In hierdie aflewering fokus ons op die bediening van ds Danie Taljard, ’n predikant in diens van die Christelike Seemansorganisasie. Hulle gee uitvoer aan die opdrag in Matteus 28: 19 – Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…
(Hooffoto): As die son opkom en die maan ondergaan, wag hulle reeds in die hawe. Groot vragskepe met seemanne van verskillende nasies van oral in die wêreld. Ons hoef nie uit te gaan na die nasies toe nie, hulle kom na ons toe.
(Foto 2): In die kantoor op die hawe in Port Elizabeth wag daar Bybels in verskillende tale wat van die rak tot in die hand van ’n wagtende seeman besorg moet word.
(Foto 3): Daar op die kaai, langs die reuseskip, begin die huisbesoek, en die toegang tot die volke van die wêreld is die smal trapleer (Foto 4).
(Foto 5): Die veiligheidsregulasies vereis beskermende klere en toestemming om aan boord te gaan. In die sakke is Bybels en Kersgeskenke.
(Foto 6): In die eetsaal of ontspanningslokaal, diep in die binneruim van die skip, ontmoet ek die seemanne wanneer hulle breek vir koffie of tydens middagete. Dit is hier waar God die afsprake maak. Ek wag geduldig met ’n koppie koffie.
(Foto’s 7 tot 14): Die blydskap van ’n seeman wat, na maande op die see, ’n eenvoudige plastiek skeermes in sy pakkie raaksien. Hy kan sy baard skeer vir die eerste keer in drie maande. Die onverwagse verjaardag aan boord waar die seeman, saam met ’n heerlike koek, ook ’n Bybel as geskenk ontvang. Kyk maar na die opregte en dankbare gesigte van mense wat die Woord van God in hul eie taal ontvang. Die musse en serpe, wat met liefde deur donateurs gebrei is, veroorsaak warm vreugde, want die volgende hawe is in China waar die temperature onder vriespunt is.
Die huisbesoek verander in ’n erediens wanneer ons saam om ’n tafel sit, ’n broodjie breek, en uit die Bybel gesels oor die genade van God en die liefde van Jesus Christus. Hulle vertel verhale van hul lewens, van ontberings en verlange, vreugdes en familie, worstelinge en geloof. Ons soek saam na God se antwoorde.
(Foto 15): Wiele aan die rol? Nee, op die hawe is dit die skroewe (propellers) wat draai om Jesus se groot opdrag in Matteus 28: 19 uit te voer.
(Foto 16): Die groot vragskepe bring die wêreld na ons toe. Dit is ’n geleentheid wat God voorsien om hulle met die evangelie te bedien en te versorg, soos die mamma-kolgans haar kleintjies.

2

5

8

11

14

3

6

9

12

15

4

7

10

13

16
