Op Sondag 12 Januarie om 09:00, presies 50 jaar nadat ek deur my skoonpa ds PG van Staden in Gemeente Benoni in die amp georden en bevestig is, het ek en my vrou die geleentheid in Gemeente Boksburg herdenk. ’n Aantal goeie vriende, ook uit vorige gemeentes, het die geleentheid bygewoon.

Ek het die erediens gelei na aanleiding van 2 Korintiërs 4: 7: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

Die diens is via Facebook gestroom wat ons kinders en kleinkinders in Australië die geleentheid gebied het om deel te wees van die besondere dag vir ons as familie.

Na afloop van die erediens was die susters van Gemeente Boksburg gereed met koffie en tee en heerlike eetgoed. Ons is baie dankbaar teenoor die gemeente.

Hoewel dit ’n besondere geleentheid vir ons was, wou ons graag daarteen waak dat dit ’n geleentheid van menslike roem word. Ons het gevolglik geen toesprake gereël nie, behalwe dat ek my dank na die tyd uitgespreek het teenoor God, die Kerk, familie en vriende. Ons is dankbaar dat my seun, Jaco, ons kleindogter, Marli, en swaer, Jurie Botha, deel kon neem aan die liturgie terwyl my skoonsuster, Magda Botha, die orrelbegeleiding waargeneem het.

Ds Janse van Nieuwenhuizen het diens gedoen in Gemeentes Benoni, Silverton, Coligny, Springs-Oos, Springs-Suid en Witfield. Hy aanvaar emeritaat in 2012, maar dien steeds van 2014-2019 in Gemeente Witfield.

Ds Theo Janse van Nieuwenhuizen saam met sy vrou, Anna-Marie, hul seun, Jaco, skoondogter, Janine, en kleindogter, Marli

Van links is mev Magda Botha, mev Anna-Marie Janse van Nieuwenhuizen, ds Theo, mnr Jurie Botha en me Lianie Botha

Share via
Copy link
Powered by Social Snap