Lank reeds glo ek dat die padreis ’n integrale deel is van die vakansie. Dit hang natuurlik af of ’n mens oor die nodige tyd en middele beskik, maar in die seldsame gevalle waar die twee wel beskikbaar is, belowe ’n oornaggeleentheid langs die grootpad om ’n interessante belewenis te wees.
My roetine op so ’n reis deur die Karoo is om die kerkgeboue op my roete te besigtig. Ons weet almal dat wanneer jy deur die droë Karoo reis, die torings van die Afrikaanse kerke jou aanmoedig om ’n draai in dié dorpies te maak. Dan besoek ek gewoonlik ook die Anglikaanse kerkie, en omdat my vrou ’n Jodin is, volg ons dit op met ’n soektog na die ou Joodse sinagoge, indien daar wel nog so ’n gebou bestaan.
So het ons onlangs ’n interessante verblyf in Hanover, in die Noord-Kaap, ondervind. Die aanskoulike NG Kerk wat dateer uit 1906 was die eerste kerk wat WH Ford (gebore en gekwalifiseer in Australië) ontwerp het. Hy was ook die argitek van die imposante NG Moederkerk in Kroonstad (1912), en van sy ander kerke kan besigtig word in Ventersburg, Dealesville, Thaba Nchu, Frankfort, Barkly-Oos, Burgersdorp, Sterkstroom, Jamestown, Aurora, Heidelberg (Wes-Kaap), Benoni en Vosburg.
Die sierlike Anglikaanse St Margaret-kerkie wat dateer uit 1895-’96 was definitief ’n besoek werd, maar ongelukkig gesluit, en klaarblyklik vind Skriflesing slegs nou en dan daar plaas.
In die ou begraafplaas besigtig ons die historiese monument ter herdenking van die broers Charel en Jan Nienaber, asook Jan Nieuwoudt. Hulle is klaarblyklik onskuldig ter dood veroordeel deur ’n Britse militêre hof en tereggestel in De Aar oor die ontsporing van ’n trein tydens die Anglo-Boereoorlog. Hul oorskotte is later deur die toedoen van die skryfster Olive Schreiner en haar man, Samuel Cron Cronwright-Schreiner, in Hanover herbegrawe. Let op die bitter inskripsie op die monument: Aan My kom die wraak toe. Ek sal vergelding neem, sê die Here (Rom 12: 19).
(SJ de Klerk is voorsitter van die noordelike tak van die Argeologiese Vereniging van Suid-Afrika en deeltydse toergids vir die Johannesburgse Erfenisstigting)

NG Kerk Hanover, Noord-Kaap; ontwerp deur WH Ford (Foto’s: SJ de Klerk)

Grafmonument van Charel en Jan Nienaber asook Jan Nieuwoudt

St Margaret Anglikaanse Kapel in Hanover