Afgetree. Die laaste keer salaris gekry. Wat gaan jy dóén? wil almal weet. Voorlopig niks veel anders nie – net ’n bietjie minder hiervan en ’n bietjie meer daarvan.
Die uitdaging van hierdie tyd lê vir my eerder in die geldsake. Die verandering van ’n lewenstyl van “uitkom met ’n salaris” na “omgaan met aftreegeld”. Welvaartsbestuur. Beleggingsportefeulje. Die tale van mense en engele (of dalk juis nie van engele nie). Aftree is by uitstek wanneer jy agterkom wat “belegging” beteken. Van elke besluit wat langs die pad geneem is, elke keuse wat oor dekades gemaak is, pluk jy nou die vrugte óf dra jy nou die gevolge. Mooi onderskei die taal met hierdie uitdrukkings tussen ’n goeie of ’n minder goeie uitkoms.
Aftree is die tyd wanneer die dividende op die jare se belegging bereken word. Het jy goed belê, of onoordeelkundig, of glad nie? Hoe ook al, as jy by aftree gekom het, is dit te laat. Alea iacta est, soos Julius Caesar glo gesê het toe hy die Rubicon oorsteek. Die dobbelsteen is gegooi. Daar is niks verder aan te doen nie. Keuses en kanse is onherroeplik verby. Tot sover die verlede.
Nou vir die toekoms. Die welvaartsbestuurders werk fyn uit hoe belê moet word vir ’n voldoende opbrengs totdat jy 92 jaar oud is. Grafieke en kurwes, berekenings en projeksies. Dit alles net vir die primitiewe saak van oorlewing. Om ’n dak oor die kop te hê, genoeg om te eet en mediese sorg vir die liggaam.
As die belegging in die oorlewing van die liggaam soveel tyd, moeite en aandag verdien, hoeveel te meer nie die belegging in lewensgehalte nie? Ook wat hierdie veel groter saak betref, sal ’n mens van elke besluit wat langs die pad geneem word, elke keuse wat oor dekades gemaak word, elke inset of gebrek daaraan, die vrugte pluk óf die gevolge dra. ’n Goeie of ’n minder goeie uitkoms.
’n Goeie belegging in lewensgehalte begin by die belegging in die self. Daarsonder niks. Die self is al wat ’n mens het om te belê. Dit is al wat regtig joune is om mee te woeker. Wie hierdie enigste ware bate afskeep, laat vervloei of vervorm, sal eindig in ’n staat van ellendige armoede. Erger nog, sulke mense berokken skade aan ander.
’n Goeie belegging in die self oor tyd heen lewer dividende op soos: heelheid in die eie menswees, innerlike vrede en ’n ruim gees. Dit bied ’n rustige sekerheid oor die eiewaarde. ’n Mens hoef dit nie onrustig te bly najaag of jouself daarvan te probeer oortuig nie. Jy hoef dit nie onophoudelik aan ander te probeer bewys nie.
Rustige sekerheid oor eiewaarde is nie dieselfde as eiewaan of eiegeregtigheid nie. Inteendeel, hulle is juis simptome van ’n gebrek aan eiewaarde, ’n gebrek aan vrede met die self. Met ’n gesonde eiewaarde kan ’n mens ’n realistiese prentjie van jou gawes en talente hê én jy kan jou foute, swakhede en gebreke onbedreig in die oë kyk.
Die dividende van ’n goeie belegging in die self kan vrugbaar aangewend word tot voordeel van ander. Net iemand wat iets positiefs het om te gee, kan ’n konstruktiewe bydrae lewer tot die welsyn en lewensgehalte van ander.
Wie nie oordeelkundig belê het in die self oor tyd heen nie, is dikwels verknoop met hulself, val oor hul eie voete, kom in hul eie pad. In die poging om hulself staande te hou, klap hulle ander raak. Hulle belê in krenkende woorde, in afwysende gedrag, in fisiese of emosionele geweld, in ’n houding van hovaardigheid of meerderwaardigheid, in magspeletjies.
Dit lyk of die belegging beloof: As ek ’n ander klein en minder maak, sal ek groter en méér voel in myself. Maar dit is valse beleggingsadvies. In hierdie geval kry die belegger self niks daaruit nie – voel nie groter, méér, sterker of magtiger nie. Inteendeel. Die mense aan die ontvangkant onttrek hul belegging van liefde en verbondenheid uit die verhouding. Soms onttrek hulle heeltemal en die gevolge van dié belegging is eensaamheid en isolasie. Tot sover die verlede.
Nou vir die toekoms. Verlede en toekoms staan en val by die beleggings wat ons dag vir dag, jaar na jaar, kies om te maak. Die begin van ’n nuwe jaar is ’n goeie tyd om soos Janus na wie Januarie genoem is, agtertoe en vorentoe te kyk. Om die belegging van die verlede in oënskou te neem. Was dit ’n goeie belegging, ’n ondeurdagte belegging, of is eintlik geen belegging gemaak nie? Hoe lyk die dividende? ’n Stewige, rustige, volwasse, vredevolle self? ’n Lewensgehalte wat konstruktief bydra tot die lewens van ander en tot die wêreld om jou heen?
As gelowiges doen ons ons evaluasies saam met God, want dit is God wat die self, daardie enigste ware eie bate waaroor ons beskik, gemaak en aan ons toevertrou het. As ons en God evalueer hoe ons die bate belê het, sou ons graag wou hoor: Mooi so, goeie en getroue dienaar. Oor weinig was jy getrou en oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in die vreugde van jou heer (Matt 25: 23).
Die beste opbrengs vir die beste lewensgehalte is: God liefhê met jou alles en jou naaste liefhê soos jouself. ’n Stukkende, afgeskeepte of verwronge self gaan niks hiervan kan doen nie. Tot dusver die verlede. Nou vir die keuse van belegging vir die nuwe jaar 2022. Nou vir die keuses vir die toekoms.
(Prof Yolanda Dreyer het aan die einde van 2021 geëmeriteer)