Die teologiestudente van die Hervormde Kerk is Woensdag 15 Februarie 2023 amptelik verwelkom by die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) tydens ’n openingsgeleentheid. Dr Hein Delport het die erediens gelei aan die hand van Markus 1: 1-8, met as tema vir die prediking die vraag wat Fred Craddock (bekend vir sy werk oor Induktiewe Prediking) homself gevra het in sy eksegese oor Johannes die Doper: Het jy al ooit Johannes die Doper hoor preek?
In die lig van die vraag is daar verwys na ’n skildery van Mattias Grünewald, Die Kruisiging, waarin die figuur van Johannes die Doper met ’n benerige vinger na Jesus wys. Die skildery het bokant die lessenaar in Karl Barth se studeerkamer gehang en vir hom as inspirasie gedien vir die skryf van sy teologie, sy Kerklike Dogmatiek en ook die hermeneutiese kerugmatiese-kritiese-model waarvolgens prediking in die NHKA tot vandag, ook onder die sterk invloed van wyle prof TJF Dreyer, ingerig word. Die fokus volgens hierdie metode van prediking is gerig op die Skrif en die interpretasie van die Woord. Die prediking word soos Johannes die Doper se vinger wat wys na die Woord, na Jesus.
As beskrywing van wat prediking behoort te wees, haal Delport vir Dreyer aan: Prediking is ’n pneumatologiese woordgebeure, waarin ’n geroepe bedienaar van die Woord, via ’n kommunikasie-ervaring met ’n Skrifteks, die gemeente in hulle konkrete situasie begelei tot ’n ontmoeting met die lewende God.
Die vraag Het jy al ooit Johannes die Doper hoor preek? het tot my gespreek. Dit het my laat wonder oor wat dit is wat ek by Johannes die Doper hoor. Wat ek hoor, is die profetiese stem wat ons terugroep na Jesus en sy kruis, ons oproep om soos Johannes die Doper, in die prediking, in ons lewe van elke dag, met ons woorde en dade na Jesus te wys. Dit is ’n oproep tot bekering en terugkeer, na die lewende God wat ons elke dag deur die Heilige Gees in ons lewe kom ontmoet. Ons word geroep om soos Johannes ’n profetiese stem te wees.
Tydens die geleentheid van die HTK se opening is ek gevra om as nuwe dosent aan die Universiteit van Pretoria, in Praktiese Teologie, ’n referaat te lewer. Die tema van my referaat was Morele verwonding: Oorsake en verskillende vorme daarvan, vanuit pastorale perspektief. In ’n volgende uitgawe van Die Hervormer sal ek meer daaroor skryf.
Prof Jaco Beyers (adjunkdekaan) het, as waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, ’n woord van verwelkoming tot die studente gepreek. Dr Thinus van Staden het, as voorsitter van die Kuratorium, met bemoedigende woorde die studente laat tuis voel en dr André Ungerer, hoof van die HTK, sterkte toegewens vir die jaar.
(Dr Annelie Botha is dosent in Praktiese Teologie met spesialiteit Pastoraat)