word om die evangelie ook in ’n veranderende konteks te dien?

Die verskillende bedieningsmoontlikhede wat in die Ring ondersoek word, waaronder toekomstige bediening in die Sentraal-Noorde, vorm deel van hierdie groter gesprek. Geen enkele model is egter die doel nie.

Die kernvraag bly eenvoudiger en veel belangriker: Hoe verseker ons dat mense steeds die Woord van God hoor, pastoraal versorg word en binne ’n lewende geloofsgemeenskap ’n geestelike tuiste vind?

Geen gemeente kan hierdie uitdaging alleen hanteer nie – gemeentes het mekaar nodig. Groter gemeentes sal soms kleiner gemeentes moet help dra, terwyl kleiner gemeentes nie bloot volgens lidmaatgetalle beoordeel behoort te word nie. Hul teenwoordigheid en getuienis in ’n dorp of streek kan van onberekenbare waarde wees.

Die Ring van Dorsland kyk daarom nie sonder kommer na die toekoms nie, maar beslis ook nie sonder hoop nie. Daar is getroue lidmate, toegewyde ampsdraers, predikante wat met volharding dien, predikantsgesinne wat saam ondersteun word, jonger lidmate wat genooi word om saam te dink, en gemeentes wat bereid is om nuwe moontlikhede te ondersoek.

Niemand weet presies hoe die bediening in Dorsland in die toekoms sal lyk nie. Wat wel bekend is, is aan Wie die Kerk behoort.

Die Kerk in Namibië het deur haar geskiedenis geleer om aan te pas, saam te werk en nuwe moontlikhede te benut. Mag sy dit ook nou doen – nie omdat verandering op sigself die antwoord is nie, maar omdat sy getrou wil bly aan Christus, aan die mense wat aan haar sorg toevertrou is, en aan haar roeping om saam met ander kerke ’n geloofwaardige getuienis in Namibië te lewer.

(Ds Barrie Oberholzer is leraar van Gemeentes Grootfontein en Tsumeb en voorsitter van die Ring van Dorsland)