Dit is Maart 2020. Die president van Suid-Afrika kondig ’n grendeltydperk vir die land aan. My derdejaarstudente sou die volgende dag ’n semestertoets geskryf het – maar alles moet toemaak, met byna geen menslike interaksie nie. Só begin ’n tydperk in my lewe waartydens ek blitsvinnig nuwe vaardighede moes aanleer.

Ek en my akademiese kollegas by die Universiteit skrik ons eers boeglam. Toe begin ons protesteer, en brom oor al die bykomende hooi op ons vurk. Binne ’n japtrap (wel, 3-6 maande) moes ek leer om Zoom Video Communications te gebruik, asook Microsoft Teams, Google Meets, Adobe Connect, Moodle Online Learning en die Universiteit se Blackboard Learning, met die Blackboard Collaborate Spaces en Turnitin-Assignments. Daar moes ek nuwe maniere bedink om kennis te toets en lesingsinhoud aan te bied.

Net toe ek regtig dink ons kan maar kollektief asem skep, toe verskyn die ChatGPT-geselsbot in November 2022. Eers ’n bietjie agtergrond: Dit is ’n vorm van kunsmatige intelligensie wat in staat is om ’n geselsie met jou aan te knoop en jou vrae te beantwoord oor “die lewe, die heelal en alles anders” (in verwysing na Douglas Adams se wetenskapfiksie storieboek The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy). Ek skryf laasgenoemde opmerking doelbewus tong-in-die-kies en hiperbolies – juis omdat dit mense se reaksie op die geselsbot (chatbot) se ontstaan is. Ek is doodseker dat van ons lesers die tegniese aspekte van hierdie kunsmatige intelligensie in fyner besonderhede as ek sou kon uiteensit en as ek tegniese flaters begaan, aanvaar asseblief by voorbaat my verskoning. My doel hier is nie om ’n tegniese uiteensetting van hierdie nuwe stuk tegnologie te gee nie. Ek wil eerder op die bestaan daarvan reflekteer, en bied daarom net ’n klein stukkie agtergrond.

Soos my vertelling oor die grendeltydperk uitgewys het, bevind ons ons in die era van die Vierde Industriële Revolusie, wat ’n paradigmaskuif beteken vir hoe ons dink en leef. Die uitstaande kenmerk van hierdie nuwe industriële omwenteling is dat dit geheel en al met die ontwikkeling van tegnologie verband hou en die wyse waarop die mensdom en tegnologie in harmonie (of disharmonie) saam bestaan. Selfs voor die grendeltye wêreldwyd is ons lewe toenemend deur tegnologie beïnvloed, en is ons toenemend afhanklik van tegnologie. Ek ken nie iemand wat nie op ’n algemenekennisvraag antwoord Kom ons vra gou vir Google, en dan vinnig die selfoon (mini-rekenaars, elkeen van hulle) uitpluk. Is ons verbaas dat Google (of ’n soortgelyke kunsmatige intelligensie) by ons geleer het? Kan ons regtig onkunde of skok pleit as ons vir ’n rekenaar alles maar alles vra, en verwag dat die rekenaar nie inligting versamel, leer om beter op ons navrae te reageer en met meer gesofistikeerde antwoorde vorendag te kom nie?

ChatGPT, wat staan vir Chat Generative Pre-trained Transformer, is ’n stuk tegnologie wat kan reageer (“praat/gesels”), dink, inligting versamel, en dit vir jou in jou voorkeurformaat aanbied. Jy skakel jou rekenaar of selfoon of tablet aan, teken op die internet aan, soek vir “ChatGPT”, laai die program af, registreer – en begin dan “gesels”. ChatGPT kan egter ook, as ons bepaalde sleutelwoorde en vrae op die aanlyn platform intik, blykbaar verstommende funksies verrig. As ek die mediadekking daaroor lees, kollegas se Facebook-inskrywings glo en meningstukke in dagblaaie volg, dan kan ChatGPT min of meer die volgende wonderwerke verrig: Dit kan gedigte skryf, preke formuleer, begrotings opstel, ganse opstelle skryf, gesofistikeerde analises van enige onderwerp aanbied, dit kan ook referaatvoorstelle skryf, soos een van my PhD-studente laat weet het toe ek hom uitnooi om aan ’n konferensie deel te neem. In hierdie stadium is daar in my onmiddellike kring meestal pandemonium en ’n algemene houding dat die apokalips eindelik vir die mens aangebreek het, want masjiene gaan ons nou volledig vervang. Só lees ek van die repliek wat meestal op die beperkinge van die ChatGPT geselsbot fokus: Dit skryf karakterlose preke, daar is nie oemf in daardie gedig nie en daar is nie “siel” in die toneelstuk nie. Dit is alles geldige reaksies, want die gekompliseerde manier waarop die bot inligting versamel en dit kategoriseer en later self op die bot se eie antwoorde reageer, is, wel – kunsmatig.

Tog hoop ek dat daar anderkant ons eg menslike reaksie – skok en protes – iets anders te vinde sal wees – uiteindelik.  Só lees ek op LinkedIn die interessante artikels en voorstelle oor die gebruik van ChatGPT wat deur prof Irma Eloff (vooraanstaande opvoedkundige hier by UP) geplaas word. Dit sluit byvoorbeeld in dat studente (en eintlik ons almal) deur middel van ondersoek en toepassing leer, en nie net deur gememoriseerde inligting wat ons konteksloos moet neerskryf of uitspoeg nie. Wat dit regtig vir ons uiteindelik gaan beteken, is ’n ope vraag. Die mensdom is met elke industriële revolusie met soortgelyke konseptuele veranderinge gekonfronteer wat ingrypende praktiese implikasies gehad het op leefpatrone, werksgeleenthede en stedelike en landelike ontwikkelings. Dit was die filosoof Thomas Kuhn  en die teoloog Hans Küng wat my aan die idee van paradigmaskuiwe bekendgestel het. Die mensdom (en ook die kerk!) is al deur verskeie paradigmaskuiwe gekonfronteer en ons het almal oorleef. ChatGPT gaan van ons nog ’n paradigmaskuif vra. Menslike uniekheid kan nie vervang word nie en vrese wat daaroor aangeblaas word, is kortsigtig en nutteloos. Maar, as ons eerlik is, het ons as mensdom ’n bietjie hulp nodig, want as ek rondom my kyk, verloop alles nie klopdisselboom nie.

Ek het die vertroue dat ons menslike ondernemingsgees sal triomfeer, en dat God die nodige toerusting en veerkragtigheid vir ons gee om aan te pas by veranderde tye. Daarom klink die woorde van ’n Nederlandse lied wat ons dikwels in die gemeente sing, by my op:

Wat de toekomst brengen moge,
mij geleidt des Heren hand;
moedig sla ik dus de ogen
naar het onbekende land.
Leer mij volgen zonder vragen;
Vader, wat Gij doet is goed!
Leer mij slechts het heden dragen
met een rustig kalme moed.

(Prof Tanya van Wyk is medeprofessor in Sistematiese en Historiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria)