Toe ek die middag die televisie aanskakel, sien ek die beeld van die man wat probeer om ’n baie groot TV-stel in sy motor te laai. Langs hom het ’n splinternuwe motor stilgehou, nog met tydelike nommerplate, en die bestuurder, welgeklee, het so ewe sy noodligte aangeskakel, uitgespring en die winkel ingehardloop, moontlik om ook ’n te groot TV te gaan haal. ’n TV wat beslis ook nie in sy motor sou pas nie. Alles was so onwerklik, dit kon nie wees nie, ek sou seker enige oomblik wakker word…
Ek het verstom gehoor hoe iemand aan die verslaggewer sê die mense is hier want hulle is honger, hulle is hier omdat hulle nie kos het nie, met hul motors en hul groot TV’s wat hulle oor die teerstraat agter hulle aansleep.
Ek het winkels sien brand en polisielede gesien wat magteloos toekyk hoe ’n skare alles eenvoudig wegdra en vernietig.
Die ergste was toe ek die aand terwyl die president praat, besef dat die skare besig is om ’n tak van die bloedoortappingsdiens leeg te steel. Stel jou voor, behalwe vir die koeldrankies, koekies en geskenkies, is daar nie veel wat vir Jan Alleman van veel nut kan wees nie.
Ek het daar gesit en gewonder wat van ons wêreld geword het, hoe so iets enigsins moontlik is. Ek het besef, en hulle gesien, mense wat daar was omdat hulle niks het nie, omdat hulle kos kom soek het. Ja, hulle was ook daar…
Wat het van die wêreld geword? Hoe gaan ons ooit hierdie woede, hierdie terugslag, kan hanteer?
En toe sien ek hulle die volgende dag: inwoners van Soweto wat besluit het hulle sal dit wat oor is, met hul lewens beskerm. Hulle sal nie toelaat dat daar verdere verval en vernietiging is nie. Gewone mense, mense wat omgee, mense wat ’n verskil wil maak.
Twee dae later sien ek die beelde van mense wat saamwerk en skoonmaak, en probeer om iets goeds uit die chaos te laat opstaan. Ek het weer begin hoop. Soos ’n bekende lankal gesê het: Almal is gelukkig nie so nie…
Ons wêreld is ’n vreemde plek. Dit is tog snaaks hoe maklik mense agter opruiers kan aangaan. Nie almal is besig op die massas te oorreed om te plunder en te vernietig nie. Ander oorreed mense om nie vir inentings te gaan nie. Nie dit te doen nie of eerder dat te doen.
Soms wonder ek of ons as mense verleer het om nog vir onsself te dink, ons eie besluite te neem. Hoekom is dit so maklik om deur die oomblik meegesleur te word en blindelings te volg, sonder vrae, sonder rede?
Het ons as Christene nie die verantwoordelikheid om verstandig op te tree nie? Behoort om God en jou naaste lief te hê soos jouself nie ons eerste prioriteit te wees nie? Moet ons nie ook aan ander dink en nie net aan onsself nie?
Kan mense wat van buite af inkyk op ons lewens sien dat ons kinders van God is wat wil leef soos kinders van God?
Dit is baie maklik om te kritiseer en fout te vind met alles en almal om ons. Maar om die regte ding te doen, is nie altyd so maklik nie.
Mag ons uit hierdie tyd en dit wat met ons gebeur, leer om saam met God verantwoordelike besluite te neem en om op ’n verantwoordelike manier te leef. Doen ons dit nie, gaan die lewe vir ons nog veel erger word.
In hierdie uitgawe het ons spesiaal plek afgestaan aan die werk van die Sentrum vir Gemeentelike Bediening (SGB). Dr Frikkie Labuschagne en sy spanne staan juis gemeentes en predikante wat vasgevang geraak het by in hierdie tyd met onder meer die Welstandsprogram, hulp met bedieningsbeplanning, brugbediening en vele meer. Ekself was gelukkig genoeg om ’n korttermyn interaktiewe beradingskursus wat deur die SGB aangebied is, by te woon. ’n Kursus wat my toegerus het met vaardighede om ’n verskil te maak in hierdie stukkende wêreld. Dit is ’n inisiatief van ons Kerk om ’n verskil te maak, om gemeentes en individue wat swaar dra aan die las van die wêreld, die pandemie en die ekonomiese agteruitgang, te help om nuwe lig te sien.
Die geheim is dat ons nooit moet moed opgee nie.
Vroeër vandag het ek ’n WhatsApp-boodskap ontvang wat my weer moed gee om aan te gaan ten spyte van alles wat gebeur. Dit is van ’n lidmaat in Natal, wat ons gemeente se daaglikse boodskappies by ’n vriendin uit Nylstroom kry. Sy skryf: Baie dankie vir vanmôre se boodskap, was besig om oor te gee…
Moenie ophou om te probeer nie. Moenie dat eksterne faktore jou moedeloos maak nie. Ons as Kerk, as Christene, het ’n groot rol in hierdie land te speel.
Mag die Here by u wees, ook in hierdie donker tye.