In die Suid-Afrikaanse politiek gaan dit veel meer oor persone as oor beginsels. Die afgelope verkiesing het dit weer duidelik uitgewys. En ’n stryd tussen persone is altyd bitter en skerp – dit verjaag die liefde, hoofde word heetwarm en harte word yskoud.
Dit is my vrye vertaling uit Nederlands van die woorde van ds Jac van Belkum, redakteur van De Hervormer, in die uitgawe van 15 Augustus 1924 – onder die skuilnaam Oom Sarel.
Die grootste deel van hierdie uitgawe presies 100 jaar gelede is in Nederlands, hoewel sekere briewe en kort bydraes, asook ’n uitgebreide rubriek getiteld Die Sondagskool, in die opkomende taal, Afrikaans, geskryf is. Die afleiding kan gemaak word dat kinders en ander jongmense reeds gemaklik met die taal was.
Suid-Afrika se Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land was. Op 8 Mei 1925 is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal erken. In ons voorbladartikel vandeesmaand verduidelik Sanet du Plessis hoe ons deel kan word van Afrikaans se eeufeesviering.
’n Vlugtige blik op De Hervormer van 15 Augustus 1925 wys dat die nuwe taalbeleid ook in die Officieel Orgaan van die Kerk ’n vastrapplek gekry het, hoewel ietwat langsamerhand. Die inhoud van die uitgawe is weer eens insiggewend. Die redaksionele voorbladartikel waarsku teen die gevaar van die “wederdopers” en ander “sektes”. Oom Sarel het dit teen die klakkelose na-aap van Amerika in soverre dit sendingwerk aanbetref, en die Vragenbus behandel die vraag of sensuur ook toegepas kan word op dooplidmate – alles steeds in Nederlands. Daar is egter ’n beduidende toename in Afrikaans in die publikasie teenoor die uitgawe van ’n jaar tevore.
Ds (later prof) HP Wolmarans skryf in keurige, hoewel (uit die aard van die saak) ouderwetse, Afrikaans oor die doop – en hy het ook ’n klippie in sy skoen: Daarom geagte leser … als die versekering van sondevergewing so opnuw tot ons kom behoor dit ’n gevoel van innerlike dankbaarheid op te wek in ons hart. Dan kom daar ook ’n begeerte op om God te loof en te dank vir die onbegrypelike genade. En als ons dit waarlik so voel in ons hart, sal ons ook die bekende segenbede met meer opgewektheid aan die ouers en kinders toesing as wat ons so dikwels moet hoor. Ja waarlik die sing van die segenbede asof dit ’n begrafnislied is, is altoos ’n teken van hoe min ons nog die diepe betekenis van die doop verstaan en hoe min ondervinding ons het van die segeninge wat ons in die doopbelofte toegesê word.
Ds Joh Dreyer se bydrae, ewe-eens in Afrikaans, handel oor die toename in “immorele verhoudings” onder jongmense net om ’n “aangename tyd te hê” en hy betreur verder hoe maklik dit geword het om ’n huwelik deur middel van ’n egskeiding te ontbind. Die oordenking is ook in Afrikaans – met Skrifaanhalings in Nederlands (die eerste Afrikaanse Bybel is eers in 1933 gepubliseer).
Dit is ironies dat die Afrikaans 100-feesvieringe plaasvind juis in die tyd toe ons die skoknuus moes verneem dat die herstrukturering van Media24 binnekort ’n einde gaan bring aan gedrukte publikasies soos Rapport en Beeld.
Hoewel nie heeltemal verrassend nie, veral na die staking van die gedrukte weergawe van Volksblad enkele jare gelede, het dit nogtans ’n opskudding in die koerantwêreld veroorsaak. Vir elkeen wat steeds erg is oor die gevoel van koerantpapier en die reuk van drukkersink is dit ’n bitter pil om te sluk – soveel te meer omdat die toekoms van Die Hervormer se gedrukte weergawe noodwendig ook onder die loep kom.
Die sluiting van huishoudelike gedrukte titels is ’n bepalende moment in die geskiedenis van die media. Dit dwing ons om te reflekteer oor die toekoms van nuusverspreiding en die rol van die media in ons samelewing. Die opkoms van digitale nuusplatforms het ’n radikale verskuiwing in die mediabedryf veroorsaak. Lesers (ook van Die Hervormer) neig toenemend na gemaklike en onmiddellike toegang tot nuus deur middel van elektroniese toestelle soos slimfone en rekenaars. Hierdie voorkeur vir digitale toegang lei tot ’n afname in gedrukte media se lesersgetalle en advertensie-inkomste, wat weer die finansiële lewensvatbaarheid van daardie publikasies bedreig.
Vir baie lank was die gedrukte media die bakermat van nuus- en inligtingverspreiding en het dit ’n belangrike rol gespeel in debatvoering en in die vorming van die openbare opinie. Die einde van gedrukte publikasies laat ongetwyfeld ’n leemte, met beduidende implikasies vir die vrye stroom van inligting. Daar is immers steeds lesers wat volledig afhanklik is van die gedrukte media vir nuus en ander inhoud.
Die verandering in lesersgedrag is aanduidend van ’n veranderende samelewing wat ’n behoefte het aan onmiddellike inligting, multimedia, en die vermoë om interaktief deel te neem – en soms ook self nuus oor te dra (of te skep). Sommige lesers probeer sommer self ondersoekende joernalistiek bedryf, met wisselende sukses (of, meer akkuraat, wisselende grade van mislukking).
Te midde van die oorgang, bly goeie, etiese joernalistiek (ook kerklike joernalistiek) van kritieke belang. Ongeag die medium, moet ons alles in ons vermoë doen om uitstekende, geloofwaardige, hoë-kwaliteit-publikasies die lig te laat sien. In Afrikaans.
