Op 24 September 2019, Erfenisdag, het die afgevaardigdes van die 72ste Algemene Kerkvergadering met ’n meerderheid stem besluit dat kultuurgebruike van die verlede waarin vroue verklaar word tot die swakker geslag en vroue die opdrag ontvang om gehoorsaam te wees aan hul mans en onderdanig te wees nie langer die erfenis is wat ons wil nalaat aan ons kinders nie.

Ons wil ’n nuwe toekoms skep waarin die waardes van die koninkryk van God, van gelykheid en gelyke regte vir almal, aangebied word as onderrig oor hoe ons in ons verhoudings met mekaar moet optree. Hierdie besluit is geneem deur die nuwe huweliksformulier (4) in die plek van die vorige huweliksformuliere (1-3) te aanvaar.

Dit was vir my persoonlik ’n blye dag, omdat die huweliksformuliere en die invloed wat dit wat daarin staan op vroue en mans het, al jare lank my navorsingsonderwerp is (MTh 2007 en PhD 2013). Dit was en is my betoog dat die patriargie wat onderliggend is aan die kultuur van die Bybel en die huweliksformuliere, die handhawing van bogenoemde uitsprake in formuliere, en die gebruik van Bybelverse los van die kultuur en konteks waarin dit staan, die oorsaak is van geweld teen vroue en ander minderheidsgroepe.

Hoewel die argument jare lank in die NHKA aangevoer word dat ons lank nie meer so patriargaal oor die huwelik en die verhouding tussen man en vrou dink nie, het die handhawing van die huweliksbevestingsformuliere (1-3) die invloed wat die patriargale rolle steeds op vroue het, geminimaliseer en subtiel ontken. Die kerk as geloofsgemeenskap speel ’n baie belangrike rol in hoe mense hul plek en rol in die samelewing verstaan.

Die huweliksformuliere wat vir eeue lank gebruik is om mense te onderrig oor hoe hulle hul rolle binne die huwelik moet verstaan, waarin mans die rol van die hoof en vroue die rol van die onderdaan toegeken is, het die norm geword wat geld – ook in die wyer samelewing. Dit het die manier geword waarop mag toegeken is aan een en weggeneem is van die ander.

Hierdie toekenning en wegneming van mag lei tot geweld. Hierdie geweld is nie net fisiese geweld nie: Dit sluit in om ander te verkleineer, te verneder, uit te sluit en mis te kyk. Hierdie verkleinering en vernedering van ander hoor ons dikwels in grappe wat vertel word; die uitsluiting en miskyk van ander sien ons wanneer vroue misgekyk en uitgesluit word wanneer daar oor leierskap gedink word.

Hierdie verkleinering, uitsluiting, afmaak, miskyk en geweld teen die liggame en psiges van vroue, sonder om te ontken dat geweld ook teen mans gepleeg word, het ongelukkig ook in die kerk vroue se realiteit geword.

Die 72ste AKV is bewus gemaak van die geweld wat nie net in die wêreld daar buite teen vroue gepleeg word nie, maar ook in konsistories, kerkraadsvergaderings en beroepsonderhoude. Hierdie geweld en seksuele teistering word sigbaar in opmerkings oor en ongewenste aanraking van vrouepredikante se liggame.

Dit is belangrik dat die kerk ook ’n veilige ruimte vir vroue moet wees. Daarom het die vergadering standpunt ingeneem teen die geweld wat gepleeg word teen vroue in die Kerk en beskrywingspunte 33-35 aanvaar waarin onder andere die volgende bevestig en besluit is: dat verbale en fisiese seksuele teistering nie in ooreenstemming met die evangelie is nie, en nie vir die Kerk aanvaarbaar is nie; dat die etiese kode van die Hervormde Kerk uitgebrei sal word om seksuele teistering in te sluit; dat ’n prosedure vir die aanmelding van seksuele teistering binne die Hervormde Kerk ontwikkel sal word; dat dit deel sal vorm van die Kerkorde se riglyne oor opsig en tug; en dat ’n liggaam vir die aanmelding van seksuele teistering en onregverdige arbeidspraktyk binne die Hervormde Kerk daargestel sal word.

Daar is ook besluit om die etiese kode van die Hervormde Kerk uit te brei sodat onregverdige arbeidspraktyk daardeur behandel sal word. ’n Prosedure vir die aanmelding van onregverdige arbeidspraktyk binne die Hervormde Kerk sal ontwikkel word, en die prosedure sal opgeneem word in die Kerkorde onder die tersaaklike ordinansies. ’n Liggaam binne die Hervormde Kerk sal daargestel word waar onregverdige arbeidspraktyk aangemeld kan word.

Die vergadering het bevestig dat die Woord van God ons leer dat alle mense voor God gelyk is; dat God vir elke mens talente en gawes gegee het om in diens van God se koninkryk te gebruik; dat die Kerk verskillende mense (vroue en mans) se talente en gawes sal benut sodat ook vroue betrokke sal wees by alle fasette van kerkwees: in rade, vergaderings, komitees en leierskapstrukture. Die vergadering het ook besluit dat die Kerk sorg sal dra dat God se onvoorwaardelike liefde vir alle mense in kerklike en teologiese taal gereflekteer sal word; dat daar respek sal wees vir mekaar se menswees; en dat God se inklusiewe liefde die leidende beginsel sal wees vir ons optrede teenoor mekaar.

Dit is dalk moeilik om te verstaan waarom die Kerk besluite moet neem oor sake wat veronderstel is om vanselfsprekend so te wees, maar dit is die realiteit waarin ons leef. Gelowiges doen dikwels mee aan die afbreking, vernedering en geweld wat in die wêreld gepleeg word.

Dit is my mening dat die Kerk met die neem van dié besluite ’n positiewe tree vorentoe gee, om dit wat ons al jare lank sê, in woorde maar belangriker nog in ons dade, in ons optrede, te laat realiseer. Wanneer God se onvoorwaardelike inklusiewe liefde die leidende beginsel is en word in ons verhoudings met mekaar, word die geloofsgemeenskappe (gemeentes) waar ons leef die veilige ruimtes wat ons almal nodig het, kring dit wyer, word die gemeenskap waar ons leef geweldvrye sones waarin almal, vroue en mans, vreesloos kan leef.

So neem die Kerk ’n leidende rol om gemeenskappe te skep waarin almal se gawes en talente ewe waardevol geag word. Die erfenis wat ons nalaat, doen dan mee aan die skep van ’n nuwe toekoms, ’n nuwe wêreld, waarin die waardes van God se koninkryk, na die voorbeeld van Jesus, geleef word.

(Dr Annelie Botha is leraar in Gemeente Mafeking)

af
af
Deel met behulp van
Copy link