Alhoewel gelowiges en ongelowiges van elke generasie weet waar die kerkgebou is, beteken dit nie noodwendig dat al die generasies saam met jou gaan aanbid nie. Dink gerus aan die generasies wat in jou gemeente ontbreek. Die Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) van 2023 help gemeentes om opnuut saam met verskillende generasies te bedien.
In sy boek The Millennial Narrative (TMN) rig Jaco J Hamman die gesprek op hoe ons saam met generasies kan bedien eerder as om verskillende generasies te bedien. Jonger generasies is krities oor die kerk, en vermy die institusionele kerk. Ouer generasies voel soms vervreemd van denominasies vanweë gemeentes se pogings om vir almal ruimte te skep. Jonger generasies voel nie gemaklik met of deel nie in die oortuiging dat hulle deel vorm van ’n institusionele kerk nie. Ouer generasies kan dit nie altyd verstaan nie, en woeker met talle programme en aksies om hierdie generasies deel te maak van die kerk as primêre aanbiddingsplek. Sommige generasies tipeer die kerk as ’n instansie wat moralistiese deïsme voorskryf, en hulle kan hulle nie daarmee vereenselwig nie. Derhalwe het gelowiges in ons gemeenskappe alternatiewe aanbiddingspasies geskep.

Hoe kan ons elkeen bedien, dié binne en dié buite ons gemeentelys?
Die gemene deler tussen al die generasies is dat elkeen die “goeie lewe” wil deel. Die goeie lewe is nie noodwendig rykdom en sukses nie. Die goeie lewe vra: Hoe kan ons ’n jong generasie eties grootmaak? Hoe kan ons sosiale geregtigheid laat seëvier in ons gemeenskap? Hoe kan ons die diversiteit tussen mensegroepe (lees: generasies) erken?
Hamman se vertrekpunt in TMN is om só ’n goeie lewe te kan deel vanuit die Bybelse boek Joël. Hierdie narratief in Joël bied ’n kragtige storie waarin mense hulle kan vereenselwig as individue en in hul onderskeie gemeenskappe kan deelneem en die “goeie lewe” kan deel.
Hoe kan ons in coram Deo leef?
Joël, volgens Hamman, beskryf ses vertrekpunte vir hoe om die “Good Life” te leef:
- Vind maniere om te floreer te midde van die verlies van jou tyd, deur die verliese te hanteer. (Hy stel voor ons gebruik ’n antieke Hebreeuse gebedstruktuur, ’n rouklaag, lament in Engels.)
- Tree in gemeenskap met jou omgewing. Gebruik die byeenkomste in jou konteks as teenkanting vir die verlies wat jy ervaar. (Gebruik die rouproses in jou guns.)
- Hier, in gemeenskap, ontmoet ons God wat reeds ’n restourasieproses in werking het. Ontmoet die Heer in sy plan met die wêreld.
- Jy is in verhouding met God, jy leef in sy visie vir die wêreld en jy dra daardie visie in jou.
- Jy word aanspreeklik gehou vir jou persoonlike lewe, jou lewe in die gemeenskap, ook hoe jy hierdie planeet versorg.
- Leef ’n lewe wat ’n positiewe invloed op hierdie wêreld het.
- Mense het ’n storie nodig, ’n narratief om by in te koop en in te leef. ’n Groter narratief as net die gejaag na rykdom, aansien en welvarendheid. Ons generasies vind nie hierdie storielyn op sosiale platforms nie. Hulle vind dit in jou, en in my.
Die verhaallyn kan só klink (vanuit The Millennial Narrative):
“Daar was mense wat verlies en trauma geken het. Hulle het oor die verliese getreur en genesing vir hul traumas gesoek deur lewegewende gemeenskappe te bou en hul spiritualiteit te koester. Hulle het die deernisvolle God ontdek wat herstel beloof en God se Gees oor almal uitstort. Hulle het aanspreeklikheid omhels, wetende dat besluite en aksies wat geneem word, gevolge het. Hulle het deelgeneem aan God se herstelwerk vir ’n regverdige samelewing en ’n volhoubare aarde. Hierdie mense het die Goeie Lewe geleef. Jy is so ’n persoon.”
Hoop vir die kerk
As kerk kan ons generasies innooi in die missio Dei, ’n waardevolle narratief, waarin elkeen kan deel in die goeie lewe. VTT 2023 help gemeentes om ’n vertrouensverhouding te bou tussen generasies deur self aanspreeklikheid te neem vir die missio Dei in ons gemeenskappe en gemeentes. Hier word vertroue herbou en onderlinge geloofsbande tussen generasies versterk, terwyl ons uit dankbaarheid diensbaar is.
Aksiestappe vir VTT 2023
- Bestel dadelik ’n harde kopie van The Millennial Narrative by Karen Breedt (karen@nhk.co.za) of gebruik die Kindle-opsie.
- Maak die aanlyn bekendstelling oor moontlike werkwyses prioriteit vir jou en jou gemeentelede op Dinsdae 7 Maart om 09:00 en 19:00 en 14 Maart om 19:00.
- Kontak dr André Ungerer by ungerer@up.ac.za vir jou gemeente of ring of streek se VTT-datums.
Vir meer inligting oor hoe om jou gemeente, geloofsleiers en generasies voor te berei vir die VTT, kontak dr Pierre Jacobs by pierre.jacobs6@gmail.com.
(Dr Pierre Jacobs is leraar in Gemeente Gaborone)