Op 17 November 2022 is Louizé de Beer, Lamé Janse van Rensburg en Wilma Lötter-Matthee gelegitimeer en as proponente tot die NHKA toegelaat. Elkeen vertel hier ’n bietjie meer oor haarself.

Louizé de Beer

“Ek het in 2015 gematrikuleer en het in 2016 begin met my studies aan die Universiteit van Pretoria, met die idee dat ek ’n prokureur gaan word. Aan die einde van 2016 besef ek dat ek geroepe is vir ’n ander pad. In 2017 begin ek met my teologiese studies aan UP, en ek is aan die einde van 2022 gelegitimeer. In Desember 2022 het ek ’n beroep ontvang na Ottosdal, en op 22 Januarie 2023 is ek georden en bevestig. Ek glo dat ek besig is om my roeping uit te leef hier in Ottosdal. Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie gemeente. Ek is baie vriendelik ontvang deur almal en voel ook reeds asof ek deel is van die familie. Ek sien uit daarna om ’n pad te stap saam met hierdie gemeente, en om permanent in die bediening te werk en voortdurend besig te wees met God se werk.”

Lamé Janse van Rensburg

“Ons almal het drome. In ons kinderjare is drome meestal nog naïef en onrealisties. Wanneer ons skoolvlak betree, word ons drome gedemp deur die geraas van die wêreld, en met die verloop van die jare droom ons al hoe minder en kleiner. Van kleins af was my grootste droom om ’n dominee te wees. Ek het nie ’n idee gehad wat die beroep alles sou behels nie. Wat vir my ’n droom was, was vir God ’n roeping. Na ’n lang reis van studies bevind ek my in ’n nuwe fase. Afgestudeer, en ’n dominee in die NHKA se Gemeente Rooihuiskraal. God se droom vir my het waar geword. Mag ons nooit ophou droom nie, al voel dit onrealisties en vergesog. Mag die wêreld se geraas nooit so hard word dat ons vergeet om na God se stem te luister nie. Hierdie reis was nie maklik nie, en die reis is ook nie verby nie. God stap saam met ons, elkeen met sy eie roeping.”

Wilma Lötter-Matthee

“Hoe eet ’n mens ’n olifant? Stukkie vir stukkie! Hierdie vraag het ek al baie vir myself gevra en elke keer het ek stukkie vir stukkie geantwoord. Dit is hoe ek Teologie aangepak het en hoe ek dit reggekry het om so ver te kom. Stukkie vir stukkie het ek dit gedoen. Dit het vir my ’n motto geword waarvolgens ek in die verlede take aangepak het en waarvolgens ek voel ek toekomstige take in my lewe sal aanpak. Daarom is dit my verwagting vir die toekoms om dit stukkie vir stukkie te vat. Niemand weet wat die toekoms bring nie. Ek weet nie hoe my bediening eendag gaan lyk nie, maar wat ek wel weet, is dat ek dit stukkie vir stukkie gaan vat. Ek glo en vertrou dat God se hand in alles is en dat ek tot alles in staat is deur Hom wat my krag gee.”