Op een van my onlangse staptogte vang my oog die son wat sak en so tussen die takke en pers blomme van ’n jakarandaboom vir my loer. En my gemoed sê: home (huis/tuis). Dit is só hard en duidelik, ek hoor amper die woord soos dit in my gemoed verskyn. Dit was ’n onmiddellike en onbeplande reaksie. Ek voel hoe my liggaam – ten minste vir ’n oomblik – heeltemal ontspan en amper soos ’n kat begin spin. Die idee van home (ek weet nie of die Afrikaanse huis/tuis die Engelse home heeltemal raakvat nie) kan baie sterk emosies en gewaarwordinge na vore bring.

Enkele jare gelede is ek gevra om saam met ’n paar kollegas en studente vir die Fakulteit ’n bemarkingsvideo te maak. Die videograaf gee vir ons elkeen dieselfde paar sinne om voor te lees, want hulle wou ’n collage maak van die teks. Ek kan nie meer al die woorde onthou nie, maar daar was ’n sinnetjie oor home wat seker met die Universiteit en die Fakulteit te make gehad het. Ek staan voor die kamera en lees my stukkie. Ek is tevrede dat ek dit reg gedoen het. “Nee,” sê videograaf, “jy moet dit weer lees. Wanneer jy die woord home (huis/tuis) sê, kan mense nie iets van jou assosiasie daarvan sien of hoor nie. Hulle hoor net ’n woord. So, dink aan iets wat jy met home assosieer terwyl jy die woord lees, en laat dit in jou stem en gesigsuitdrukking blyk.” Ek onthou ek het daar in die saal gestaan waar hulle dit opgeneem het – die Masker-teater van die dramastudente van Tukkies – en ek het gewonder waaraan om te dink. Ek kan nie meer presies onthou wat dit was nie, maar ek kry dit toe reg om home nie net soos ’n woord te laat klink nie.

Die insident het my lank bygebly. Ek praat met vriende oor hul assosiasies met “huis”. Vir sommige is dit ’n uitdaging om die assosiasie uit te druk. Ander kan dadelik aan iets dink. Dit is duidelik dat elkeen se prentjies van “huis” anders is, en ook oor tyd kan verander. En ek vra dikwels: Is “huis” ’n wat of ’n waar of ’n wie? As jy die woord hoor, wat kom oombliklik in jou geestesoog op? Watter gevoel kom sit in jou liggaam? Is daar ’n mooi herinnering? Verlange? Hoop? Of miskien trauma? Verlies? Afstand? En as jy môre weer daaraan dink, sal dit dieselfde assosiasie wees?

“Huis” is ’n woord wat baie in die Bybel voorkom. Dit is ’n kragtige woord. Vir die Israeliete was huis meestal geassosieer met diep verlange. Bevryding van slawerny en uit ballingskap in Egipte, en in Assirië en later in Babilonië. Dit het beteken dat hulle “huis toe” kon gaan. Om huis toe te kon gaan, was die definisie van verlossing. Hierdie smagting het in baie van hul geskrifte vorm aangeneem. Die bekendste een is sekerlik die openingsverse van Psalm 137: By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink. Wanneer Josef sy huismense na baie jare sien en oor sy pa uitvra – die broers wat hom verkoop en verban het – lees ons in Genesis 43 dat hy haastig padgegee het om te gaan huil, want sy gemoed was vol.

In verskillende tye van die Israeliete en Jode se geskiedenis, was die tempel die ander besondere simbool van ’n huis. Die tempel was ’n plek waar God teenwoordig was, en waar mens en God mekaar kon ontmoet, en wat heilig moes wees. ’n Veilige ruimte. Dikwels was die tempel egter ewe veel ’n simbool van uitsluiting. Vroue kon meeste van die ruimtes van die tempel nie betree nie, en enige randfiguur van die samelewing was ook nie altyd welkom nie – hul onreinheid sou die tempelruimte in gedrang bring. Jesus se woede oor die wyse waarop die tempel op hierdie manier eintlik die teenoorgestelde van “huis” simboliseer, bereik ’n hoogtepunt en daarom gooi Jesus die korrupte tafels van die geldwisselaars buite die tempel om. Hy is kwaad omdat sy Vader se huis ’n besigheidsplek en rowersnes geword het (Joh 2 en Mark 11).

