Die Hebreeuse woord shema se betekenis strek veel verder as net om te hoor. Shema vra dat ons met volle aandag sal luister, dat ons met begrip sal inneem en dat ons met oorgawe sal reageer. Hoor sluit gewoon doen in. Wanneer ons dus in Deuteronomium 6: 4 en 5 (AFR83) die opdrag kry om te hoor of te luister, impliseer dit ook dat ek met alles in my sal reageer op die roepstem van die Here. 4Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. In die gedeelte wat hierop volg, word dit duidelik dat hierdie shema/hoor van God se roepstem vra dat ons met alles wat in ons is, te alle tye, en op alle plekke volledig diensbaar moet wees.  

Daar is talle voorbeelde uit die teologie en kerklike geskiedenis wat hierdie volledige luister na ’n roepstem illustreer.

Vader Frans Claerhout, ’n Belgiese sendeling wat vir die grootste deel van sy hele lewe in Suid-Afrika werksaam was, was ook ’n bekende skilder. Trouens, dit is nie vreemd om in vriende, familie of kennisse se huise te kom en ’n moeder, donkie of die son in ’n kruiwa teen ’n muur te sien hang met sy handtekening wat daarop pryk nie. Claerhout het tydens ’n onderhoud wat in 1999, sewe jaar voor sy afsterwe in 2006, met hom gevoer is, gemeld dat hy beide ’n priester en ’n kunstenaar is, en dat die twee rolle nooit afsonderlik van mekaar gesien moet word nie. Hy was adamant daaroor dat dit nie twee kante van ’n muntstuk is nie, maar eerder een geheel. Hy het genoem dat hy nie ’n gedeelte van sy werksdag afsonder om te skilder nie, of ’n gedeelte van die dag afsonder om kerklike werk te verrig nie. Sy bestaan was gewoon een geheel. Sy skilderye was sy kerkwerk en sy kerkwerk het gemaklik in sy skilderye gevloei.

Claerhout het ter illustrasie hiervan, met die geld wat hy uit sy kuns verdien het na bewering 20 kerkgeboue laat oprig, etlike huise vir families in nood laat bou en agt voertuie gekoop waarmee skoolkinders onder andere vervoer is. Hy het gepoog om die vreugde wat Christus in almal se lewens ingedra het, uit te beeld. Sy kuns was dus ’n gereedskapstuk waarmee hy die Blye Boodskap verkondig het. Sy verkondiging het inhoud aan sy kuns gegee. Claerhout se luister na die roepstem het volledig grondgevat.

Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s tereggestel is, het op soortgelyke wyse van volledige of heel Christenskap gepraat. Om gedeeltelik as gelowige te leef, het nie vir hom sin gemaak nie. Bonhoeffer het heelwat hieroor in ’n boek geskryf wat ná sy dood gepubliseer is. Hierdie boek, Ethik, is deur ’n redakteur saamgestel uit inligting wat in Bonhoeffer se studeerkamer gevind is.

Ethik onderskei tussen vier goddelike mandate wanneer dit van geloof praat:
Werk: Dit is by uitstek die ruimte waarbinne jy jou gehoorsaamheid en diens sigbaar kan maak. Werk en geloof is nie afsonderlike nisse in jou lewensmuur nie. Jy werk met geloof en is biddend besig met jou alledaagse take.
Huwelik en familie: Hierdie verhoudings dien as goddelike roepings om na jou eie mense en wyer na die gemeenskap om te sien. Die gesig wat jou gesin ná ’n dag se werk begroet, is jou geloofsgesig.
Regering: Jou geloof en jou verhouding met leierskap behels dat jou hele wese deurgaans streef na reg en geregtigheid en na dit wat vir ’n gemeenskap heilsaam is.
Kerk: Dit is nog ’n ruimte of geleentheid waarbinne ons leer hoe om ware volgelinge van Christus te wees.

Bonhoeffer se gees van wees in plaas van bylas het geloof in voortdurende beweging in alle ruimtes en werklikhede voorgestel.

Die apostel Paulus is waarskynlik die bekendste voorbeeld hiervan. Sy daaglikse brood wat met tentmakery te make gehad het, was deel van sy menswees en deel van sy soeke na God, en verhouding met God.

Dit wil soms vir my voorkom asof die politiek van die dag, en hartseer genoeg ook kerklike politiek, die gees en taal by werksplekke, die atmosfeer en nonchalante omgang met mekaar in huishoudings en les bes die vroomheid binne kerkgeboue té dikwels ons menswees in kleiner deeltjies opbreek. Skynbaar glo heelparty individue dat vreemde politiek vreemde optrede regverdig, optrede buite die grense van ons Heer se liefdesgebod. Laat sak jou geloofskerm maar by die huis, want hier kan die ware ek leef en die ware ek lyk anders as die Sondag-ek. My werksplek is ’n ruimte waar vreemde, liefdelose gedrag geduld kan word, want die besigheidwêreld is immers ’n harde wêreld.

Ek is ’n skilder én ’n priester, ’n apostel én ’n tentmaker. Ten volle vir die Here beskikbaar – áltyd en binne elke ruimte. 

Hoe tragies dat kerke, soos onlangs, só remmend in hul besluitneming is dat shema slegs selektief vir sommige in sekere ruimtes geld.