Jopie Fourie se pa, Jozef, was ouderling in die NH of G Gemeente Eloffsdal en het die naam van die gemeente voorgestel met die stigting in 1908. Hierdie historiese 1905-kerkgeboutjie is sedert Junie 2018 ons SP Engelbrecht-museum se tuiste!

Hul familiedominee, ds HS Bosman, het gereeld hier gepreek. Ds Herman D van Broekhuizen het NG Pretoria bedien as hulpprediker van 1898 tot 1899 en as medeleraar van 1906 tot 1917. Sy eggenote, Elsie Eloff (haar pa was vroeër die eienaar van Eloffsdal), was die kleindogter van Paul Kruger. Van Broekhuizen was dus ook ’n bekende in hierdie kerkie. In 1917 het hy oorgegaan na die Hervormde Kerk.

Ds Christie A Neethling was van 1909 tot 1919 Eloffsdal se eerste leraar. Sy pastorie was waar die Italiaanse Klub later was, en nog later die HNP se partykantore. Ds Neethling en Jan Joubert word geag as die stigters van die Afrikaanse Hoërskool in Pretoria (Affies). Van Broekhuizen en Neethling was in 1896 in Stellenbosch deel van die eerste rugbytoerspan, die Holy Brigade, wat nooit drank gedrink het nie. Jopie het ook uitgeblink in rugby en hardloop, tot November 1901.

In 1912 sluit Jopie Fourie aan by die Suid-Afrikaanse Burgermag en word in 1913 kaptein van die 13de Berede Skutters (13th Mounted Rifles), en sy broer, Hannes, luitenant. In 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit, en ’n rebellie (’n gewapende opstand teen die Unieregering se voorneme om Duits-Suidwes-Afrika namens Brittanje te beset) in Suid-Afrika.

Op 10 Oktober verneem Jopie van ds Van Broekhuizen dat wyle president Kruger se verjaardag dié aand met ’n funksie in die Operagebou herdenk sou word. Onderwyl ds Van Broekhuizen besig was om die byeenkoms met gebed te open, het Engelssprekende oproermakers begin om die verrigtinge te ontwrig en ook generaal Beyers verhinder om as spreker op te tree. Jopie het van daardie aand af ’n aktiewe rebel geword! Die rebellie het geduur van 27 Oktober 1914 tot Februarie 1915.

In die distrik Pretoria het rebel-kommandant Jopie Fourie weerstand gebied met ’n klein kommando (in sowat 12 skermutselings). Een Hervormde predikant, dr HCM Fourie, en die latere Hervormde ds HD van Broekhuizen, het ook gerebelleer. Jopie het gesê dat die regeringsmagte en Engelse altyd op Sondae wil veg, teen sy sin. Jopie moes oorgee op Geloftedag 16 Desember 1914, en hy word saam met sy broer en mede-rebelle gevange geneem op die plaas Nooitgedacht noordwes van Pretoria, distrik Rustenburg, waar die Morula Sun Casino & Hotel vandag is. Maar omdat hy nie formeel as soldaat/offisier bedank het voordat hy aan die rebellie deelgeneem het nie, is hy op 19 Desember deur ’n veldkrygshof in Pretoria skuldig bevind aan verraad. Hy word ter dood veroordeel, terwyl sy broer begenadig word tot vyf jaar gevangenisstraf.

Daardie Saterdag is ’n afvaardiging saamgestel om ’n versoekskrif ter begenadiging aan die minister van verdediging, generaal Jan Smuts, te oorhandig. Dit het onder andere ingesluit dr DF Malan (oud-NG predikant), ds CA Neethling, ds HS Bosman en Jan Joubert. Mev Drienie Joubert en Jopie se ma het feitlik die hele dag lank rondgery en vergeefs probeer om met generaal Smuts te praat.