Tydens die pas afgelope Algemene Kerkvergadering  (AKV) van die Hervormde Kerk, vind ek myself telkens nadink oor die Kerk – en die manier waarop die algemene kerk en ons Kerk “huis” of “tuis” (home) is. Die vergadering vind plaas in ’n reusegebou van die NG Kerk in die noorde van Pretoria. Die organiseerders moes beplan vir sosiale afstand, en daardie gebou sou baie mense met sosiale afstand kon akkommodeer. Die Sondagaand begin met ’n erediens. My werk is om alles van Afrikaans na Engels te vertaal vir die paar Engelssprekende gaste. Ek leef my dus nie heeltemal in die preek en die atmosfeer daar in nie – ek konsentreer net op al die vertalings. Die volgende dag gaan ek die gebou binne en sien eintlik vir die eerste keer die hoogte van die dak. Die kuns teen die mure.

Soos die vergadering vorder, en soos vergaderings maar gaan, is daar baie uiteenlopende standpunte oor ’n klomp sake. ’n Klein meerderheid van die vergadering stem teen kinders se deelname aan die Nagmaal, en met ’n groot gesukkel kry die vergadering dit reg om uiteindelik drie vroue op ’n komitee van 12 te kies wat die hele Hervormde Kerk verteenwoordig. Daar was debatte oor teologiese opleiding, en oor die uitdagings van vergifnis en geregtigheid ten opsigte van die groep wat in 2010 die Kerk verlaat het.

Ek luister na dit alles en wonder of home ’n woord is wat ek kan assosieer met dit wat ek beleef het. Ek vra dit omdat ek ’n baie groot gedeelte van my akademiese loopbaan daaraan bestee het om te lees en te skryf oor die identiteit van die Kerk. Ek het nog nooit, en sal nooit, geduld hê met ’n onkritiese slegsê van die kerk nie (church-bashing), maar ek is nie blind vir die Kerk (ook die groter Christelike kerk) se foute nie. En daarom, as predikant en gelowige, dink ek die hele tyd oor die doel en roeping van die Kerk, en ook my eie – dit is die definisie van Reformatoriese teologie. En as ek die woorde “huis” en “tuis” met die Kerk (en kerk) wil assosieer, is dit dus soms “ja – ek kan” en soms “nee – ek kan nie” … en soms is dit ja en nee tegelyk.

Toe die eerste geloofsgemeenskappe na die Jesus-gebeure begin toeneem en oor grense heen versprei, het hulle begin om ’n opsomming te maak oor die identiteit van die algemene Christelike kerk. Daardie identiteit is verwoord in een van ons vroegste belydenisse wat uit ongeveer 381 nC dateer. Daarin word verklaar dat die Christelike kerk oor tyd en plek heen, aan vier eienskappe uitgeken sal kan word, naamlik eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisiteit. Dit het beteken dat die vroegste gelowiges ’n paar dinge oor die kerk erken en geglo het.

Eerstens het dit beteken dat die kerk verskillende vorme het en nie op een plek saam, of dieselfde, hoef te wees om “kerk” te wees nie. Verskeidenheid in die kerk is dus ’n karaktereienskap van die kerk en moet gevier word (katolisiteit). Maar, al is die kerk versprei in geografiese ligging en vorm, is die kerk steeds ’n eenheid omdat almal saamgebind word deur die belydenis dat Jesus die Here is. Hierdie eenheid is nie net ’n belydenis nie, dit is ook ’n opdrag, want die vroeë kerk het geweet mense se verskille kom dikwels in hul pad om die evangelie te verkondig. Die kerk is ook heilig – nie omdat die vroegste gelowiges gedink het hulle is beter as ander nie. Die heiligheid van die kerk het beteken (en beteken vandag nog) dat die belydenis wat die kerk saambind, daartoe lei dat die kerk gerig is daarop om op ’n baie spesifieke manier te leef. Heiligheid beteken integriteit. En dan is die kerk ook apostolies, wat “gestuurdheid” beteken. Vir die vroeë kerk het dit nie daaroor gegaan om almal te dwing om Christene te word nie. Om na die uithoeke van die aarde gestuur te wees om mense te doop in die Naam van God, Seun en Gees (soos ons in Matteus lees) was ’n opdrag om uit te gaan na die uithoeke van die aarde en mense die gesig van God te wys en God te reflekteer.

Saam met die gelowiges van alle eeue bely ons vandag nog dat dit is hoe ons die kerk kan uitken – en dit is die manier waarop ons onsself met die kerk kan identifiseer, en daar kan “tuis-kom”.

