By die doopvont moes die predikant my seker aanspreek as Gabriël Michael Johannes. Dié name is waarskynlik uit die Bybel ontleen waar dit gesante van God benoem.
In my geval gaan die name terug na my oupa aan moederskant – ’n man wat in die Tweede Vryheidsoorlog teen die Engelse geveg het en wat in 1914-1915 aktief sou rebelleer. Verskeie ander neefs in ’n groot familie het dieselfde name ontvang. Omdat my oupa in die omgang “Gaaf” genoem is, het die nuwe generasie Gabriëltjies in die omgang almal “Gawie” geheet. My ouers het besluit om dié noemnaam vir my as laatkommer in die familie met “Gafie” te varieer.
Oor baie jare het ek my string doopname en my ongewone noemnaam as ’n las ervaar. Gafie (ook as gafi geskryf) is egter ’n Sweedse woord wat ’n onbekende persoon of ’n vreemdeling uit die buiteland aandui. Sou dit te melodramaties wees om myself in die lig van my noemnaam te beskryf as vreemdeling op soek na ’n tuiste?
David Kramer skryf:
Wat maak ek in die dorpie
Hier kan ek nie bly nie
Ek bly in Toronto maar
Toronto’s nie vir my nie
Die somers is bedompig
En die winters is te koud
En jou hele lewe hardloop jy
En eendag, eendag, eendag
Eendag is jy oud…
Hy skryf later verder:
Jammer maar ek is ’n vreemdeling
En my hart is in twee geskeur (’n Man stap)
Alle mense het ’n behoefte aan ’n tuiste – ’n plek waar ’n mens geborgenheid en rus kan ervaar, of waar ’n mens in vrede vervulling kan vind. Met die besef dat ’n mens nie in hierdie bedeling volkome heil sal vind nie, het sommige van die vroeë Christene na hulself verwys as pelgrims op pad na die Vaderhuis. In hierdie wêreld is hulle net bywoners en vreemdelinge, want hul tuiste is in die Vaderhuis.
Selfs al sou ’n mens daarna hunker om by die hemelse Vader tuis te kom, het jy op aarde in die huidige bedeling ’n tydelike tuiste nodig – ’n plek waar ’n mens kan vestig en kinders kan opvoed, of ’n plek waar ’n mens kan aftree, oud word en selfs in vrede kan sterwe, ’n plek waar ’n mens dié dinge kan doen wat jy moet doen om jou lewe sinvol in te rig.
Die meeste mense se keuse van ’n tuiste word deur verskeie faktore beperk. Die prys en beskikbaarheid van behuising, werksgeleenthede, persoonlike voor- en afkeure, die lewensfase waarin ’n mens jou bevind en persoonlike omstandighede speel in die meeste gevalle ’n vername rol. Sommige mense is tot ’n groter mate as ander gevange in spesifieke lewensomstandighede wat vanselfsprekend die keuse van ’n tuiste medebepaal. Sommige mense het die vermoë om ’n pondok tot ’n tuiste te omskep, en vir ander is ’n kasteel weer te beskeie om as tuiste te dien. Sommige mense is verknog aan die bodem en word moeilik verplant, en ander het die avontuurlus van ’n swerwer en kan nie te lank op een plek gelukkig wees nie. Die meeste lewensreisigers het egter wel ’n bestemming in die oog waarheen hulle op pad is.
As boorling van die Oos-Rand, het ek my unieke pad geloop: Elsburg (Germiston), Johannesburg, Pretoria, Pietersburg (Polokwane), Oshakati, Northam, Vanderbijlpark, Durbanville en Table View. Die mense wat saam met my die pad geloop het, het gekom en gegaan. My pad het met die paaie van verskeie ander gekruis en vir korter of langer tye het mense saam met my die lewenspad gestap.
Vir die huidige tyd het ek ’n tuiste gevind in Table View, ’n lewendige voorstad van die Kaapstadse Metro aan die oostekant van Tafelbaai met ’n ikoniese uitsig op Tafelberg. Hier leef ek – raak ek snags aan die slaap en word ek in die oggend weer wakker, eet ek in dankbaarheid en met vreugde my kos (en die vreugde verdubbel wanneer ek die dag my kos kan deel met dié wat ek liefhet). Hier berei ek eredienste voor en skryf ek Bybelstudies.
Hier maak ek ook prentjies van my spreekwoordelike voorstoep af. Geniet ’n paar van die prentjies saam met my.
(Dr Gafie van Wyk is leraar in Gemeente Kaapstad)







