Die kerk leef in ’n tyd van voortdurende verandering. Die uitdaging is nie meer om verandering te vermy nie, maar om dit só te bestuur dat gemeentes hul identiteit en roeping in Christus verdiep. Hierdie artikel verken transisieleierskap as ’n geloofsonderskeidende praktyk wat gemeentes help om verandering nie bloot te oorleef nie, maar betekenisvol en roepingsbewus te betree. Transisieleierskap bied nie bloot nuwe bestuursvaardighede nie, maar nooi predikante en kerkleiers uit tot ’n nuwe manier van dink. Luister, geloofsonderskeiding en roeping word die vertrekpunt van bediening en diens.

Min mense sal vandag nog ontken dat die kerk in ’n tyd van ingrypende verandering leef. Die wêreld waarin ons gemeentes funksioneer, het dramaties verander. Demografiese verskuiwings, ekonomiese druk, tegnologiese ontwikkeling, veranderende gemeenskappe en die verwagtings van nuwe generasies het die konteks van bediening ingrypend verander. Die vraag is daarom nie meer óf gemeentes gaan verander nie, maar hóé hulle deur hierdie oorgang begelei kan word.

Vir baie jare is gemeentelike leierskap grootliks verstaan as die vermoë om bestaande bedieninge en dienswerk in stand te hou. Predikante moes programme bestuur, strukture laat funksioneer en stabiliteit verseker. Hierdie instandhoudingsmodel het die kerk goed gedien in ’n tyd toe verandering stadiger plaasgevind het en gemeentes relatief voorspelbare omgewings beleef het. Vandag is dit egter nie meer voldoende nie. Gemeentes bevind hulle voortdurend in oorgange wat nie net organisatoriese aanpassings vereis nie, maar ook diep geloofsonderskeiding oor hul identiteit en roeping.

Hieruit het die begrip transisieleierskap ontstaan. Hierdie benadering het sy oorsprong in die werk van die Interim Ministry Network (IMN), wat aanvanklik gemeentes tydens vakatures van predikante begelei het. Met verloop van tyd het dit egter duidelik geword dat oorgange nie slegs tydens ’n vakature plaasvind nie. Elke gemeente beleef voortdurend verandering: lidmaatgetalle verander, gemeenskappe ontwikkel, finansiële realiteite skuif en nuwe missionale uitdagings ontstaan. Daarom het transisieleierskap ontwikkel tot ’n leierskapsparadigma wat gemeentes help om verandering nie bloot te bestuur nie, maar dit as ’n geloofsonderskeidende proses te verstaan.

Die belangrikste bydrae van transisieleierskap is waarskynlik dat dit ons manier van dink oor verandering beïnvloed. Ons eerste reaksie op verandering is dikwels om dit as ’n probleem te beskou wat opgelos moet word. Ons stel nuwe planne op, verander strukture en probeer so vinnig moontlik terugkeer na normaliteit. Transisieleierskap stel egter ’n ander vraag. Dit vra nie eerste: Hoe herstel ons wat verlore gegaan het? nie, maar eerder: Waartoe roep God ons in hierdie nuwe tyd? Hierdie verskuiwing vanaf instandhouding na geloofsonderskeiding is waarskynlik die grootste uitdaging én die grootste geleentheid waarvoor die kerk vandag staan.

Hierdie benadering herinner ons daaraan dat die kerk nie haar eie toekoms bepaal nie. Die kerk behoort aan Christus. Daarom word ons nie geroep om bloot bestaande strukture te beskerm nie, maar om voortdurend te onderskei hoe God sy gemeentes in elke nuwe konteks lei. Roeping word dan die vertrekpunt van gemeentelike lewe. Lidmaatgetalle, begrotings en programme bly belangrik, maar dit is nie meer die sentrum van die gesprek nie. Die sentrale vraag is: Hoe neem hierdie gemeente vandag getrou deel aan die Missio Dei – God se sending in die wêreld?

Wanneer roeping weer sentraal staan, verander ons verstaan van die kerkleier se rol ook. Tradisioneel is daar dikwels verwag dat die predikant die een met die antwoorde moet wees. Hy of sy moes probleme oplos, besluite neem en sekerheid bied. Transisieleierskap vra egter ’n ander houding. Die predikant word ’n reisgenoot wat saam met die gemeente deur onsekerheid beweeg. Dit vra die moed om langer te luister voordat daar gepraat word, die nederigheid om vrae te stel voordat oplossings aangebied word en die geloof om te vertrou dat God reeds in die gemeente aan die werk is.