In twee prominente teksgedeeltes in die Bybel kom die saak van “huis” en “tuis” ter sprake. In die baie bekende Psalm 23 bely en beklemtoon die digter dat hy sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. En in Johannes 14 lees ons dat Jesus sê dat in die huis van my Vader is daar baie woonplek – as dit nie so was nie, het Ek dit nie vir julle gesê nie. Huis word deur die Psalmdigter aan die teenwoordigheid van God gekoppel, en huis word deur die Evangelieskrywer aan Jesus se karakter gekoppel, en omdat die dissipels vir Jesus ken, ken hulle die “huis” waarna Jesus verwys.

Die huis waarna die Psalmdigter verwys, is een van versadiging, veiligheid en vrede – want die digter bely: ek kom niks kort nie; ek sal nie bang wees nie; ek word oorlaai met hartlikheid. Tussen die digter se ek-belydenisse, kry ons ’n toneel van uiterste vrede. ’n Ruimte waarheen ’n mens kan gaan om jou krag aan te vul. Daar is ’n erkenning dat alles nie altyd vlot verloop nie. In sulke tye is die ruimte wat die Psalmdigter beskryf, juis altyd daar en hy kan altyd daarheen terugkeer. Daarom lees ons sy laaste ek-belydenis: ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. Die versadiging, die veiligheid, die vrede – dit is alles in daardie ruimte as gevolg van die teenwoordigheid van die Here. God se teenwoordigheid self is een van versadiging, veiligheid en vrede. En daardie ruimte kan ’n “plek” wees – maar dit sal uitgeken kan word aan die drie elemente van God se teenwoordigheid.

Die huis waarna Jesus verwys, het baie woonplek. En uiteraard moet die teks gelees word in die groter konteks van die Evangelie en die gebeure wat rondom Jesus plaasgevind het. Dissipelskap was ’n aanhoudende keuse. Dit het behels om ’n bepaalde leefstyl aan te neem en ’n spesifieke koers in te slaan. Daarom was die dissipels waarvan ons in die Johannes-evangelie lees, bekend as “mense van die Weg”, want Jesus was die “Weg”. Daardie leefstyl en koers is gegrond op die oortuiging dat die pad wat Jesus loop, die weg van lewe en liefde is. Die leefstyl en koers was gegrond op die oortuiging dat Jesus self daardie lewe en liefde moontlik maak en so die teenwoordigheid van God, hier en nou, ’n werklikheid maak.

Jesus sê as’t ware drie dinge:

  • In die huis van my Vader is baie woonplek.
  • As julle My ken, ken julle my Vader.
  • By My is daar baie plek: Ek is daardie plek.

Jesus is “huis/tuis”. En die huis is groot. Jesus se bediening het aangetoon hoe groot die huis is. Die huis waarna Jesus verwys, word ook met eerlikheid geassosieer: As dit nie so was nie, sou Ek dit nie vir julle gesê het nie, sê Jesus. Dit is ook ’n versekering: Die huis is regtig groot, Ek jok nie vir julle nie. As ons die eerlikheid en versekering van Jesus ter harte neem, en as ons Jesus as “huis” aanvaar, en ook glo dat Jesus die teenwoordigheid van God verwesenlik, dan kan ons by die punt uitkom waar ons begin glo dat die Kerk, as liggaam van Christus, beide God se teenwoordigheid verwesenlik en ook dat Kerk “huis” kan wees. Kan dit?

So ver as wat ek terug kan onthou, was die Hervormde Kerk vir my “huis”. As kind is ek in die Kerk ingebore, omdat my ma en ouma Hervormde lidmate was. Toe ek oud genoeg was om vir myself te besluit, toe besluit ek om te bly – want dit was (is) vir my “huis”. Die liedere wat ek as kind gesing het (al het niks daarvan verstaan nie), laat ’n gevoel van nostalgie by my opkom as ek dit nou moet sing. Ek identifiseer met die veerkragtigheid en soepelheid van Hervormde teologie. Ek identifiseer met die simbole van die identiteit van die Hervormde Kerk, soos die toga en die belangrikheid van eredienste en Woordverkondiging. En dit is nie net die Hervormde Kerk nie. Waar ook al ek gereis het, as daar kerkgeboue in die gebied is, trek dit my soos ’n magneet. Dis in my DNS. Ek voel die trekkrag na die kansel toe. Ek wil die Bybel oopmaak en daaraan vat. Ek wil in stilte in die agterste bank gaan sit en met God praat. Ek draai my nek soveel as wat ek kan om die hoogste deel van die kerk se plafon te sien. En ek is tuis.

Maar ek is ook ontuis. Die algemene kerk se geskiedenis van dogmatiese onderdrukking en die wyse waarop mense se liggaamlike eienskappe soos ras en etnisiteit en gender hulle op sogenaamde teologiese gronde van die kerk uitgesluit het, en in sommige gevalle fisiese teistering meegebring het, en die seer wat hulle beleef het, is ook in my geheue. Die manier waarop die kerk soms sukkel om jammer te sê, te sê ek was verkeerd, is soms soos ’n steekpyn hier in my sy. Die kerk se oorbeklemtoning van geld en soms die oordrewe rykdom van sekere tradisies, laat my met ernstige ongemak en kritiek. En so ook die verskriklike gesukkel om ’n leierskap te kies wat verteenwoordigend is van die lidmate van ’n tradisie. Die Hervormde Kerk sukkel daarmee vir byna 200 jaar. Ander Christelike tradisies sukkel ewe lank en nog langer.

Die Psalmdigter bely dat hy keer op keer kan teruggaan “huis toe” – omdat hy verseker is dat hy daar “tuis” sal wees. Die huis is nog daar. Kan hy teruggaan omdat die huis altyd dieselfde bly? Is hy met ander woorde tuis omdat die huis dieselfde bly, of omdat God se teenwoordigheid die huislikheid van die huis verseker? Vir baie ander, is die huis net nie meer daar nie. Dit behels soms afskeid van sekere dinge en plekke wat bekend was en waarmee hulle nie meer kan assosieer nie (of dit word al hoe moeiliker om daarmee te assosieer). Dit behels soms afskeid van mense, nie omdat hulle dood is nie, maar omdat iemand net nie meer by hulle tuis is nie. Wanneer dit gebeur, bestaan daardie huis vir daardie mense nie meer nie. En dan verlaat hulle die huis. Of hulle gaan nie weer terug nie. Oor soveel jare hou ek diegene dop wat die kerk-huis verlaat. En ek het deernis met hulle.

Maar, as huisbewoner van die een, heilige, algemene, Christelike kerk, is ’n paradoksaliteit nodig: Omdat die kerk tegelyk van God én van mense is, is dit nodig om ’n afstand en nabyheid, tuis/on-tuis-verhouding met die kerk (en Kerk) te hê. En die rede daarvoor is dat ons nie altyd daarin slaag om vir mekaar “huis” te wees nie… en wanneer dit gebeur, behoort ons dit te kan erken. Ons bely saam met Paulus dat niks ons van die liefde van God kan skei nie – maar soms plaas ons ’n paar versperrings of hekkies vir mekaar in die  pad. Dan bestaan die gevaar dat die huis kleiner word. Die kerk het ’n paradoksale identiteit. En binne hierdie identiteit is daar ruimte vir verskeidenheid, maar ook vir teleurstelling en vreugde. Vir geduld en ongeduld. Hierdie teenstrydigheid is ’n karaktereienskap van ’n kerk (en Kerk) wat binne ’n gebroke werklikheid bestaan. Vir diegene wat in die kerk (en die Kerk) bly, is hierdie ’n byna ononderhandelbare voorwaarde. Dit beteken ’n kritiese en waarderende houding jeens die kerk (en Kerk). Wanneer jy dit kan erken, kan jy altyd weer huis toe gaan met ’n realistiese hoop en verwagting. Binne so ’n ruimte kan ek (en ander) aanhou, om met die woorde van Johan Wolgang van Goethe, soos in sy toneelstuk, Faust, te sê: Hier is ek mens. Hier kan ek wees.

’n Huisgebed om tuis te wees

Ons dank U vandag vir die kerk, Here:
vir die plaaslike gemeente,
vir mense wat ’n leefstyl aanneem,
’n koers inslaan,
en die pad van dissipels stap.
Wat keer op keer kies
om huis van God te wees
vir mekaar,
vir ander,
en wat keer op keer terugkeer
na u heilige berg, na u woning,
net soos die Psalmdigter gesê het.

Ons dank U,
dat U ons geloofsgemeenskap in stand hou,
en dat U aanhou
om saam met ons op weg te wees.

Ons bid vir almal wat vandag wonder oor “huis”:
wat bekommerd is oor ’n fisiese heenkome,
wat smag na ’n geestelike tuiste.
Ons bid vir hulle wat nie weer of meer huis toe kan gaan nie;
en vir hulle vir wie die huis nie meer daar is nie.
Mag ons leer om “huis” vir hulle te wees.
Help ons om u teenwoordigheid
van versadiging, veiligheid en vrede
al meer ’n werklikheid te maak.

Amen.

 

(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)