Daardie nag het ds Neethling van Eloffsdal vir Jopie onderskraag – eers in die polisiesel vanaf 22:00 en van 24:00 tot 05:00 in die dodesel. Ds Bosman was ook by Jopie. Jopie het hom gevra om sy ouers en sy vrou, Susan, van die bekragtiging van sy doodsvonnis in kennis te gaan stel en die nag saam met hulle in gebed deur te bring. Wreed was dit sonder ’n laaste groet. Ds Neethling het in 1916 saam met JM (Kosie) de Wet ’n boek oor Jopie die lig laat sien waarin ds Neethling getuig dat Jopie die hele nag al biddende, skrywende en pratende deurgebring het. Hartroerende briewe wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, onder meer aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en die eerste minister, generaal Louis Botha, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Hy het telkens aan die dominee gesê: Hulle moet my tog nie in my gesig skiet nie. Ek het ’n groot Afrikanerhart, met genoeg plek om in te skiet.

Aan die begin van November het Jopie en sy kommando op sy familieplaas by sy ouers en vrou vertoef. Sy moeder het komberse uitgedeel en Susan het toe ’n kommando-Sakbybeltjie aan hom gegee. Op 6 November op die plaas Vaalwater by mev Larkins, ’n suster van skilder Pierneef, het Jopie ink en ’n pen gevra en voorin geskryf: JJ Fourie, Wildebeesthoek 6/11/14. In hierdie klein Sakbybel wat hy nog by hom gehad het in die dodesel, het hy in die vroeë oggendure op die skutblad geskryf (hier in Afrikaans weergegee): 20 Desember 1914 – Joseph Johannes Fourie, doodgemaak omdat hy vir God en vaderland gestry het. Dierbare vrou, moeder, vader, suster, broers, laat dit vir julle tot troos wees: die Here roep my. Die tyd wat Hy aan my op hierdie wêreld geskenk het, is verby. Moenie oor my treur nie. My dood is vir ’n edel saak. My laaste wil is dat my dierbare eggenoot alles erf wat ek het. Vader en moeder, sien u dogter. Vertrou op die Here. Hy sal u troos en uitkoms gee. Hulle wat op God vertrou, het vir seker nie op sand gebou nie. My geliefde familie, soek u troos in die Here. Hy is genadig en barmhartig. Groete van Jopie. Hierdie Bybeltjie is ook in ons Museum.

Toe hulle die sel Sondag om 05:00 moes verlaat, het ds Neethling gesê dat hy daar sou bly om vir Jopie te bid, maar Jopie het vir hom gesê dat dit vir hom baie sou beteken as hy saam met hom gaan. In die tronkagterplasie 20 treë van die doodstoel, het hulle vir oulaas mekaar ’n handdruk gegee. Ds Neethling was getuie van die teregstelling. Jopie was sowat 1,778 m lank, stewig en sterk gebou. Die ou Nederlandse Gesang 20: 8 (op die melodie van Psalm 134) het vas uit Jopie se mond weerklink: Als wij de doodsvallei betreen, laat ons elk aardsche vriend alleen... Vier skote het sy bors getref en ’n vyfde was deur sy kuiltjie en het sy nekwerwels vergruis. Later die oggend moes ds Neethling die erediens lei in Eloffsdal se kerk – hy kon die diens nie voltooi nie…

Jopie se oorskot is verskeie kere herbegrawe, eers vir 36 uur begrawe in komberse in die gevangeniswerf (waar daar sedertdien ’n gebou opgerig is), toe in die Rebeccastraatbegraafplaas, twee maal. Tans rus dit in die Kerkstraat-Wes-begraafplaas 70 treë wes van Paul Kruger se graf. Met die laaste teraardebestelling op Donderdag 20 Desember 1923 om 15:00 was sy geliefde predikante weer aan die woord – ds Neethling het die diens gehou in die landbousaal in Lorentzstraat, Pretoria-Wes, digby die huidige Pretoria-skouterrein, en ds Van Broekhuizen het gepraat by die graf. Verskeie vroue het ook die woord gevoer, onder andere Elsie van Broekhuizen. Ds Salmon J Stander, ook van die NH of G Kerk, het gebid en die Skriflesing behartig. En ten slotte is Gesang 20: 8 weer gesing (in die Liedboek van die Kerk Gesang 579: 5).

[Reël besoek aan die Museum per afspraak by cjdb@boomaap.co.za of 082 733 3951]

(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)