Hier sluit twee belangrike stemme uit die internasionale gesprek oor leierskap aan. Mary Clark Moschella beskryf gemeente-etnografie as ’n pastorale praktyk waarin die gemeente met nuuskierigheid en respek leer ken word. Edgar en Peter Schein herinner ons in Humble Inquiry daaraan dat ware leierskap begin deur vrae te vra eerder as om antwoorde te gee. Luister word daarom nie bloot ’n voorbereiding vir bediening nie; luister ís bediening. Wanneer kerkleiers werklik na mense se verhale, vrese, verliese en hoop luister, begin gemeentes hul eie identiteit en roeping nuut ontdek.

Transisieleierskap vra ook dat ons anders na die gemeente self kyk. ’n Gemeente is nie bloot ’n organisasie met strukture, begrotings en kommissies nie. Dit is ’n lewende geloofsgemeenskap wat deur verhoudings, herinneringe, tradisies en gedeelde geloof gevorm word. Probleme soos verlies van lidmate, konflik of finansiële druk is dikwels nie die werklike probleem nie, maar simptome van dieper prosesse wat oor jare ontwikkel het. Daarom probeer die transisieleier nie net om simptome op te los nie, maar help ook die gemeente om haar eie geskiedenis, kultuur, gawes en roeping beter te verstaan.

Die bekende organisasieteoretikus James G. March beskryf hierdie balans treffend wanneer hy skryf: Leadership involves plumbing as well as poetry. Hierdie eenvoudige uitspraak raak die hart van transisieleierskap. Die poësie van leierskap gaan oor visie, betekenis, hoop en inspirasie. Dit help mense om te glo dat God steeds besig is om nuwe dinge te doen. Maar daar is ook die loodgieterswerk van leierskap: gesonde prosesse, verantwoordbare besluitneming, konflikhantering, rentmeesterskap en goeie kommunikasie. Sonder hierdie praktiese werk bly selfs die mooiste visie bloot woorde. Andersyds word goeie administrasie sonder visie maklik blote instandhouding. Die kerk benodig daarom leiers wat beide dimensies met wysheid kan integreer.

Miskien is die grootste uitdaging van transisieleierskap dat dit nie in die eerste plek nuwe tegnieke vra nie, maar ’n nuwe manier van dink. Dit vra dat kerkleiers hulself minder as bestuurders van instellings en meer as geestelike begeleiers van geloofsgemeenskappe sal verstaan. Dit vra dat ons onsekerheid nie as mislukking beskou nie, maar as die ruimte waarbinne God nuwe moontlikhede skep. Dit vra die bereidheid om saam met die gemeente op reis te gaan sonder om reeds elke antwoord te hê. Die sleutelwoord is saam. Wanneer lidmate deel van die proses van onderskeiding word, groei eienaarskap en vertroue. Verandering word dan nie iets wat aan mense gedoen word nie, maar ’n reis wat saam aangepak word.

Die Hervormde Kerk het vandag leiers nodig wat hierdie nuwe manier van dink kan beliggaam – nie omdat transisieleierskap die nuutste bestuursmodel is nie, maar omdat dit die Kerk help om vanuit haar diepste identiteit te leef. Die kerk bestaan nie om haarself in stand te hou nie; sy bestaan omdat God haar roep. Daarom gaan transisieleierskap uiteindelik nie oor verandering as sodanig nie, maar oor getrouheid. Getrouheid aan die Here van die Kerk wat sy gemeente in elke nuwe tyd roep om sy evangelie vars te beliggaam. Wanneer kerkleiers leer om te luister, te onderskei en reisgenote te wees, word transisieleierskap meer as ’n metode. Dit word ’n geestelike ingesteldheid waardeur die kerk leer om hervormd, voortdurend luisterend en gehoorsaam aan Christus te leef. Só kan die kerk met hoop die toekoms tegemoetgaan – nie omdat sy al die antwoorde het nie, maar omdat sy weet aan Wie sy behoort.

(Dr Hannes Janse van Rensburg is leraar van Gemeente Zuurfontein en lid van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening)