Advent is nog nie Kersfees nie, en Advent is nóóit pret nie.

Kan ons Advent oorslaan? Baie mense doen dit, veral vanjaar, want 2020 was só moeilik dat ons vir die gewroeg van Advent ook nog, nie kans sien nie. Die toonaard van Advent is verlange en versmagting na God. Ons wil by Kersfees uitkom, maar kan ons die vreugde van die Christusfees hê as ons nog nie na God gesmag het nie?

Binnelanders sê oor ’n afstand lyk alles só gesond. Van naderby, so sê Jesaja, is dit ’n ander storie: Die wêreld is ’n gemors. In Jesaja 63 en 64 kla die profeet hy wonder of God die moeilikheid dalk miskyk. Buitendien gaan om net van ver af die spulletjie gade te slaan, net mooi niks help nie. God moet die hemele oopruk, en met sulke geweld hier opdaag dat die berge daarvan bewe.

Die probleem is dat al hierdie moeilikheid met die wêreld ons vingerafdrukke dra. Goeie voornemens ten spyt, het ons vanjaar dieselfde foute gemaak. Die lewe se mislukkings en teleurstellings, ook die afgelope jaar s’n, bly ons skuld. En Advent is wanneer jy in antwoord op dié besef sê: Self kan ons nie meer nie. Here, kom help! Here, ons wag dat U ingryp.

Maar dis nie hoe ons daarvan hou om Advent te vier nie. Trouens, ons het daaraan gewoond geraak om Advent oor te slaan. Sondag met ons kerkraadsvergadering het iemand gevra oor die Kerssangdiens: Wanneer sing ons Kersfees? Gemeentes van oraloor doen dit nou al, van November af al, net ons nie.

Ek verstaan hoekom: Die skole sluit en al wat leef gaan met vakansie weg en sal elders Kersfees vier. Ons wil die jaar saam op ’n hoë noot afsluit. En met dié hou ons Kersfees ’n maand te vroeg.

Ons het Advent vergeet. Advent se gevoel is angs, nie blydskap nie, nog nie. Eers as ons besef ons kan met plannetjies, besittings en wapentuig onsself en mekaar nie red nie, dan eers is ons gereed vir Kersfees. Net mense wat agterkom dat as God nie iets doen nie, ons verlore is, dan eers is ons reg om te bid: Here, kom! Here, skeur die hemel oop, ongeag die gevolge. Dis wat Advent sê. Advent smag na God, smeek God moet ingryp, verlang na uitkoms, pleit vir verligting en verlossing, soebat God om asseblief tog net te kom, want hier waar ons nou is, is hel: Al ons selfdoen-maneuvers met die lewe het verongeluk. Net God kan nog help. God moet deurbars en opdaag, al stort die berge in duie en rys die see, want selfs dít kan nie erger wees nie as hierdie klaaglike gebrokenheid waarin ons nie meer oorleef nie.

Dis ’n vreesaanjaende gedagte, dié gegil dat God moet kom. Dit getuig van wanhoop, van hoe desperaat ons is. Jesaja sê die kwik gaan styg, tot kookpunt toe, die veld spontaan aan die brand slaan, en die nasies gaan die ritteltit kry. Dis wat gebeur as die Here kom.

Jesus Christus is die aardskudding. Jesus is God se antwoord op ons geweeklaag. Dog, omdat ons nie graag erken ons skiet te kort nie, kyk ons met Kersfees op, ’n oopgevlekte hemel in, en verwyt die engelekoor met hul safgesingde Kersliedjies: Julle is laat!

Advent ruk jou voor die fees eers in die bek: Sien jy hierdie brousel? Jý het die skepping so verongeluk. Basta met die krokodiltrane, hou op om jou wonde met ’n potskerf te wil krap, jouself te bejammer, en hou op met ’n hol Kersfees vol skapies, sterretjies, geskenkies vol slimmigheid. Dit maak niemand meer regtig bly nie.

Sing vir eers klaagliedere oor jou sonde. Jou sonde is jou eie. Neem eienaarskap. En kyk op en kyk uit vir God wat jou uit jou eie drek moet kom uitlig. God sál: God gaan die hemel oopskeur en jou van voor die hel se poorte af wegraap. Die ding is net: Eers as jy die bodem van jou put tref, die hitte van die kwik aan eie lyf voel, eers as jy verstaan wat jóú verlossing verg, is daar ’n kans dat jy rede gaan hê vir ’n viering van Kersfees, met gepaste dankbaarheid, vrede, en selfs vreugde.

Laat God jou weer bly maak. Vier fees. Maar hou jou net nog ’n rukkie in: Wag! As jy dan Kersfees vier, sal jy, danksy Advent, weet hoekom jy maar mag.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link