Dr Robert van Niekerk het in Augustus 2024 sy PhD in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Die titel van sy proefskrif is Honour and shame in Revelation: A social-scientific reading of Revelation 2-3.
In die proefskrif word neurologiese en kruiskulturele antropologiese modelle rakende godsdienstige en mistiese ervaring (alternate states of consciousness), eer en skaamte, beperkte middele, persoonlike identiteit, en godsdienstige lewe gebruik om Openbaring 2-3 te lees. Hierdie modelle bied ’n betekenisvolle en kultuursensitiewe verstaan aan van hoe die Jesus-groepe van Openbaring hul werklikheid sou verstaan het. Daar word aangevoer, deur die gebruik van hierdie modelle, dat Openbaring Johannes van Patmos, ’n eerste eeuse Jesus-groepprofeet, se getuienis van werklike godsdienstige ervaring bevat. Hierdie getuienis het ten doel gehad om die Jesus-groepe van Openbaring aan te moedig om ’n alternatiewe wêreldbeeld aan te neem. ’n Belangrike element van hierdie alternatiewe wêreldbeeld is dat eer in die oë van die wêreld skandelik in God se oë is, en skande in die oë van die wêreld eervol is in die oë van God. Gevolglik sou Openbaring nie deur hierdie Jesus-groepe gelees en gehoor word as ’n versameling van kriptiese en deurmekaar simbole nie, maar as betekenisvolle en duidelike kommunikasie aan sewe Jesus-groepe in Klein-Asië.
Dr Van Niekerk is met ingang van 2025 ’n dosent in die Departement Nuwe Testament en Verwante Literatuur. Ons sien uit na sy artikel wat gegrond is op sy navorsing in die Mei-uitgawe van Die Hervormer.
