Lees tog asseblief wat hier geskryf is as satire. Dis hoe dit bedoel is. Sensitiewe lesers moet liewers verbyhou.

God het in net 30 jaar evolusionêr verander, nee, gegroei! Of hoe? Dalk is revolusionêr ’n beter woord (meer gepas by die neomarxisme van die postmodernisme?). Nee, ek praat nie politiek nie, en ek sê ook nie God en Darwin is haaks nie. Inteendeel! Ek verwys maar net na die rasse skrede waarteen dit verloop het. God het aangepas, nes Darwin sê ons almal maak, dog anders as met evolusie, net inderhaas. Die mensdom beweeg so vinnig aan, God moes, glo ek, gou beeldbou voltyds aan’n engel opgedra het (dominees kry die geheelbeeld nie meer so lekker gesien of gesê nie). God het, soos ons almal maar, agtergekom sy gewildheid taan en besluit toe seker op ’n sjarmeveldtog.

Nou kyk, die 30 jaar gelede se “Liewe Jesus”-teologie het my nie eens destyds aangestaan nie, en ek krimp nou nog ineen. Jesus was toe Hallelujaliedsoet. Pure stroop, beste vriend, saggies en teer, soete hemelse rus. Ek betreur nie sy heengaan nie. Nie net het dié “Liewe Jesus” vir God vlakgevat nie, maar veel meer afstootlik, dit het ons mense onderskat: Ons hoëgraadboosheid regverdig tog seker darem ten minste ’n eweknie, ’n ewe formidabele opponent, ’n god met veel meer woema as die dierbare dominee dood aan die kruis, sý laaste woorde mos: Moenie worrie nie, julle is eintlik oukei.

Ag, liewe Jesus!

Daar was ’n tyd dat ons so behep was met ons eie sonde en in diepte gans verlorenheid, dat ons nouliks bo Calvinistiese skuld kon uitstyg, so word beweer. Toe was “Liewe Jesus” seker troostend? Sulke lieftalligheid haal tog die angel uit die sonde en die straf uit, want so ’n sagmoedige god kan tog nie anders as strelend en allesvergewend wees nie?

Wel, dit het vir ’n tyd lank goed gewerk. Dit het die eerste strepie miere die uittog laat aanpak uit hoofstroomkerke uit. Gedurige hel en verdoemenis maak selfs die Nagmaalwyn bitter. Maar met hierdie Liewe Jesus kon jy by die grensdraad lekker hand om die blaas staan, hom vriendelik pols oor die reën, en aanspreek oor die misoes en kla oor die algemene mislikheid van almal wat nie jy is nie.

Die rytjie miere het ’n stroompie geword, hoofstroom ’n spruit.

Liewe Jesus het grootgeword, maar die familiariteit het gehou. Ons en Jawê noem mekaar nou op die naam. Basta met heer en meneer. Dat Jode en Jehovasgetuies dié woord nooit sê nie, om teenoorgestelde redes, skeel ons min. (Wat sê die Engelse nou weer van waarheen engele bang is om te gaan, maar waar dwase uitkamp?) Ons is nou éérs beste vriende, ons en Jawê; Moses en God wat gesels soos ’n man met sy pel. Dis nou wel ’n volksvreemde en anderwêreldse naam, maar ons het al mooi geleer saamleef met die Ek is wat Ek is daaragter, en ons stem hartroerend saam met die geïmpliseerde idee dat ons ook dan maar mag wees net wat ons wil wees; ander moet maar vir lief neem. (Sien die verbuiging: lief, verlief. Liefde, mos!) Ons kan Jawê nou al van aangesig tot aangesig ontmoet, hom lekker in die oë kyk.

Terugskouend was dit, die skuif “Jawê” toe, miskien tog ’n treetjie agteruit in die beeldpoetsing vir God, ’n tydelike teruggryp na die uitgediende “Vader” toe, in weerwil van die klankie wat kleef aan alles patriargaals én die huidige beheptheid met ewige jeug. Ek bedoel, dis alles tog so “verlede millennium”, nie waar nie? Maar dalk tog met goeie langtermyngevolg, want met Jesus en Jawê nou een en dieselfde, het God nuwe statuur. Liewe Jesus kry lyf, spiere! Dis Liewe Jesus op steroïedes. Iets van: En hoor jy die magtige dreuning? Hier kom nou (uiteindelik!) ’n ding.

Liewe Jesus en boesem-pel Jawê word nou saam-saam sterk en magtig. Hierin sit daarvan die eintlike wins: Mense ook! Mense word ook nou sterker. Ons het aangekom in die tyd van Almagtige Manne en Vreesaanjaende Vroue. Want met die nuwe verbeelding van God as ’n magiese krag, word mense nou bémagtig.

Die Heilige Gees bekragtig nou nuwe denke en inspireer nuwe openbarings oor wat mense alles kan wees en doen. Mense voel vir die eerste keer self nie meer so onherroeplik sleg en onbeholpe met die lewe nie. Mense voel ook nie meer veels te swak om op te staan teen die demone wat in ander mense woon nie. Mense kan begin organiseer teen Satan, die Hoer van Babilon die loef afsteek, die Heilige Gees self bestuur en beheer, want dié reageer nou gewilliglik op aandrang van tale, genade, genesing en wonderbaarlike uitkomste. Vryf net die regte olielamp! (Wenk: As hy sloer, herinner hom net aan sy beloftes, dan spring hy! Of sê diplomaties by voorbaat al dankie dat hy gaan doen wat jy wil hê; dit dryf hom in ’n hoek.)

Selfondersoek oor sonde het plek gemaak vir mense se paraatheid, prestasie, weerbaarheid en bewapening. Vir oortuigd en met groot vrymoedigheid alleen reg wees. Jy kan self gesaghebbend oordeel as God nodig word, en adviseer God graag oor tydige en gepaste optrede. Daar is tog niks so deurslaggewend soos begrip vir konteks en voetsoolvlak nie, en hierin is ons by uitnemendheid kundig, met dié dat God so ver sit.

Siedaar, daar ontpop nou die El Sjaddai, die HERE die Almagtige God, altyd gerieflik tot die beskikking van mense met ’n hele noodhulpkissie geestesgoed wat in ’n kits als regruk. Sê net! Ek voorspel die volgende fase in God se ontwikkeling sal almag en leërskare saamsnoer. El Sjaddai sal opgaan in Jawê Tzevaot, die Here van die Leërskare met sy weermag engele en wapentuig, mense wat teen mense beter bestand is. Want baie het by Liewe Jesus vasgehaak, en daar is steeds diegene wat hulself as deel van die mitiese “hoofstroom” verbeel. Tzevaot gaan ons nóg meer as oorwinnaars maak teen elke vasgelooptheid by lankvergane gode, jy sal sien.

Darem is daar met God ook ’n verstek waarop jy kan terugval. God verander mos nie wesenlik nie! As al die mag moeilik word om te bestuur, is sy mooi gesindheid jeens ons ten minste nog beskikbaar: die lieftalligheid van die bloedbroer, Liewe Jesus, die lojaliteit van ’n Vader, Jawê.

Nou nie alles werk nog perfek uit soos ons dit wil hê nie – ons moet nog dink aan ’n neutrale voornaam – maar God bly by, bless, met nuwe tegnologie, pasgemaakte gereedskap en wapens vir die hedendaagse stryd wat ons moet voer om bo uit te kom.

Man, ons mense het die afgelope 30 jaar lekker gegroei.  En God, God het geskarrel, maar darem kon byhou, saamgekom, aangepas en grootgeword. Knap gedaan, ou pel.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link